Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aardklop
Jill Levenberg blom in ‘Queenie-hulle’

“Die verhoog is byna soos ’n marathon wat jy aflê,” sê die aktrise Jill Levenberg wat ná drie jaar terug op die verhoog is in die Aardklop-debuuttoneelstuk Queenie-hulle.

Jill Levenberg in Queenie-hulle.

“Daar is die highs en die lows van die begin tot die einde. Daar is verskillende gehore en jy werk met wat hulle vir jou gee.”

Queenie-hulle word tot Saterdag op die Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom opgevoer.

Levenberg, bekend as Mymoena in die kykNET-sepie Suidooster en wat die rol van Ellen Pakkies in die fliek Ellen: Die Ellen Pakkies-storie vertolk het, was laas in 2016 in David Kramer se Orpheus in Africa op die verhoog.

Sy vertolk die rol van Queenie in Christo Davids (ook die regisseur) en sy oom Lloyd Davids se teks.

“Ek was honger om verder te leer. In dié beroep moet ’n mens groei en in verskillende media jou stem laat geld. Christo en Lloyd se teks het dit vir my gebied.”

Sy vind dit senutergend om weer op die verhoog te speel en sy het lanklaas by ’n kunstefees opgetree.

“Tog is dit ook baie opwindend, want ek het die proses so geniet. Dis lekker om met ’n regisseur soos Christo, wat ook ’n akteur is, te werk; hy was ’n groot geskenk vir my terugkeer na die verhoog. Hy is sensitief. Ek het nog nie so iets ervaar nie.”

Louw Venter, Brendon Daniels, Jaques da Silva en Lynelle Kenned vertolk saam met Levenberg ’n paar bergies wat voor die Goeie Hoop-sentrum in Kaapstad bly, maar dan ’n kennisgewing kry dat hulle die perseel moet verlaat.

Lynelle Kenned, Jill Levenberg en Louw Venter in Queenie-hulle. Foto’s: Aardklop

Hulle besluit egter om ’n memorandum aan die regering te skryf.

“Ons is ’n lekker familie, ek en my medespelers. Ons lag heeldag. Lynelle is ’n suster vir my. Off the stage is ons soos ’n wanfunksionele familie,” skerts sy.

Levenberg het vantevore onderskeidelik saam met Louw en Daniels in rolprente verskyn, maar sy wou heeltyd graag saam met albei van hulle verhoogwerk doen.

“Om ’n storie op ’n verhoog te vertel . . . Hierdie karakters word mense, hulle is familie, al is hulle nie bloedverwant nie. Daar is ’n bietjie geweld, ’n bietjie van ’n gevloek, maar mense gaan ook verbaas wees.

“Die teks het werklik die karakters oopgemaak, die ‘familie-dinamika’, al is die karakters nie bloedverwant nie. Dit is ’n storie wat gaan om oorlewing, the weak ones and the strong ones, en daar is altyd een wat sorg. Hierdie karakters sal as mense gesien word en nie as bergies nie.”

  • Vertonings in die Banketsaal is Vrydag om 17:00 en Saterdag om 17:30. Dit het ’n ouderdomsbeperking van 16. Kaartjies kos R160. Bespreek by Ticketpro.
Meer oor:  Teater  |  Christo Davids  |  Aardklop  |  Queenie-Hulle  |  Jill Levenberg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.