Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aardklop
Krog se poësie op ’n ander noot

Hilandi du Toit, Babette Viljoen en Olga Leonard bied die musiekproduksie Krog tydens Aardklop aan.

Die musiekproduksie Krog gee ’n ander klank aan die poësie van die digter Antjie Krog met sang, klavier, trekklavier en verskillende kitare tydens die Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom.

Olga Leonard, Babette Viljoen en Hilandi du Toit het met dié debuutproduksie die kragte saamgesnoer.

Leonard en Viljoen is bekend om hul toonsettings van bekende digters se werk en het al programme met die werk van onder andere Elisabeth Eybers en Joan Hambidge aangebied.

“Met Krog wou ons iets doen wat nog nie baie gedoen is nie,” sê Leonard.

“Daar is nie baie toonsettings van haar werk nie, en daar is van haar gedigte wat musikaal nie so goed werk nie. Enkele gedigte is voorlesings. Ons produksie begin ook met ’n stemopname terwyl ons die verhoog opstap.

“Die produksie klink ook anders as die vorige produksies wat ons gedoen het. Hilandi is ’n verskriklike goeie kitaarspeler.”

Krog het in 1970 haar debuut gemaak met Dogter van Jefta. Twee van haar bundels, Lady Anne (1989) en Mede-wete (2014), het die Hertzogprys ontvang.

Volgens prof. Louise Viljoen, Stellenbosse literator wat ’n studie oor Krog se werk, Ons ongehoorde soort, geskryf het, is ’n “hartstogtelike betrokkenheid by haar omgewing” kenmerkend van Krog se skryfkuns.

Krog sluit in gedigte soos “Ma”, “My mooi land”, “Manifes van ’n ouma”, “Digter wordende” en “ ’n Ver-af trein”.

“En omdat ons ’n trio is, het ons gereken ‘Fughetta vir drie stemme’ sal gepas wees,” sê Leonard.

“Daar was eindelose bronne. Tussen die drie van ons was daar net twee van haar bundels wat ons nie gehad het nie, maar ons het dit toe in die biblioteek gekry.

“Ek het self met Antjie gepraat. Babette het met prof. Heilna du Plooy in Potchefstroom gepraat.

“Ons het gaan kyk na wat in die Groot verseboek opgeneem is, waar gedigte met kennis uitgesoek is.”

Die produksie is nie ’n oorsig van Krog se lewe en loopbaan nie.

Dis ook nie net die ligter verse van Krog wat in die produksie opklink nie.

“Daar is gedigte wat kragwoorde bevat, maar baie van die gedigte het so ’n tempo dat ’n mens fyn moet luister. Maar ons behou ook die komiese in van die gedigte. Ons kan nie net mooi broodjies van Krog bak nie, want dan sal die produksie nie eerlik wees nie. Ons wil haar werk in al sy fasette belig.”

* Die Aardklop Kunstefees is van 2 tot 7 Oktober in Potchefstroom. Vertonings van Krog in die Roots Intieme Teater is op 2 Oktober om 17:00, op 3 Oktober om 11:00 en op 4 Oktober om 14:00. Dit duur 60 minute en kaartjies kos R120. Bespreek by TicketPro.

Meer oor:  Antjie Krog  |  Potchefstroom  |  Musiek  |  Poësie  |  Kunstefees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.