Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aardklop
Cintaine in debuut van 'Dinge van ’n kind’ op Aardklop
Cintaine Schutte
Cintaine Schutte as Mart Vermaak in Die dinge van ’n kind. Foto: Robert Hamblin

Die verlies aan drome en onskuld en hóé ’n mens onthou, bied veral stof tot nadenke in die solostuk Die dinge van ’n kind.

Dit debuteer by die Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom wat van 24 tot 29 September duur.

Cintaine Schutte vertolk die rol van Mart Vermaak, die hoofkarakter in Marita van der Vyver se gelyknamige roman oor die Grensoorlog, tienerhormone, swangerskap en seks.

“Dit is ’n baie spesifieke ervaring van een mens, hoewel dit baie universeel is,” sê Nicole Holm, die regisseur.

’n Jonger en ’n ouer Mart word leer ken.

Die jonger Mart is nog op skool en in die koshuis, maar sy maak klaar met die dinge van ’n kind in ’n tyd van politieke leuens, wit seuns wat op die grens doodgaan en swart kinders wat in plakkerskampe geskiet word.

“Van die gebeure was voor my tyd, maar dit gaan sit onmiddellik in jou lyf,” sê Holm.

“Die stuk maak nie politieke stellings nie, maar dit bevat wel politieke inhoud. Daar is parallelle met vandag as ’n mens dink aan ballingskap, mense wat landuit is. En vandag is die emigrasiesyfers glo die hoogste nóg.”

Francois Toerien het die roman vir die verhoog verwerk en Schalk Joubert is vir die musiek verantwoordelik.

“Ek het baie gesteun op klank in die produksie,” sê Holm.

“Die hoor van iets, die gevoel wat dit by ’n mens wek. Ons probeer om ’n volronde wêreld te skep met Cintaine se vertolking.”

Cintaine Schutte tree op in die solostuk Die dinge van ’n kind wat volgende week by die Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom debuteer.Foto: Robert Hamblin

Schutte is gedurende Paasnaweek vanjaar genader om in die produksie te speel. Sy wou eers die boek lees voordat sy ’n antwoord kon gee.

“Ek het daardie boek in ’n aand en ’n oggend gelees omdat dit my so meegevoer het,” sê Schutte.

“Ek het daar en dan besluit ek kan nie hiervoor nee sê nie.”

Van der Vyver se boek het in 1994 by Tafelberg verskyn.

“Daar sal altyd die hard-aanhangers wees wat die boek ken en natuurlik is daar dele van die boek wat nie ingesluit is nie, anders sou ek vier uur lank op die verhoog gestaan het. Ek hoop en vermoed al die groot temas van die boek bly steeds die goue draad in die stuk. Ek het die boek ’n paar keer gelees om my met die subteks van die storie te help.”

Die stuk fokus baie op hoe Mart die gebeure onthou.

“Soms speel ons in die oomblik. Ek lê by die swembad en lees vir hulle uit die koerant oor wat gebeur as ’n man te veel dagga rook. Maar baie keer is daar net brokkies van wat Mart onthou. Jy weet nie altyd of jy in die ouer Mart se woonstel in Londen is en of dit nou die jonger Mart in die koshuiskamer is nie.”

Schutte beklemtoon ook die klimaat van die tydperk waarin die storie afspeel.

“Jy lees in die boek van die eerste demokratiese verkiesing wat waarskynlik op 27 April gehou sal word. Dit is iets wat nog op pad is. Hierdie vrou sit in Londen met haar kind en sy moet ’n besluit oor haar toekoms neem. Dit herinner ’n mens ook aan ander se wroegings, kwellings en verwagtinge. Die temas eggo nog baie in die politieke klimaat in die land.”

* Die dinge van ’n kind se vertonings by kykNET Gimmies is op 24 en 26 September om 13:00, op 27 September om 20:00 en op 28 September om 09:30. Die produksie word deur NATi en die LW Hiemstra Trust ondersteun. Dit duur 90 minute en het ’n ouderdomsbeperking van 16. Kaartjies kos R145. Bespreek by Ticketpro.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.