Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aardklop
Dowwe Dolla vier 21ste met ouma Dowe Dolla
Toe . . . Foto: Reniko van Rensburg
. . . en nou! Dowwe Dolla lyk nie asof sy tussen 1998 en 2019 verouder het nie, of hoe? Foto: Robert Hamblin

Die aktrise Margit Meyer-Rödenbeck het in die laat 1990’s gedink sy sal die karakter Dowwe Dolla net ’n jaar of wat vertolk totdat gehore se belangstelling in haar lawwigheid begin taan.

Nou, 21 jaar later, raak die liefdevolle en skreeusnaakse Dolla mondig – en met ’n rits verjaardagvertonings in Kaapstad en op Aardklop wat voorlê, gaan sy steeds net van krag tot krag.

“Ek het dit al baie oorweeg om te sê dit is nou dit, ek is klaar, ek gaan haar nie weer speel nie, maar dan doen ek weer (as Dolla) ’n vrouedag of iets en besef net: Ek hou van haar!” sê Meyer-Rödenbeck.

“Dit is lekker om effens kommin te wees, en bling en kort rokkies te dra. Ons almal het ’n Dolla in ons. Myne gaan nou net vir ewig 21 bly, selfs al dra sy eendag valstande,” sê sy laggend.

Meyer-Rödenbeck het in die vroeë 1990’s ’n karakter met die naam Dowwe Dolla in ’n studentekabaret deur Linda de Jager gesien. Toe sy (Meyer-Rödenbeck) ’n komiese karakter vir ’n kabaret met Trix Pienaar en Eugenie Grobler moes skep, het De Jager haar ’n duim na bo gegee om die naam te gebruik en haar eie weergawe in die lewe te roep.

“Ek en Pedro (Kruger) het toe gaan sit en ek het vir hom gesê ek dink aan haar as hierdie poppie wat by die staatsdiens by die skakelbord werk en almal grys hare gee.”

(Dowwe) Dolla het my regtig ’n platform gegee om dinge te sê wat ander nie kon sê nie. Sy het mense laat lag, ja, maar sy was uitgesproke oor die politiek, rugby, die kerk, en natuurlik seks.
Margit Meyer-Rödenbeck

Haar “dowwe” produk het in die daaropvolgende paar jaar oraloor gasverskynings gemaak, maar sy het amptelik eers in 1998 gedebuteer met haar eerste vollengte-vertoning, Dowwe Dolla: Staatslet wat deur Hennie van Greunen geskryf is. Binne ’n paar jaar het sy met nog produksies uit Van Greunen se pen, onder meer Dowwe Dolla: Krismisdoos, Dowwe Dolla: Ereksie 99 en Dowwe Dolla: Net ’n plaasmeisie van Pniel, volksbesit geword.

“Dolla het my regtig ’n platform gegee om dinge te sê wat ander nie kon sê nie. Sy het mense laat lag, ja, maar sy was uitgesproke oor die politiek, rugby, die kerk, en natuurlik seks.”

Nou sê Meyer-Rödenbeck is Dolla meer satiries, maar snaaks is sy nog beslis. In haar jongste vertoning, Dowwe Dolla: Nou of nooit, wat deur Jurgen Human geskryf is, het sy vir die eerste keer in jare weer ’n pianis saam met haar op die verhoog, dié keer Coenraad Rall. Daar is ook ’n ekstra Dolla op die verhoog.

“Ek het ’n ouma-karakter geskep, ouma Dowe Dolla,” sê sy. “Sy’s die rede hoekom daar ’n ouderdomsbeperking is, want sy is ’n ouma wat verskriklik vloek en f***l voel! Sy’s 80, sy drink gin en sy praat die waarheid. Dis eintlik nogal snaaks dat sommige gehoorlede nie weet ek vertolk albei karakters nie.”

Ouma Dowe Dolla gaan op die vertoning die Gharies-weergawe van Alannah Myles se “Black Velvet” sing, terwyl “Sny dit af!” – ’n verwerking van Johannes Kerkorrel en Die Gereformeerde Blues Band se “Sit dit af!” – ook gehoor sal word. Die vertoning eindig om ’n belangrike rede met die liedjie “We are Family” deur Sister Sledge.

“Ons is almal familie van mekaar in hierdie land – of ons dit nou wil weet of nie,” sê Meyer-Rödenbeck. “Ons moet besef ons moet mekaar aanvaar. Stop die leuens, hou op baklei, luister na mekaar en begin werk. Dit is nou of nooit.”

  • Dowwe Dolla: Nou of nooit word van 19 tot 21 September om 20:30 by Die Boer in Durbanville uitgevoer. Kaartjies teen R155 kan by www.dieboer.com bespreek word. Die ouderdomsbeperking is 16.
  • Dowwe Dolla: Nou of nooit is op vanjaar se Aardklop Nasionale Kunstefees op Potchefstroom te sien. Die vertonings vind op 24 September om 16:00, 25 September om 20:00, 26 September om 12:00, 27 September om 14:00 en 28 September om 15:00 in die Totius-saal plaas. Kaartjies teen R150 is by Ticketpro beskikbaar. Die ouderdomsbeperking is 14.
Meer oor:  Teater  |  Aardklop  |  Dowwe Dolla  |  Kunstefees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.