Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aardklop
Nuwe drama op Aardklop kyk na Suid-Afrikaans wees
Christo Davids

Die akteur Christo Davids is g’n vreemdeling vir teater- en televisiekykers nie.

Hy het die afgelope jare ook by die gewilde sepie 7de Laan, asook by talle verhoogproduksies die regisseurstoel ingeneem. Sy nuwe stuk, My Seuns, debuteer op Aardklop met Sandra Prinsloo, André Odendaal, Sandi Schultz, Edwin van der Walt, Donovan Pietersen en Buhle Ngaba in die rolverdeling.

“Ek het vir die regte tyd gewag om so ’n stuk te doen,” sê Davids oor dié drama wat deur Arthur Miller se toneelstuk All My Sons geïnspireer is.

“Ek het die teks op universiteit gelees en het altyd gedink iemand moet ’n verhoogproduksie daarvan maak. Tog het ek self My Seuns in ’n Suid-Afrikaanse konteks geskryf,” sê hy.

Davids wou uitwys dat die verlede nog sigbaar in die hede is.

“Dis nie ’n swaar drama nie maar dit gaan oor ’n familie wat moet werk om als bymekaar te hou.”

“En hierdie familie kan enige familie in Suid-Afrika wees. Dit is wat die storie so relevant en eerlik maak.”

Odendaal meen ook dat die produksie juis nou met die land se spesifieke rasse- en politieke landskap op die regte tyd kom.

“Ek doen nie sommer teater as die teks nie iets belangriks het om te sê nie,” sê Odendaal.

“Ek dink ook my karakter is een wat nog nie in ’n Afrikaanse stuk gesien is nie. Hy was nie die nasionalistiese Afrikaanse wit man nie, maar eerder die een wat deel van die struggle was.

“Christo het die teks ’n plaaslike invalshoek gegee sodat almal hulle daarmee kan vereenselwig. Dis nie net ’n storie vir Afrikaanse gehore nie, maar vir alle gehore.”

Sandra Prinsloo en André Odendaal in My Seuns. Foto: Aardklop

Odendaal meen gehore is dalk nou meer ontvanklik vir sulke stories en daarom is dit ’n ongelooflike ervaring om deel van die produksie te kan wees.

Volgens Davids was dit verrykend om met ouer en jonger akteurs te werk. “Dit was baie interessant om twee generasies in die produksie te hê. Daar is ’n groot ouderdomsgaping en om almal se stories te hoor het beslis daartoe bygedra om die storie te laat lewe,” sê hy.

Die stuk betrek uiteenlopende temas wat steeds geldig in die hedendaagse Suid-Afrika is.

“Ons is so geneig om te dink dat die verlede verby is en dat ons kan aanbeweeg, maar ons moet ook bewus wees dat dit nie altyd so maklik is nie. Die newe-effekte kan nie meer onder die mat gevee word nie.

“Die stuk kyk juis na die ouer-kind-verhouding en hoe die twee mekaar beïnvloed. Dit is tog die geval vandag dat die ouers soms nie weet hoe om hul kinders groot te maak in ’n ander generasie en tydvak as waaruit hulle kom nie.”

Davids meen daar is altyd onopgeloste vrae en die verwikkeldheid van wat dit beteken om Suid-Afrikaans te wees moenie altyd nét as ’n uitdaging gesien word nie.

* My Seuns word van 2 tot 6 Oktober in die Banketsaal op die Aardklop-kunstefees opgevoer. Kaartjies kos R140 en is beskikbaar by Ticketpro.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.