Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aardklop
Kinders gaande oor KlopKidz-tent by Aardklop

Gian Odendaal wou Donderdagoggend knaend by die sanger Pieter Smith weet waar die wolf dan nou is.

Toe die seuntjie hoor hý is die wolf, was daar geen keer aan hom op die KlopKidz-verhoog op die Aardklop-feesterrein in Potchefstroom nie.

Terwyl Smith die verhaal van die Drie Varkies voorgelees het, kon die kinders self die akteurs op die verhoog wees. Gian het gewis die kollig gesteel soos wat hy hom behoorlik in die wolf-rol ingeleef het.

Die sangers Pieter Smith en Anna Davel Donderdag in die KlopKidz-tent op die Aardklop-feesterrein in Potchefstroom waar kinders met interaktiewe spel en stories besig gehou word terwyl hul ouers elders fees. Lienke Kotzé sit heel links en Anri Van der Schyff tussen Smith en Davel. Foto: Susan Cilliers

Dié positiewe, interaktiewe ervaring van teater is juis wat Alexa Strachan, feesbestuurder, in gedagte gehad het met die KlopKidz-inisiatief.

“Ons wil teatergehore vir die toekoms bou. Die mense is mal oor KopKidz, hulle los hul kinders sommer vir ’n paar sessies daar.”

Hoewel ouers en toesighouers die kaperjolle gratis saam met hul kinders kan bywoon, kan hulle ook gaan fees terwyl die KlopKidz-personeel na die kinders omsien. Dié jolige tent is nog Vrydag en Saterdag van 09:30 tot 12:00 oop. Kaartjies kos R10 per kind jonger as 12 jaar. Lizz Meiring en Anna Davel sal die kinders Saterdag vir oulaas daar vermaak.

Gian Odendaal was Donderdag dalk die kleinste seuntjie op die KlopKidz-verhoog, maar hy het die rol van die wolf in die Drie Varkies se verhaal vertolk. Die sanger Pieter Smith het die storie voorgelees en die kinders gelei om interaktief deel te neem. Foto: Susan Cilliers

Intussen verloop die fees seepglad, het Strachan Donderdag gesê. “Ons kry baie positiewe terugvoering oor produksies soos Kamphoer, Wilde-als, Die dinge van ’n kind en Koningin Lear. Mense stap huilend uit Kamphoer.”

Die sanger Pieter Smith lei kinders tydens ’n interaktiewe storievoorlesing in KlopKidz se tent op die Aardklop-feesterrein. Foto: Picture Café

Mense keer Strachan op die feesterrein voor en sê dankie vir ’n heerlike fees. “Iemand wou by die ATKV-Boeke-Oase vir my ’n glas wyn koop, ’n ander het gesê hy weet nie hoe om vir my dankie te sê nie, want hy kan nie geld gee nie. Toe sê ek daardie glimlag op sy gesig is genoeg.”

Strachan sê die kaartjieverkope vir vertonings was teen Donderdag effense hoër as met die ooreenstemmende feesdag in 2018.

Die kinders kon hulle Donderdag inleef met interaktiewe storievertellings in die KlopKidz-tent. Foto: Picture Café

Die opkoms die eerste dag van die fees (Dinsdag) was besonder goed, waarskynlik omdat dit ’n vakansiedag was. “Ons skat sowat 10 000 mense is deur die hekke na die feesterrein, teenoor die gemiddeld van 7 000 mense wat ons gewoonlik op die eerste dag van die fees kry. Tot dusver het ons sowat 20 000 besoekers gehad, maar ons verwag soos gewoonlik ’n baie besige Vrydag en Saterdag met ’n groot styging in die aantal besoekers.”

Strachan sê mense is ook gaande oor die verskuiwing van die kykNET-verhoog na die ATKV-verhoog op die feesterrein. “Ons het die area bietjie vergroot en die uitleg effens verander – die plek is gepak.”

’n Geraamde 70 000 mense sal die fees na verwagting vanjaar besoek. Die fees, wat tot Sondag duur, bring ’n ekonomiese inspuiting van sowat R50 miljoen vir Potchefstroom.

Toegang tot die feesterrein is R30 per persoon per dag. Kinders jonger as 12 gaan gratis in. Die feesterrein is net tot Saterdag oop.

Meer oor:  Gian Odendaal  |  Alexa Strachan  |  Pieter Smith  |  Aardklop  |  Klopkidz
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.