Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aardklop
Karlien stel kookboek op Aardklop bekend
Karlien van Jaarsveld
Die boekomslag van Karlien van Jaarsveld en Izelle Hoffman se kookboek, 'Karlien kan nie kook nie! 50 huiskos-resepte'.

Die sangeres Karlien van Jaarsveld gaan ’n kookboek wat sy saam met Izelle Hoffman geskryf het, op vanjaar se Aardklop Nasionale Kunstefees bekend stel.

Van Jaarsveld en Hoffman gaan self ’n bespreking van die boek, Karlien kan nie kook nie! 50 huiskos-resepte, op 28 September om 15:00 in die Bennie Pienaar-saal op Potchefstroom voer.

Dié boekbespreking is een van 24 wat vanjaar tussen 24 en 28 September op die program van die ATKV-Boeke-oase ingesluit is. Die boekeprogram word deur die L.W. Hiemstra Trust ondersteun en is deur Theo Kemp, skrywer asook direkteur van die Jakes Gerwel-stigting, saamgestel.

Kemp sê vanjaar se program het nie ’n spesifieke tema nie.

“Wat vir my belangrik is, is om ’n program saam te stel wat tot verskillende en diverse feesgehore sal spreek. Daar moet iets wees vir elke smaak,” sê hy.

“Dan is dit ook belangrik om te kyk na die uitgewers se nuutste boeke en daar rondom te werk. ’n Mens moet ook mooi kyk om die verskillende genres – fiksie, nie-fiksie, ens. – op die program te verteenwoordig.”

Wat vir my belangrik is, is om ’n (boeke)program saam te stel wat tot verskillende en diverse feesgehore sal spreek. Daar moet iets wees vir elke smaak
Theo Kemp, skrywer

Die boekeprogram begin op Dinsdag 24 September om 09:00 met ’n gesprek tussen Theo Venter en Philip Spies, emeritusprofessor in toekomsstudies, oor Afrikaners se rol in die skep van ’n vooruitstrewende Suid-Afrika.

Daarna fokus die dag se gesprekke op spesifieke boeke: Thys Human gesels met Hennie van Coller oor Verbintenis en venster: Die Nederlandse letterkunde van aanvang tot hede; Heilna du Plooy pols Hein Viljoen oor sy postmoderne spanningsverhaal Brisant; Petro Hansen vertel vir Deborah Steinmair van haar rubriekversameling Vervleg; Johan Jack Smith vra Réney Warrington uit oor haar boek Smit Motors; en Alexa Strachan, Aardklop se feesdirekteur, praat met Heilna du Plooy wat die boek P.G. du Plessis: Hy was ’n rukkie pagter hier saamgestel het.

Dana Snyman
Dana Snyman se boek 'Soekmekaar'.

Op Woensdag 25 September begin Izak du Plessis die dag se boekeprogram om 10:30 met ’n gesprek oor die skrywers Anemari Jansen en Stefaans Coetzee se boek, Suiker Britz: Dossier van ’n speurbaas.

Bennie Fourie en PJ Roux gaan ook oor die skrywer Erns Grundling se boek Sushi en shosholoza gesels, voor die Prontuit-aanbieder Kabous Meiring twee gesprekke gaan lei; die eerste oor Kerneels Breytenbach se Hond se gedagte en die tweede met Carla van der Spuy, wat in Liefde agter tralies: Ware Suid-Afrikaanse verhale ondersoek hoekom mense op misdadigers verlief raak.

Die dag sluit af met ’n gesprek tussen Gielie Hoffmann en Dana Snyman oor dié skrywer en joernalis se jongste versameling stories, Soekmekaar.

Wannie Carstens, Danny Titus, Hans du Plessis en Adri Breed begin die boekeprogram op Donderdag 26 September om 10:30 met ’n bespreking van die boek Die storie van Afrikaans uit Europa en van Afrika – Deel 1, wat opnuut na die herkoms van die taal kyk.

Daarna gesels Deborah Steinmair met Christine Barkhuizen-le Roux oor My naam is Prins, ek slaap met die lig aan, voordat die akteur Susan Coetzer haar skreeusnaakse boek Koeke en terte bekend stel.

Suzanne Paxton sluit die dag se verrigtinge saam met die skrywer Johan Jack Smith af, wat meer oor sy misdaadroman, Zola, gaan vertel.

Heelwat boeke is op Vrydag 27 September in die kollig, onder meer Stefaans Coetzee en Alita Steenkamp se Wit wolf: Die Worcester-bomplanter se storie van bevryding, SD Fourie se Noorman, James-Brent Styan en Paul Vecchiatto se The Bosasa Billions: How the ANC Sold its Soul for Braaipacks, Booze and Bags of Cash, en Thys Human wat met die digter Loftus Marais gesels oor sy (Marais) se derde bundel, Jan, Piet, Koos en Jacob.

Milan Murray
Milan Murray het die boek 'Poenankies: 'n Versameling kinderstories deur bekendes' saamgestel.

Boekvrate sal waarskynlik op dié dag toustaan vir die bespreking oor Poenankies: ’n Versameling kinderstories deur bekendes, wat deur die aktrise en skrywer Milan Murray saamgestel is. Jana Cilliers, Gielie Hoffmann, Marisa du Toit en Rozanne McKenzie sal onder meer te sien wees.

Benewens Van Jaarsveld en Hoffman se kookboek wat op Saterdag 28 September bekendgestel word, sluit besprekings van drie boeke die boekeprogram af.

Ivor Price gaan met onder andere Foeta Krige gesels oor sy boek The SABC8; Ilza Roggeband gaan Sidney Gilroy en Rudie van Rensburg saam uitvra oor hul jongste boeke, onderskeidelik Klikbek en Vloek, en Daniëlla van Heerden gaan met onder andere TJ Strydom praat oor sy boek Christo Wiese: Risiko & rykdom.

  • Vanjaar se Aardklop Nasionale Kunstefees vind tussen 24 en 29 September op Potchefstroom plaas. Die ATKV-Boeke-oase duur van 24 tot 28 September in die Bennie Pienaar-saal. Toegang is gratis. Besoek www.aardklop.co.za vir ’n volledige program.
Meer oor:  Aardklop  |  Karlien Van Jaarsveld  |  Boeke  |  Kunstefees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.