Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aardklop
‘Queenie’ is monumentale teater

Die akteur, skrywer en regisseur Christo Davids se jongste stuk, Queenie-hulle, het pas op Aardklop gedebuteer en sal na verwagting landwyd draai. Deborah Steinmair het die openingsaand bygewoon en skryf Davids “skep hier monumentale teater met eggo’s van Beckett en Brecht”.

Christo Davids se produksie My seuns het verlede jaar ses pryse op Aardklop gewen. Foto: Aardklop

Joey (Brendon Daniels), Jerry (Jaques de Silva), Whitey (Louw Venter), Queenie (Jill Levenberg) en Annie (Lynelle Kenned) is ’n groepie boemelaars wat op die stoep van die Good Hope-sentrum woon – daardie aardige paddastoel van ’n gebou in Kaapstad wat 30 jaar ’n gemeenskapsfasiliteit was en in 2016 amptelik vir die publiek gesluit is. Dit was die toneel van Queenie se een groot triomf: Daar is sy as Spring Queen gekroon. Sy dra steeds ’n tulband met blinkers en swaai die septer oor haar flentergatbende. Op hierdie stoep het Queenie ook ten aanskoue van verbygangers haar baba in ’n bloederige geboorte verloor, want bergies is onsigbaar.

Hul lewe en menswees is tot op die been gestroop. Die verbitterde Joey noem hulle God se rommel. Hulle dra lappe en flarde, wieg op ’n kruk, hakkel en struikel spektakulêr. Hulle bedel, steel en pas bedags motors op, bring saans hul kollektetjie en Queenie deel die blikkie gebakte bone en paar slukke Late Harvest soos Nagmaal uit. Elkeen klou vas aan ’n beter verlede en bly hoop op ’n toekoms.

Tyd verloop nie liniêr nie, maar siklies, soos vir die boemelaars in Waiting for Godot. Elke dag belowe Queenie dat sy môre weer gaan werk. Joey dreig om weg te gaan. Die volgende dag gaan die lewe sy gewone gang. Môre is ’n verkiesing en miskien word hulle daarna as mense raakgesien.

Die regie is fenomenaal: Dis fisieke teater, fyn gechoreografeer. Veral Daniels se lyftaal is welsprekender as woorde. Venter as vernederde wit man tot by sy rooi onderbroek gestroop, bly jou by. Die dinamika tussen die los groepering van geteisterdes is plofbaar en veranderlik: Aggressie vlam op, vuiste klap, messe blink, galgtoue wieg en krukke klap. Dan klou hulle weer aan mekaar, wieg en troos soos gedoemdes.

Alles is verflenter en onwaardig en op openingsaand skarrel daar boonop asof gereël ’n insek oor die verhoog, tot naby die gehoor, herhaaldelik. Hulle is ongewens en nou is daar boonop ’n lasbrief van die stadsraad dat hulle die stoep moet verlaat: D

Christo (Davids) skep hier monumentale teater met eggo’s van Beckett en Brecht. Dis ’n driepennie-opera, ’n bedelaarsballet, ’n vlooisirkus, ’n ballade van bergies, ’n gewag op behuising en hoop. Die spel is hipnoties aangrypend.
Deborah Steinmair

ie Good Hope-sentrum gaan voortaan uitverhuur word as ’n stel vir Hollywood-flieks. Hulle wil ’n memorandum aan die parlement rig, mense moet van hulle weet, hul bestaan moet erken word. Hulle is mense en wil huise hê.

Die gehoor kry ’n kykie in elk se ellendige verlede. Hul toekoms is uitsigloos, hulle is onderworpe aan geweld en mishandeling. Die teistering van dakloses is ’n uiters aktuele kwessie en uiteindelik herken elke gehoorlid sy of haar eie onsekerheid en gevoel van ontheemdheid in hierdie land.

Christo skep hier monumentale teater met eggo’s van Beckett en Brecht. Dis ’n driepennie-opera, ’n bedelaarsballet, ’n vlooisirkus, ’n ballade van bergies, ’n gewag op behuising en hoop. Die spel is hipnoties aangrypend.

Christo en Lloyd Davids se teks is soepel en liries en die regie uit die boonste rakke. Natuurlik is daar ’n bloedige klimaks en die gehoor is ten slotte verslae, stom en betraand. Dis teater wat tot op die been sny.

  • Steinmair ken vier sterre aan die produksie toe.
Meer oor:  Teater  |  Christo Davids  |  Aardklop  |  Queenie-Hulle  |  Deborah Steinmair
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.