Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aardklop
Ruda vertel háár storie op Aardklop

Die joernalistiek was ’n lewensveranderende reis wat ’n plattelandse meisie van Keimoes in die Noord-Kaap “geherkalibreer” het om wyer te dink as die kultuur en omgewing waarin sy gebore en getoë is.

Ruda Landman onderteken ’n eksemplaar van haar boek Tell me your story vir Lynette Cooke. Cooke het Landman se praatjie oor haar boek op Aardklop se ATKV Boeke-Oase Dinsdag bygewoon. Foto: Susan Cilliers

“Ek is in die 1950’s in die bloeityd van apartheid gebore,” het die veteraanjoernalis Ruda Landman Dinsdag op Aardklop se ATKV-Boeke-Oase in Potchefstroom vertel. “Die joernalistiek het my wakker gemaak. Selfs in 1976 as lid van die studenteraad op universiteit het ek nie eens geweet wat Soweto was nie.”

Landman gesels oor haar boek Tell Me Your Story, waarin sy onderhoude met uiteenlopende mense oor lewensveranderende besluite en gebeure in hul lewe voer. Daar is onderhoude met onder meer Marc Lottering (wat sy lewensmaat in geklassifiseerde advertensies gevind het), die akteur John Kani, die ontslape renjaer Gugu Zulu, die spotprent-satirikus Zapiro, die komediant Pieter-Dirk Uys en die koerantvrou Ferial Haffajee. Die skrywer Deborah Steinmair wat die gesprek met Landman Dinsdag gelei het, sê sy “kon die boek nie neersit nie”.

“Dis soos wanneer jy ’n bril opsit en alles is skielik in fokus, dit verruim jou visie.”

Landman sê die goue draad wat die mense in haar boek met soveel verskillende perspektiewe en agtergronde verbind, is dat nie een van hulle ’n slagofferhouding het nie.

“Hulle neem almal besluite en aanvaar verantwoordelikheid daarvoor.”

Deborah Steinmar (links) wat die gesprek met Ruda Landman Dinsdag gelei het op Aardklop se ATKV-Boeke-oase in Potchefstroom. Foto: Susan Cilliers
Ruda Landman Dinsdag op Aardklop se ATKV-Boeke-oase waar sy oor haar boek Tell me your story gesels het. Foto: Susan Cilliers

Landman sê die “lekkerste” soort joernalistiek vir haar is wanneer iemand haar (in ’n onderhoud) dieper inlaat as wat hulle die res van die wêreld toelaat. Baie sulke oomblikke het haar lewe verruim, onder meer toe sy as 23-jarige joernalis by Die Burger ’n onderhoud met ’n swart vrou in ’n plakkershut naby Kaapstad gevoer het. “Die modderstegies en om die eerste keer in ’n sinkhut te kom, was vreesaanjaend. Daardie hut was (egter) so skoon jy kon van die vloer af eet. Ek het tee gedrink saam met ’n swart vrou en het besef sy is nes my ma. Daar het dit my getref: ‘Hulle is eintlik maar soos ons.’

“Dan was daar mense soos die Afrikaanse (gay) paartjie Braam en Riaan wat in die laat 1990’s ’n swart baba aangeneem het nadat ’n maatskaplike werker van NG Welsyn hulle help veg het daarvoor. Daardie seuntjie het nou die dag graad gevang.”

Ruda Landman se boek Tell me your story.

Landman sê haar tydgenote soos Patricia de Lille en Jesse Duarte se heeltemal ander lewenservaringe as hare, boei haar.

Die opbrengs van Landman se boek sal geskenk word aan die Studietrust, ’n organisasie wat behoeftige studente met beurse bystaan, maar hulle ook lewensafrigting gee.

“Die organisasie het reeds sowat 45 jaar gelede ontstaan. Hul studente het die afgelope tien jaar ’n 85%-slaagsyfer.”

Meer oor:  Aardklop  |  Ruda Landman  |  Noord-Kaap  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.