Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aardklop
Bekroonde ‘DEURnis’ bevat heelwat eerstes
Bertha le Roux en Dewald van der Merwe in Rouer, een van DEURnis se 20-voor-2-produksies.

DEURnis, die gewilde een-tot-een-teaterproduksie en wenner van die Blou Fiësta vanjaar, is terug by die Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom.

Daar is 12 nuwe stukke wat op sigself ’n paar eerstes bevat – soos ’n eerste riller en ’n animasie-installasie wat deel uitmaak van die stuk.

Befaamde teaterskeppers soos Nico Scheepers en Philip Rademeyer het aan sommige tekste gestalte gegee, en die sopraan Marina Botha-Spies maak haar buiging in DEURnis met die produksie BA(R)rok.

DEURnis, ’n eerste vir Suid-Afrikaanse teater met net een speler en net een gehoorlid, is in 2016 die eerste keer in Pretoria opgevoer en in 2017 was Aardklop ook die eerste fees waar dit aangebied is.

Dit speel ook nie in ’n teater af nie, maar in ander lokale, en die gehoorlid mag nie reageer op wat voor hom/haar opgevoer word nie.

"Die gehoor mag wel reageer (lag, huil, wat ookal), maar word aangeraai om nie 'n gesprek met die akteur aan te knoop nie," sê Rudi Sadler wat saam met Johan van der Merwe as Theatrerocket die vervaardigers is.

“Ons fokus op goeie stories deur goeie skrywers, ongeag of hulle bekend is of nie,” 

Die riller, Gra(a)f, is ’n teks deur Henque Heymans met Herman Vorster as speler.

Ignatius van Heerden is die skepper van Droom, wat animasie insluit. Van Heerden is ook die speler en hy het die choreografie vir die stuk gelewer met Lihan Pretorius as die regisseur.

Scheepers is die skrywer en regisseur van die produksie Witvlag waarin Llewellyn Steenkamp optree.

Rademeyer is die teksskrywer en Lara Louw die regisseur van Wieg met Zelda Roelofs in die solorol.

Van der Merwe sê dat die pakkette so saamgestel is dat ’n goeie balans van verskillende soorte stories aangebied word.

“Geen pakket het dieselfde skrywers of spelers nie. Ongeag die tema, moet daar nog steeds menslikheid en deernis in die stukke bly.”

Sadler sê benewens die 12 solostukke wat nou nuut ontwikkel word, bied ook voor vir 20-voor-2 aan. Dit is stukke met twee akteurs wat vir 20 gehoorlede speel.

Akteurs soos Drikus Volschenk, Bertha le Roux en Andre Lötter tree hierin op.

“Dit is egter ook nie tradisionele teater nie,” sê Van der Merwe. Dit is plekspesifiek en die 20 gehoorlede word in ’n vertrek geplaas met die twee spelers tussen hulle. Die gehoor is ook nie bloot net ’n gehoor nie. Hulle speel eintlik ook ’n rol, so dalk sal hulle meer reageer. Daar is byvoorbeeld een produksie, Droog, wat oor water gaan en waar elke gehoorlid met ’n leë emmer staan en wag vir water.”

Twee lokale word vir 20-voor-2 gebruik.

DEURnis het vanjaar die prys ontvang vir beste produksie op die Vrystaat Kunstefees, en onlangs het dit ook ’n ATKV Woordveertjie vir beste teaterteks losgeslaan.

“Ons is baie bevoorreg,” sê Sadler. “Toe ons begin het, was dit ’n eksperiment. Ons het nie geweet hoe dit sou uitdraai nie. Dit is egter nie net ’n gimmick nie. Dis goeie teater.”

DEURnis se produksies het verskillende ouderdomsbeperkings.

* DEURnis se speelvak by Aardklop is moontlik gemaak deur NATi en AK21.

* Besoek aardklop.co.za om vir DEURnis te bespreek.

Aardklop word van Dinsdag tot Saterdag aangebied.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.