Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aardklop
Jana waag haar hand aan skryf – ook op verhoog

Vir die aktrise Jana Cilliers is alle kuns vervleg. Die skone kunste was vroeg op haar radar en skrywers en tekste maak haar opgewonde. Sy vertolk eersdaags die rol van ’n skrywer in die Aardklop-debuuttoneelstuk Wilde-als, ’n produksie wat haar baie “woord-geïnteresseerd” maak. Sy het met AJ Opperman gesels. 

Die aktrise Jana Cilliers beskryf haarself soms as ’n gefrustreerde messelaar.

“Ek wil met my hande werk. Ek wil in die son werk, goeters regmaak. My kunssinnigheid skuif as ek hands on kan wees. Ek het hierdie ding dat die kunste vervleg is en ek wil nie in afsonderlike kompartemente aan hulle dink nie.”

Wilde-als
Jana Cilliers in Wilde-als, wat volgende week op Aardklop debuteer. Foto: Pieter Lombaard

En Cilliers (69) se lewe ís vervleg met die kunste.

Haar woorde en denke spreek van skeppendheid – soos die karakter wat sy vertolk in Wessel Pretorius se nuwe toneelstuk, Wilde-als, wat volgende week op die Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom debuteer.

Sy sit rustig en gesels onder ’n sambreel op "die oudste bankies" in haar tuin in Parkview, Johannesburg, al moet sy oor ’n uur of twee by nog ’n repetisie van Wilde-als aanmeld.

Daar is tyd vir tee en koffie en bloubessies as ’n versnapering.

Haar skrywerkarakter sukkel om haar laaste roman te voltooi en Dawid Minnaar vertolk haar muse.

Pretorius is ook die regisseur.

“Dit is juis Dawid se karakter wat dit vir my interessant maak. ‘Muse’ is ’n woord wat maklik rondgegooi word. Dis die lekkerte van teater as jy ’n teks kry wat jou woord-geïnteresseerd maak.”

Die gesprek staan vir ’n oomblik stil by die werk waarmee Cilliers haar stempel afgedruk het – op die verhoog, die silwerdoek én televisie.

Sy is bekend om toneelstukke soos Master Class in die rol van die operasanger Maria Callas en Ryk Hatting se toneelstuk Opdrag: Ingrid Jonker.

Cilliers is deel van ’n skeppende familie.

Haar ma is die visuele kunstenaar Bettie Cilliers-Barnard wat in 2010 dood is.

In haar huis hang talle van haar ma se skilderye.

Albei haar kinders, Lika en Leán uit haar huwelik met die akteur en regisseur Reghardt van den Bergh, het al toneel gespeel.

Cilliers is in 1993 getroud met die akteur Bill Flynn. Hy is in 2007 dood.

"‘Jana, dis nie wát jy geskryf het nie, dis dát jy geskryf het.’"

“Hulle sê altyd akteurs se grootste leergebied is maar die lewe. Ek het soveel verwysings. Ek het nie met boeke grootgeword nie en ek voel dikwels dis jammer, want ek kan nie sommer net strofes aanhaal nie. N.P. van Wyk Louw en so aan. Ek het wel grootgeword met skone kunste.”

Wilde-als, Aardklop
Dawid Minnaar en Jana Cilliers in Wilde-als deur Wessel Pretorius. Foto: Pieter Lombaard

Boeke het later gekom, danksy mense wat haar oor boeke geïnspireer het.

Die eerste naam wat by haar opkom, is dié van wyle prof. Elize Botha, voormalige kanselier van die Universiteit Stellenbosch.

“Sy was die persoon wat my ma se skilderye help name gee het. Sy was ’n huisvriend. Ek het tannie Elize gaan groet voor haar dood. Dit was vir my so ’n groot voorreg, want ek kon vir haar die gedig lees wat ek vir my pa geskryf het toe hy nie wóú doodgaan nie.

“Dit vat aan ’n mens om iemand te sien agteruitgaan. Hoe hy kleiner word. Soos my ma ook maar. Hulle het albei so half verdwyn op die horison.”

Sy het die gedig vir Botha gelees.

“Ek was baie verskonend omdat dit nou nie oulik is nie.

En toe sê sy daai mooi woorde: ‘Jana, dis nie wát jy geskryf het nie, dis dát jy geskryf het.’ ”

Dis die proses wat tel

“Ek sê altyd op my graf moet maar staan Opdrag: Ingrid Jonker. Dan sal iemand vra ‘maar hoekom’? Want dit was totaal proses-georiënteerd.

“Ek het dit nie gekies omdat ek van Ingrid Jonker hou of van Ryk Hattingh (wat die teks geskryf het) veel geweet het of lus was om op my eie te speel nie. My kreatiwiteit het daarheen geloop nadat oudpres. Nelson Mandela (Jonker se gedig) “Die kind” in die parlement gelees het. Toe roep ek vir Ryk in. Toe begin ons dit by die KKNK.

Daar het ons begin met ’n esel, naderhand met ’n raam.” Sy beduie met die hand hoe so ’n voorwerp sou lyk. “En dit word toe ’n spieël, ’n deurgang waardeur jy kon stap. So het dit ontwikkel.”

Master Class
Jana Cilliers en Tony Bentel in Master Class.

Tydens haar BA-studies aan die Universiteit van Pretoria (UP) het sy haar toneelgeselskap Persona gestig.

Sy het in die laat 1960’s in die fliek Die vervlakste tweeling gespeel.

“Toe was ek ’n snip.”Sy onthou ’n speelfout wat in sy in die fliek gemaak het. 

“Dan roep iemand my. Lenie?” en sy verhef haar stem met die noem van haar karakternaam.

Dan wys sy die stadige manier waarop sy haar kop omgedraai het in die fliek.

“Ja?” En sy projekteer weer.  

“Those wonderful silly days. Toe ek in Engeland (as student aan die Royal Academy of Dramatic Art) beland het, het ek besef this is what I’m in for.”

’n Mens wil haar byna met haar skrywerkarakter in Wilde-als vergelyk, want Cilliers stel self in skryf belang.

Sy het ’n kinderverhaal geskryf vir die aktrise Milan Murray se kinderboek Poenankies, wat ook op Aardklop bekend gestel word. Talle bekendes het verhale tot die boek bygedra.

“Ek het gevoel hoe dit is om ’n deadline te hê. Daar is aan my gesê die storie mag nie langer as 1 500 woorde wees nie. Ek het dit nie só geskryf nie,” en sy maak met haar hande asof sy op ’n toetsbord tik.

“Ek het dit só geskryf” en ’n mens sien die denkbeeldige potlood in haar handgebaar.

“Vee uit en so aan. Daardie tasbare gevoel van skryf op papier. Dis maar my ouderdom. Ek is lief vir papier.

“Die raad aan my was dat ek nie moet preek nie. ‘Bring die fantasie in. Hulle hou van weird.’ Ek weet nie van weird nie, maar ek weet van abstrak.

En toe ek klaar geskryf het, het ek gevind dit was abstrak.”

Cilliers het so twee storielyne vir teater, “maar as dit by die skryf kom ...”

Jana het vier kleinkinders. Lika het drie kinders en Leán het een.

Sy kom sit op die stomp langs my om foto’s van een van haar kleinkinders se tekeninge op haar selfoon te wys.

Dit gaan alles oor verbeelding

Sy beaam die stelling dat teater uit baie verbeelding – ook die gehoor s’n – bestaan.

“Ons sê altyd die gehoor is jou laaste rolverdeling wat inkom. Hy is ’n karakter. Daai ding op die verhoog . . . ek noem dit graphic thinking. Dit het baie te doen met ’n ruimte, ’n rigting van dink. Jy begin by iets en dan maak die sinapse half oop.”

Skrywers maak Cilliers opgewonde.

Sy noem name soos Marlene van Niekerk, André P. Brink (deur wie se biografie sy die vorige dag geblaai het) en Breyten Breytenbach, wat op die dag van ons gesprek verjaar.

Sy noem ook dat sy graag na die onlangse radiodokumentêr oor hom wil luister.

"Met ’n skrywer is daar is ’n parallel van ’n kreatiewe proses wat seker op sy intiemste plaasvind. Daardie intieme wêreld moet deurkom,” sê sy oor Wilde-als.

“Jy speel die teks. En as mense nie die skrywerskap of die skrywer onthou nie, is dit vir my op ’n manier beter, want dan kom die stuk by sy essensie uit. Hopelik is dit inspirerend.”

* Wilde-als word by kykNET Gimmies opgevoer. Vertonings is op 24 en 28 September om 16:00, op 25 September om 13:00, op 26 September om 20:00 en op 27 September om 09:30.

Dit duur 75 minute en kaartjies kos R150. Bespreek by Ticketpro.

* Die boekgesprek oor Poenankies is op 27 September om 15:00.

Rozanne McKenzie is die gespreksleier en Cilliers, Gielie Hoffman, Marisa du Toit en Milan Murray neem aan die gesprek deel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.