Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aardklop
Davids se ‘Queenie’ belig nood van haweloses
Christo Davids. Foto: Deon Raath

’n Kort teks wat Lloyd Davids, dramaturg en regisseur, reeds teen die einde van die 1980’s voltooi het, is onlangs deur sy bekende neef Christo Davids afgestof, verleng en vir die verhoog verwerk.

Die gesamentlike eindproduk, Queenie-hulle, beloof om op Aardklop die kollig te steel, waar dit vanjaar debuteer.

Dié tragikomedie gaan oor ’n groep haweloses wat op die stoep van die Good Hope-sentrum in Kaapstad woon. Hulle ontvang ’n uitsettingsbevel wat tot ’n rits probleme lei, sê Christo Davids.

“Dit gaan oor mense wat saam met ons leef, maar nie as deel van ons beskou word nie. Dit vertel die storie van die man of vrou wat bakhand by die verkeerslig staan, wat ons óf ignoreer óf ’n vyf rand gee. Hierdie mense het ook ’n storie.”

Hy sê die proses om die teks van die 1980’s tot die hede te verplaas, was redelik eenvoudig “omdat die omstandighede vir haweloses in ons land nie veel verander het nie”.

“Vermoorde hoop is een van die temas wat in hierdie verhaal behandel word. Ons almal het drome, maar wat is die kans dat iemand sonder ’n dak oor sy of haar kop se drome bewaarheid sal word – en wat doen ek en jy om hierdie mense die lig te laat sien?”

Ons almal het drome, maar wat is die kans dat iemand sonder ’n dak oor sy of haar kop se drome bewaarheid sal word – en wat doen ek en jy om hierdie mense die lig te laat sien?
Christo Davids

Ondanks die stuk se erns, sê Davids dit was aangenaam om vir die eerste keer saam met sy oom te werk.

“My oom bly op Worcester en ek in Johannesburg, so ek sou maar die verskillende weergawes vir hom e-pos en dan hoor wat hy sê.”

Die grootste les wat hy by sy oom geleer het, is: “Jy is nooit groter as die storie wat jy vertel nie.”

Die rolverdeling van Queenie-hulle sluit Jill Levenberg, Brendon Daniels en Louw Venter in. Davids het Levenberg vier jaar gelede al genader om dié rol te vertolk.

Daar is ’n aardsheid aan Jill (Levenberg) wat ek gevoel het die rol van Queenie nodig het. Ek sien baie uit na hoe sy groei in die rol.
Christo Davids

“Daar is ’n aardsheid aan Jill wat ek gevoel het die rol van Queenie nodig het. Ek sien baie uit na hoe sy groei in die rol.”

Hy kan ook nie oor Daniels en Venter, saam met wie hy al in onderskeidelik Siener in die suburbs en die bekroonde My seuns gewerk het, uitgepraat raak nie.

“Benewens die feit dat hulle baie besonderse talente is, is hulle ook verskriklik toegewyd aan hul werk,” sê hy.

“Dis vir my ’n plesier om saam met hulle te skep. Ons het ’n goeie verhouding binne en buite die teater. Daar is niks beter as om saam met mense te werk by wie jy die heeltyd leer nie.”

Davids, wat die meeste lesers dalk as Errol Pieterse in 7de Laan sal onthou, is egter nie self in die stuk te sien nie. Dié keer vervul hy die rol van dramaturg en regisseur – hoedanighede waarvoor hy al bekroon is. Sy stuk My seuns is verlede jaar met ses pryse by Aardklop vereer, waaronder twee vir sy teks en regie.

Hy sal die triade – akteurspel, dramaturg en regisseur – in die toekoms in gelyke mate wil vervul.

“Ek vat dit maar soos dit kom, maar ek sal altyd al drie bly. Dis waar my passie lê – in alle aspekte van die teater. Dis altyd lekker om in verskillende hoedanighede ’n hand in ’n projek te hê.”

  • Queenie-hulle word op 24 September om 16:00, 25 September om 20:00, 26 September om 09:30, 27 September om 17:00 en 28 September om 17:30 in die Banketsaal by Aardklop opgevoer. Kaartjies teen R160 is by Ticketpro beskikbaar. Die ouderdomsbeperking is 16 T.
Meer oor:  Teater  |  Christo Davids  |  Aardklop  |  Queenie-Hulle  |  Jill Levenberg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.