Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aardklop
Kunstenaars platgeslaan oor virus Aardklop ook kelder

Verskeie kunstenaars het verwag die Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom sou nie vanjaar voortgaan nie, maar hulle is nogtans platgeslaan.

Die fees sou van 22 tot 27 September duur en nou is kunstenaars nóg ’n bron van inkomste kwyt weens die Covid-19-pandemie.

Nataniël wonder of dit werklik vir enigiemand ’n verrassing is.

“Ek het al vir my vriende in Februarie gesê hier kom moeilikheid en mense het gedink ek is dramaties.”

Nataniël

Nataniël en Charl du Plessis sou die produksie waarin hul samewerking van 20 jaar vier op Aardklop saam met ’n simfonieorkes uitvoer.

“Dit is vir my tragies, maar ons kan die konsert aanskuif en volgende jaar 21 jaar vier. Mense is onseker wat aangaan. Kunstenaars werk nou vyf keer harder vir dieselfde geld,” sê Nataniël, wat Kwessie van ’n dag, ’n podsending op Netwerk24, behartig.

“Dit is vreemde omstandighede. Dit is baie hartseer dat die fees nie meer gehou word nie, maar dit was te verwagte.”

Die akteur De Klerk Oelofse wat in Nico Scheepers se toneelstuk Die engel by die dam sou optree, sê as hy mooi daaroor dink, het hy die afstel ook verwag.

“Dit was byna ons laaste hoop, maar deep down het ons eintlik maar geweet. ’n Mens is maar platgeslaan.”

De Klerk Oelofse

Soos ander kunstenaars kwel hy hom oor teater.

“In hierdie stadium skop ek daarteen om teaterwerk op die internet te sit. Want ek dink dit translate moeilik.

Die wonderlike ding van teater is dat mense saamkom. Teater is ’n gedeelde ervaring. Daarin lê die prag. Op die oomblik is ’n mens hartseer daaroor. ’n Mens wonder wanneer jy weer toegelaat sal word om enige gedeelde ervaring te hê.”

Die engel by die dam het op die Toyota US Woordfees gedebuteer. Hy was opgewonde oor die “tweede ronde” op Aardklop.

“In die ronde op die Woordfees het dit vir my gevoel ons het net aan die oppervlak geraak met wat moontlik is met die produksie. Ek dink dit sou baie lekker wees om dit te verfyn. Ek sou hierdie keer dieper wou delf.”

Intussen bied hy en die akteurs Jemma Khan en Albert Pretorius ’n virtuele produksie, Steve Smith and the Ball-Tempering Scandal, aan op die virtuele fees wat die Nasionale Kunstefees in Makhanda vanjaar aanbied.

Amanda Strydom

Die sangeres Amanda Strydom het nog nooit ’n fees van Aardklop misgeloop sedert dit in 1998 begin het nie.

Strydom sou die musiekproduksie Nostalgie saam met die pianis Coenraad Rall en die tjellis Susan Mouton uitvoer. Dit sou op die KKNK gedebuteer het, maar sy kon uiteindelik net een vertoning in die Pierneefteater in Pretoria aanbied.

“Ek kan vir jou sê ek het dit verwag,” sê Strydom.

"Maar ons weet nie wat met die virus gaan gebeur nie en hoe langer dit duur, hoe meer word ouer kunstenaars van hul laaste produktiewe jare beroof."

“Ek het ook absolute begrip vir Alexa (Strachan, feesbestuurder) en haar span se besluit – alles is onseker. Ons weet nie wanneer ons weer sal kan feeste hou en voor ’n gehoor in ’n teater kan optree nie.”

Strydom wonder hoe kunstenaars deur die jaar gaan kom.

“Ek leef letterlik van dag tot dag. Ek beplan versigtig aan ’n volgende aanlyn konsert, maar wil nie dié mark – wat ons enigste heenkome is – oorlaai nie. Mense moet uitsien na die volgende konsert. Ek mis elke fees wat ons verloor het. Aardklop was só lekker, dis naby Johannesburg en het die lieflikste venues. Ek voel soos ’n kind wat gesê is daar sal nooit weer Kersfees wees nie. Ek probeer nogtans positief bly – nie oor die verdomde virus nie, maar vir die toekoms van die kunste.”

Margit Meyer-Rödenbeck

Die aktrise Margit Meyer-Rödenbeck sou die produksie Spertyd, gegrond op Elsa Joubert se derde aflewering in haar outobiografiese drieluik, aanbied.

“Die ergste van hierdie virus is dat daar nie ’n spertyd is nie. Ons weet nie wanneer die laaste dag van die monster sal wees nie. Ons sou in Junie begin repeteer het. Philip Rademeyer is die regisseur en Sandra Prinsloo tree op. Maar dit sal iewers opgevoer word. Nou weet ’n mens net nie wanneer nie. Maar ek en Alexa het al lank hieroor gepraat. Dit is wys van die bestuur om oordeelkundig te werk te gaan dat ’n mens wel weer die fees volgende jaar kan aanbied. Dit is maar net ’n moeilike tyd vir teater. Daar is nie reserwes nie en ’n mens wil ’n gehoor hê.”

Die werkgeleenthede waarvan die virus kunstenaars op ’n gevorderde leeftyd ontneem, ontstel Nataniël veral.

“Jy weet, jonger kunstenaars sal weer ’n kans kry. Maar ons weet nie wat met die virus gaan gebeur nie en hoe langer dit duur, hoe meer word ouer kunstenaars van hul laaste produktiewe jare beroof. Jy worry natuurlik, maar ek het besluit jy kan net jouself ’n uur per dag toelaat om hartseer te wees. Daarna moet jy probeer aangaan.”

* Intussen word die Standard Bank Innibos Kunstefees voorlopig van 11 tot 13 Desember in Mbombela aangebied.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.