Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aardklop
Casper wéér vol woema vir verhoog, TV
Casper de Vries en Schalk Bezuidenhout is saam op Aardklop in aksie in Schalkie en Cassie hou konsert! Foto: Jaco Bothma

Nadat die komediant en akteur Casper de Vries vir ’n wyle ’n blaaskans geneem het, is hy weer met mening terug in die kalklig.

Nie net deel hy vanjaar die verhoog met die komediant en akteur Schalk Bezuidenhout op Aardklop nie, maar hy maak ook voor die einde van die jaar sy debuut in ’n pantomime as die booswig Evil Hendrik Hideosa in Janice Honeyman se Jack and the Beanstalk.

De Vries sê “die ou ruskansie van die verhoog” het hom goed gedoen en nuwe energie gegee om selfs weer eenmanvertonings – soos sy treffers Walgwors, Wetter, Toet & Taal, DiMensie, Mondig of Vark in hel – en televisiewerk te oorweeg.

“Ek voel die tyd is weer ryp en daar is baie positiewe vooruitsigte vir ’n groot show (’n eenmanvertoning),” sê hy.

“Mens raak moeg en uitgebrand, maar nou, stelselmatig, kry ek al hoe meer en meer die ‘smaak te pakken’ om weer ’n show te doen.

“Ek was ook baie lank weg by televisie, ook vir baie redes, maar daardie talent en interesse in televisie – skryf, akteurspel, regisseer, redigeer – is alles in my bloed. Ek love dit, so daar mag dalk iets in dié verband ook kom.”

Vir eers fokus De Vries op die vertoning Schalkie en Cassie hou konsert!, wat reeds by die Vrystaat Kunstefees en Innibos opgevoer is en volgende op Aardklop 'n draai maak. Die duo hoop om dit landwyd aan te bied.

“Schalk is soos ’n kindred spirit; ons is van dieselfde stoffasie. Hoewel ons baie generasies uit mekaar is, weet jy wanneer jy te doen het met iemand wat soos jy dink en dieselfde aanvoeling het vir dinge, veral komedie,” sê hy. “Ek dink hy geniet dit om met my saam te werk omdat ek stokoud is en meer ondervinding het, maar ook omdat ons dieselfde manier dink, al is ek generasies ouer.”

Terwyl ’n mens iets geniet, moet jy dit doen. Ek het ook geleer dat jy self moet besluit wat jy volgende wil doen. As jy in die gelukkige posisie is wat ek is, kan jy self kies wat jy wil doen, en dan kies jy iets wat jy geniet – so maklik soos dit, en dan is alles ’n jol.
Casper de Vries

In die skerpskertsvertoning gaan die grapkasse terug skool toe.

“Dit gaan oor ons skoolloopbane – weer eens ’n ideale geleentheid om ons verskille en ooreenkomste van ons skooldae te bekyk. Dis eintlik ’n baie fun show waar ons openlik en openhartig gesels oor ons verskeie prestasies en mislukkings op skool en wat ons alles geleer het.”

In sy loopbaan, wat amptelik in 1986 begin het, het De Vries self baie lesse geleer.

“Terwyl ’n mens iets geniet, moet jy dit doen. Ek het ook geleer dat jy self moet besluit wat jy volgende wil doen. As jy in die gelukkige posisie is wat ek is, kan jy self kies wat jy wil doen, en dan kies jy iets wat jy geniet – so maklik soos dit, en dan is alles ’n jol.”

Juis daarom het hy tyd gemaak om ook vanjaar in sy eerste pantomime te speel.

“My vriende was al daarin (Janice Honeyman-pantomimes) en ek het na repetisies gaan kyk en gedroom om dit eendag te doen. Dis die tipe ding waarvan ek hou – jy kan lekker mal gaan – so ek sien verskriklik uit daarna. Hopelik is dit nie die laaste een nie.”

  • Schalkie en Cassie hou konsert! word op 25 September om 20:00 in die Snowflake by die Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom aangebied. Kaartjies teen R120 (R80 vir studente) is by Ticketpro beskikbaar. Die ouderdomsbeperking is 14 T.
  • Jack and the Beanstalk word tot drie keer per dag van 2 November tot 22 Desember in die Joburg-teater in Braamfontein opgevoer. Kaartjiepryse begin by R225. Bespreek by Webtickets. Besoek www.joburgtheatre.com of skakel 0861 670 670 vir meer inligting.
Meer oor:  Teater  |  Aardklop  |  Tv  |  Schalk Bezuidenhout  |  Casper De Vries
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.