Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aardklop
Nuwe en bekende klassieke musiek op Aardklop

Van die vyf klassiekemusiekproduksies wat vanjaar op Aardklop te sien sal wees, is vier daarvan splinternuwe produksies wat vir die eerste keer uitgevoer sal word.

Musiekaanhangers sal in hul noppies wees dat werke van die Baroktydperk (1600-1750) tot die 21ste eeu op die program ingesluit is.

* Die fees se klassiekemusiekaanbieding begin met ’n konsert deur die NWU PUK-koor onder leiding van Kobus Venter. Dié koor het verlede jaar twee goue medaljes by die tiende Wêreldkoorspele in Tshwane verower en sal in die kykNET Konservatorium optree.

Hul konsert op 24 September om 20:00 en op 25 September om 14:00 in die kykNET Konservatorium sluit werke van Bach tot Queen in. Kaartjies teen R110 (R80 vir pensioenarisse) is by Ticketpro beskikbaar.

* Feesgangers sal moet spring om die Joie de Vivre Trio te sien, wat die verhoog net ’n enkele keer gaan bestyg. In Klavier-, fagot- en fluitjolyt span André Oosthuizen (fluit), Liesl van der Merwe (fagot) en Catrien Mulder-Wentink (klavier) hul net wyd met werke deur Vivaldi, Haydn, Glinka se Trio pathetique, Argentynse tangomusiek en die Amerikaner Paul Schoenfield se Café Music.

Die konsert is op 24 September om 14:00 in die kykNET Konservatorium. Kaartjies teen R100 (R60 vir pensioenarisse) is by Ticketpro beskikbaar.

Magdalene Minnaar

* Die immergewilde sopraan Magdalene Minnaar bied met die konsert Portret ’n klankbaan van haar loopbaan tot dusver. Operaliefhebbers sal waarskynlik bly wees oor Minnaar se uitvoering van die arias “O mio babbino caro” uit die opera Gianni Schicchi deur Puccini, en “Ebben? Ne andrò lontana” uit die opera La Wally deur Alfredo Catalani. Ligter werke soos “Heimwee”, “The Rose” en “Somewhere Over the Rainbow” is ook op die program.

Die konsert word op 24 September om 17:00, 25 September om 10:00 en 26 September om 12:30 in die kykNET Konservatorium uitgevoer. Kaartjies teen R140 (R100 vir pensioenarisse) is by Ticketpro beskikbaar.

* Minnaar is ook die solis in nog ’n konsert, waarby gehore wat na iets ligter soek aanklank sal vind. Die produksie ’n Non, ’n prins en ’n spook stap in ’n kroeg in! bevat Broadway-teatergunstelinge uit onder meer The Phantom of the Opera, Les Misérables, West Side Story, The Sound of Music en Wicked. Musici sluit in soliste, NWU-sangstudente en ’n orkes van 22 lede onder leiding van André Oosthuizen.

Die konsert word op 26 September om 16:00 en 27 September om 14:00 in die Snowflake uitgevoer. Kaartjies teen R140 (R100 vir pensioenarisse) is by Ticketpro beskikbaar.

* Die produksie wat beskryf word as die een “waarmee jy Aardklop moet afsluit”, is ’n uitvoering van die Walliese komponis sir Karl Jenkins se mis The Armed Man: A Mass for Peace. Die grootse werk vir simfonieorkes, koor en soliste is vir die eerste keer in 2000 uitgevoer en aan die slagoffers van die Kosovo-krisis opgedra.

Op Aardklop sal dié aangrypende werk net een keer, op 29 September, om 15:00 deur die NWU Simfonieorkes en die Konservatoriumkoor uitgevoer word. Kaartjies vir die mis in die Beeld Ouditorium beloop R100 (R80 vir pensioenarisse) en kan by Ticketpro bespreek word.

  • Die Aardklop Nasionale Kunstefees vind vanjaar van 24 tot 29 September op Potchefstroom plaas.
Meer oor:  Musiek  |  Aardklop  |  Klassieke Musiek  |  Kunstefees  |  Magdalene Minnaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.