Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aardklop
‘Ek kan sê net wat ek wil’ – Ouma Dowe Dolla

Nee, sê Ouma Dowe Dolla, die Aardklop-fees is sommer eersteklas.

Ouma Dowe Dolla. Foto: Robert Hamblin

“Daar is allerhande nuwe fancy soorte gin wat ’n mens mos nie op Garies kry nie. Pienkes, groenes, rooies, lekker! Ek probeer almal!”

Dié ouma met die skerp tong kom loer in tydens haar kleindogter, die gewilde Dowwe Dolla (Margit Meyer-Rödenbeck vertolk hulle albei), se konsert, 21 jaar – Nou of nooit, op die Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom.

“Op my ouderdom doen ’n mens net wat jy wil, jy sê net wat jy wil en jy hoor net wat jy wil. Maar kyk, Ouma Dowe Dolla het al ’n paar myle op en kan goed raad gee – ek kritiseer en beledig nie, ek som net baie akkuraat op.”

Sy voeg by dat die jeug aan hul slimfone verslaaf is en dié toestelle maak haar moeg.

Selfs haar eie kleindogter Dowwe Dolla is skuldig hieraan.

“Maar nee, ek en Dolla het ’n baie goeie verhouding. Sy was baie pragtig, maar haai siestog, ons moes die arme kind heeltyd beskerm teen haarself. Haar eerste fiets het ses wiele gehad . . . twee grotes en vier van daai kleintjies . . . twee voor en twee agter. Ons kom goed oor die weg, behalwe as sy op daai smartphone van haar is.

“Almal is heeldag besig om te TAP TAP TAP op die goed . . . ek is geworried, ek dink die goed is besig om die kinders se breine oor te vat. Mense is in dieselfde vertrek en dan stuur hulle vir mekaar boodskappies en prentjies, sonder om te praat! Of hulle tik LOL, wie de hel lol met wie?”

Ouma Dowe Dolla is gewis nie op haar mond geval nie – sy was ’n sanger op haar dag.

“Ja, ek was altyd ’n groot hit op die Springbok-landbouskou. Maar dis ook nie meer dieselfde nie. Hulle het tot ‘YMCA’ gespeel nou die dag toe hulle die Brahmaan-bulle beoordeel het! Watse tjol is dit!?”

As sy aan haar jeug dink, mis sy die aandpakke en musiek van ouds.

“En die mans . . . veral hulle hande. Hande wat ’n trekker se gearbox met bloudraad kon regmaak. Daar is min sulke hande vandag . . . smaak my die jong mans vandag weet meer hoe om ’n haardroër te operate as ’n skroewedraaier.”

Tog dink sy vandag se kinders is baie slim. “Smaak my hulle weet alles van goed wat ek nog nie eens van gehoor het nie.”

  • Vertonings in die Totius-saal is Dinsdag om 16:00, Woensdag om 20:00, Donderdag om 12:00, Vrydag om 14:00 en Saterdag om 15:00. Dit duur 75 min en het ’n ouderdomsbeperking van 14. Kaartjies kos R150. Bespreek by Ticketpro.
Meer oor:  Feeste  |  Teater  |  Aardklop  |  Ouma Dowe Dolla  |  Dowwe Dolla
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.