Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aardklop
‘Dinge van ’n kind’ is ‘weerloos, fragiel’

Francois Toerien se verhoogteks van Marita van der Vyver se roman 'Die dinge van ’n kind' het Deborah Steinmair “so pynlik helder” herinner aan “die broosheid, onskuld, onsekerheid, verwarring en die vrees” van haar grootwordjare. Sy het die produksie, wat hopelik landwyd sal draai, vier sterre gegee. 

Cintaine Schutte in Die dinge van ’n kind. Foto: Aardklop

Marita van der Vyver se onvergeetlike Bildungsroman het in 1994 verskyn. Dit is as ’t ware ’n apologie, ’n verduideliking van waarom sy landuit is. Dis in 1998 op die KKNK opgevoer – en 25 jaar ná die roman se verskyning laat Francois Toerien dit met groot sensitiwiteit as verhoogteks herleef.

Die produksie is weerloos en fragiel, soos grootword. Cintaine Schutte as die verteller, Mart Vermaak, spreek in 1994 as volwassene in Londen die wens uit om weer te weet presies hoe dit voel om 16 te wees, nie vaagweg te onthou nie, maar te ervaar.

Van der Vyver, Toerien, Schutte en die regisseur Nicole Holm slaag daarin om my dit te laat voel. Ek was ook in die 70’s ’n tiener en die produksie herroep so pynlik helder die broosheid, onskuld, onsekerheid, verwarring en die vrees van grootwordjare in ’n skisofreniese, gewelddadige land waar leuens hoogty vier. Waar magsjagse ou mans hul eie kinders offer op die altaar van gierigheid en beheer. Waar die kerk oor maagdelikheid waak.

Wat wel deurskemer, is dat niks, geen indoktrinasie, sensuur of magsvertoon dit heeltemal kan demp nie; die onskuld, die verwondering van nuwe vlerke, hormone, drome, geheime. “A time it was and what a time it was, a time of innocence, a time of confidences.” [Paul Simon]

O ja, en die klankbaan (deur Schalk Joubert) is oorrompelend evokatief. Die 1970’s het songs gehad.

Schutte skyn helder en vernietigend soos ’n verskietende ster. Soos dit ’n meesterstorieverteller betaam, improviseer sy met net ’n paar rekwisiete: stapels ou koerante en briewe, ’n tuinstoel en -tafeltjie en neem sy die persoonlikhede, uitdrukking en spreekwyse van al die karakters aan, met minimale verstelling.

(Cintaine) Schutte skyn helder en vernietigend soos ’n verskietende ster.
Deborah Steinmair

Die naïewe Mart moes op 16 koshuis toe nadat haar prokureur-pa begin boer. Dis die bloedige jaar van die Heer 1976. Haar kamermaat, Dalena, is wêreldwys, stout en dapper – sy het op die dorp loseer, maar is koshuis toe nadat sy saam met haar hospita se broer in die stort betrap is. Mart se dishy broer, Simon, wat in die weermag is, tref ook haar oog.

Mart het al ’n seun gesoen, maar agterna niks vir hom gevoel nie. Sy sou graag verlief wou wees. Haar broer se vriend Pierre is progressief en sinies oor diensplig en die oorlog in Angola. Hy verklaar dat die een mens se terroris ’n ander se vryheidsvegter is. Een aand in iemand se huis in Pretoria soen hy haar ooglede en drink haar trane. Hy erken dat hy altyd bang is. Hy sterf in ’n mortieraanval. Mart se reaksie is: Niemand het hom gevra nie, waarskynlik sou hy eerder nie ’n dooie held wou wees nie.

Selfdood, tienerswangerskap, ontnugtering en verlore kinders word verken. En heimwee en liefde.

Om ’n droom te verloor, sê Mart, is die ergste verlies – om terug te kyk op jou jeug en te besef dat jy deel is van ’n verlore generasie.

Daar is tans ’n oplewing in grensverhale, daar is soveel stories wat nog nie vertel is nie, soveel gewondes wat rondstrompel. Een van die welsprekendste verwoorders van die verlore jare, van die spieël in die raaisel, is Van der Vyver, met haar ligte, terloopse aanslag.

Dis ’n produksie wat wys, ontredder en ontwapen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.