Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aardklop
Nóg ’n kans om dié stukke op Aardklop te sien

Feesgangers het die geleentheid om die volgende toneelstukke vandeesweek op die Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom te sien, waar hulle weer op die planke sal wees.

Lizz Meiring, Margit Meyer-Rödenbeck en Nicole Holm in 3 Susters. Foto: Robert Hamblin

* In 3 Susters sit die akteurs en wag op ’n vertraagde vlug na Thailand. Nicole Holm, Lizz Meiring en Margit Meyer-Rödenbeck is drie sibbes in dié komiese produksie uit die pen van Louis Pretorius, bekend vir televisiereekse soos Die boekklub en Boland Moorde. Dit is Christine (Meiring) se 50ste verjaardag en die tweeling, Anel (Meyer-Rödenbeck) en Bianca (Holm) reël as verrassing dat hulle saam na Thailand reis.

Terwyl die susters die tyd verwyl met kaarte, boeke, cappuccino’s en vlymskerp tonge, word lewenskeuses uitmekaar getrek en ou koeie opgegrawe. So hier sit hulle nou. Sal hulle ooit daar kom? Het hulle nog lus vir die reis?

Vertonings in die Totiussaal is Dinsdag om 17:00, Woensdag om 14:00, Donderdag om 20:00 en Vrydag om 19:00. Dit duur 80 minute en kaartjies kos R140.

Fotostaatmasjien is vandeesweek weer op die planke. Foto: Jaco Marais

* In Fotostaatmasjien verteenwoordig verskillende personae aspekte van ’n digter.

Die digter Bibi Slippers, wie se gelyknamige debuutdigbundel in 2016 verskyn het, het die teks geskryf en sy is een van die spelers in die produksie waarvan Wessel Pretorius die regisseur is.

Anna-Mart van der Merwe en Schalk Bezuidenhout is van haar medespelers.

Die produksie fokus nie op ’n spesifieke storielyn nie, maar drie personae van Slippers kom ter sprake: haar private, professionele en openbare persona.

Vertonings in die Banketsaal is Dinsdag en Woensdag om 15:00, Donderdag om 20:00, Vrydag om 10:00 en Saterdag om 20:00. Dit duur 75 minute en kaartjies kos R135.

Richard September, Anna-Mart van der Merwe, Andrew Laubscher en Nicole Holm in Swerfgoed. Foto: Robert Hamblin

* Soebatsfontein handel oor die vriendskap tussen vroue – “soveel anders as tussen mans” – en die kontras tussen vryheid en ingeperktheid.

Sandra Prinsloo en Franci Swanepoel is twee vriende op reis na die Noord-Kaap in die Beeld-rubriekskrywer Annemarie van der Walt se debuutteks wat vroeër vanjaar op die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees opgevoer is. Philip Rademeyr is die regisseur.

Vertonings by kykNET Gimmies is Dinsdag om 16:30, Woensdag om 13:00, Donderdag om 13:30, Vrydag om 09:30 en Saterdag om 20:00. Dit duur 75 minute en kos R140.

* Swerfgoed is ’n tragikomedie oor ’n oorlog oor water. Op die verhoog speel ’n bloedige oorlog oor water af in ’n woestynlandskap. ’n Mens kry die idee van ’n Western waar reg en geregtigheid daar en dan beslis word – howe behoort tot ’n beskawing en hier blyk nie meer een te wees nie. Motel Stillewater verskaf oornagverblyf, maar rus vir die siel is nie hier gewaarborg nie.

Anna-Mart van der Merwe en Nicole Holm is van die spelers.

Vertonings by kykNET Gimmies is Dinsdag om 09:30, Woensdag om 20:00, Donderdag om 09:30 en Vrydag en Saterdag om 16:00. Dit duur 90 minute en kos R135. Dit het ’n ouderdomsperk van 16.

Cobus Venter en Sorina Erasmus in Antie Pohl.

* Die wilde Flooze van 7de Laan is die skrywer van die rubriek “Vra vir Antie Pohl”. Dít doen Sorina Erasmus, wat destyds die rol van Flooze vertolk het, in die skoene van ’n middeljarige vrou in Barry van Rensburg se toneelstuk Antie Pohl, wat op die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees gedebuteer het.

Sy beantwoord lesersvrae oor die probleme wat ontstaan tussen twee uiteenlopende mense in ’n verhouding. ’n Teruggetrokke man in ’n huwelik met ’n “praatsieke tannie” en ’n verhouding tussen ’n bangbroek en ’n waaghals is van die probleme waarmee sy moet help. Erasmus en Cobus Venter vertolk elkeen verskillende karakters met regie deur Neels Clasen.

Vertonings by ATKV Girls High is Dinsdag om 20:00, Woensdag om 10:00, Donderdag om 16:30 en Vrydag om 13:30. Dit duur 70 minute en kos R130.

* Bespreek vir alle produksies by Ticketpro.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.