Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aardklop
‘Nag’ is tema van visuele kunsprogram op Aardklop
In vlamme, ’n fotokunswerk van Alet Pretorius

Die nag is vanjaar die invalshoek van die visuele kunsprogram op die Aardklop-kunstefees van 24 tot 27 September in Potchefstroom.

Johan Thom, die kurator van die program getiteld Briewe aan die nag, wou die onsekere tye weergee waarin die mens hom tans wêreldwyd bevind.

“Ek voel ons lewe in ’n vreeslik onsekere tyd, beide globaal en in Suid Afrika. Metafories staar ons die nag in. Die politiek, wetenskap en filosofie blyk grotendeels ook ietwat pessimisties oor ons toekoms as ’n spesie te wees.”

Hy meen as daar een groepering is wat onsekerheid verstaan, is dit kunstenaars. “Daar is geen sekerheid in die lewe en loopbaan van ’n kunstenaar nie. Ek dink nou is ’n goeie tyd om aandag te skenk aan dit wat kunstenaars raaksien en verstaan oor die onsekerheid.

“Die nag, dit wat nog altyd ietwat verskuild wegkruip vir oë wat nie gewoond is om dieper te kyk nie. Die nag word dus ’n ruimte van ontdekking, misterie en selfs ook hoop,” sê Thom.

All We Need Is a Conductor (2018), ’n installasie van Sonya Rademeyer

Vanjaar se feeskunstenaar is Cobus Haupt, wie se tentoonstelling Uitzicht te sien is in die NWU-hoofgalery op die Potch-kampus.

“Haupt is ’n juweel van ’n kunstenaar wat deur die jare net aanhou werk het in sy studio in Pretoria. Hy het al vele professionele suksesse behaal met sy werk en tog blyk dit asof die groter kunswêreld en publiek hom nog nie heeltemal ontdek het nie. Dit is dus vanpas dat sy werk hier die kollig kry.”

Die laaste vyf jaar het Haupt se werk ’n ommeswaai beleef vanaf tradisionele figurasie na meer abstrakte, eiesinnige elemente, sê Thom. “Die dinamiese formele elemente van Haupt se werk is vir my die verpersoonliking van ’n nuwe progressiewe Suid Afrikaanse identiteit.”

Vir langer as 20 jaar maak die kunsversamelaar Harry Siertsema swart kunswerke bymekaar – hy het al altesaam 600 werke en het ook boeke en notas oor al die swart kunswerke wat hy gesien het maar nie aangeskaf het nie. Verf dit swart (Paint It Black) in die Alumni-saal toon werke van onder meer Willem Boshoff, Eric Duplan, Gordon Froud, en ander. Al is die ooglopende assosiasie met swart negatief – duisternis, dood, woede en aggressie – sien Siertsema ook die gesofistikeerdheid, misterie, gesag en krag daarvan.

“Die werke word in ’n pikswart houtkrat uitgestal en dit gaan ’n interaktiewe belewenis wees vir die feesganger.” Thom meen ’n mens kan danksy die tentoonstelling sien hoe nougeset kunsversamelaars versamel.

Modern Art Projects South Africa, wat Verf dit swart na die fees bring, bring ook die werk van Sonya Rademeyer na Aardklop.

“Ek raai elke feesganger aan om te kom kyk na haar installasie All We Need Is a Conductor (2018). “Die werk handel oor die migrasie van mense en die soeke na ’n tuiste. Ons is vreeslik bly om dit op dié spesifieke tyd in ons land se geskiedenis te kan wys by die fees.”

Nagmusiek is ’n visuele tentoonstelling waarin klank sentraal staan. Die kurator is Conroy Cupido, ’n senior sangdosent aan die NWU se musiekskool.

Mabu Autswitswe, ’n installasie van swart sementmielies deur Setlamorago Mashilo.

“Cupido is ’n bekende in die musiekwêreld en dit is heerlik om ’n ander oog en (oor!) in die visuele kunswêreld te verwelkom. Hy daag kunstenaars uit om ‘nagmusiek’ as inspirasie te gebruik vir die skep van kunswerke.”

Die werke in die tentoonstelling is visuele uitbeeldings van emosies, idees, stories of begrippe. Die musiek van die komponiste Strauss, Schubert, Fauré en Berlioz het as inspirasie gedien. Feesgangers moet oorfone en hul selfone na die vertonings saambring.

Jong Suid-Afrikaanse vrouekunstenaars is in die kollig in Wild Embers. Die tema is die lewenskrag, energie van ’n vuur en die strewe daarna om vorentoe te beur. Kunstenaars soos Anastasia Pather, Alka Dass, Chrisél van der Merwe, Mmabatho Grace Mokalapa, Lebohang Motaung en Kate’Lyn Chetty, tot die kurator, Aysha Waja, neem deel.

Beide Alison Shaw en Wayne Mattthews se werk in Head Lamp is ’n wonderlike mengsel van obskure tekstuele en konseptuele verwysings en pragtige formele elemente. Met titels soos “Panacea Plonk” deur Matthews en “Adverbs of place” deur Shaw kan mens regtig verlore raak in die estetiese wêreld wat die twee met hul koplampe besoek.

Alet Pretorius

’n Solotentoonstelling deur die fotograaf Alet Pretorius is in die ouditorium se foyer te sien. Liewe nag (Dear Night) wys van Pretorius se persoonlikste foto’s, asook oomblikke uit haar lewe as fotojoernalis. Jacob van Schalkwyk verskaf die teks by haar foto-kunswerke.

Die afslaer Aspire wys kunswerke wat op die Johannesburgse veiling in November opgeveil gaan word, ook in die Alumni-saal. Geselekteerde werke sal op 25 September om 18:00 in die hoofgalery by Aardklop opgeveil word.

Daar is ’n praatjie oor kuns as belegging op 26 September om 18:00, ook in die hoofgalery.

Rolprente oor kunstenaars wys elke dag om 11:15 in die Alumni-saal: Alexis Preller (25 September), Maggie Laubser (27 September) en Sam Nhlengethwa (28 September).

Johan Thom doen elke dag ’n rondleiding om 10:00. Feesgangers kom in die Beeld-ouditorium se foyer bymekaar. Dit duur ’n uur.

Meer oor:  Aardklop  |  Visuele Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.