Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aardklop
Skrywers praat oor opvoering van hul boeke

Gendergeweld en verlore onskuld is vandag ewe toepaslik as in die tyd waarin die Aardklop-produksies Kamphoer en Die dinge van ’n kind afspeel.

Só reken die skrywers Marita van der Vyver en Francois Smith oor die verhoogverwerkings van hul romans wat op die Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom op die planke is.

Marita van der Vyver. Foto: Antonia Steyn
Francois Smith. Foto: Dawie Verwey

Die dinge van ’n kind (deur Van der Vyver) oor diensplig en tienerkwellings wat onderskeidelik in die 1970’s en 1990’s afspeel, het die afgelope week as solostuk met Cintaine Schutte gedebuteer. Nicole Holm is die regisseur en Francois Toerien het die verhoogverwerking gedoen.

Kamphoer: Die verhaal van Susan Nell handel oor Nell wat gedurende die Anglo-Boereoorlog in ’n konsentrasiekamp verkrag is en later jare haar verkragter herken wanneer sy in Devon, Engeland, pasiënte vir bomskok behandel.

Dit het op die Vrystaat Kunstefees met Sandra Prinsloo gedebuteer. Cecilia du Toit het dit vir die verhoog verwerk en Lara Foot is die regisseur.

Cintaine Schutte in Die dinge van ’n kind. Foto: Aardklop

Van der Vyver moes weer haar boek oor diensplig, tienerhormone, swangerskap en verlore drome gaan lees.

“Ek was aangenaam verras oor hoe baie ek steeds van Mart Vermaak (die hoofkarakter) hou. Ek het ook besef ek is nog lank nie uitgeskryf oor daardie tydperk en daardie verskriklike ‘geheime oorlog’ in Angola nie. In my nuwe roman, Grensgeval, wat begin November verskyn, keer ek terug na die Grensoorlog van die 1970’s, dié keer uit die oogpunt van ’n veel ouer vrou, en ek gooi ’n klomp draaie, selfs tot in Kuba. Destyds was ek – en Mart Vermaak – nog te jonk om ‘al die pad’ te stap, ons het nog nie besef hóé blywend die letsels van daardie oorlog sou wees nie. Nou weet ons.”

Van der Vyver reken die storie skets probleme waarmee die tieners steeds worstel, soos die ontdekking van seks en die verlies van onskuld in vele opsigte.

“Daar is die opstand teen grootmense en gesagsfigure wat jou mislei het. Kyk nou maar hoe woedend is die nuwe geslag tieners oor hoe ons ouer geslagte die wêreld opgemors het en die bestaan van ons planeet bedreig! Ek dink ook dis goed vir gehore van alle ouderdomme om herinner te word, in hierdie dae wanneer so baie mense moedeloos voel oor Suid-Afrika en sommiges selfs terughunker na ‘die goeie ou dae’, dat die 1970’s ’n donker era van ongelooflike politieke onderdrukking en sensuur op alle gebiede was.”

Van der Vyver het Toerien se teks gelees.

“Ek was verstom oor hoe goed hy dit reggekry het om ’n verhaal met ’n spul karakters wat oor byna twee dekades afspeel, saam te pers tot ’n eenvrouvertoning wat die essensie van die boek behou.”

Sandra Prinsloo in Kamphoer: Die verhaal van Susan Nell. Foto: Aardklop

Die roman Kamphoer het in 2014 by Tafelberg verskyn. Smith was nie by die verhoogverwerking betrokke nie.

“Toe ek die eerste vertoning op die Vrystaatfees sien, was dit vir my ’n totale verrassing hoe my boek op die verhoog gestalte gekry het. Vir ’n minuut of twee was ek taamlik beangs, maar daarna kon ek dit waardeer en geniet met groot bewondering.

“Dit is aangenaam en vleiend om gedeeltes van my boek op die verhoog te hoor. So ’n verwerking wil gedoen wees. Dis ’n goeie kunswerk. Die storie is vir my belangrik as sodanig omdat dit jou iets van die mensdom, iets van die wêreld en iets van jouself laat ontdek en in ’n nuwe lig laat sien. Die tema het uit die staanspoor toevallig saamgeval met die huidige oplewing van sentiment oor gendergeweld en die behandeling van vroue.”

Smith raai mense aan om die stuk vir die produksiewaarde daarvan te gaan kyk.

“Dit is ’n wonderlike verhoogproduksie met ’n skitterende aktrise aan die spits, maar ook hoogs professioneel en met uiters vaardige mense agter die skerms.”

  • Kamphoer: Die verhaal van Susan Nell word Saterdag om 20:00 by kykNET Gimmies opgevoer. Dit is van 9 tot 26 Oktober in die Baxterteater in Kaapstad op die planke. Dit het ’n ouderdomsbeperking van 14 en duur 75 minute. Kaartjies kos R145. Bespreek by Ticketpro.
  • Die dinge van ’n kind word Saterdag om 09:30 by kykNET Gimmies opgevoer. Kaatjies kos R145 en dit duur 90 minute. Bespreek by iTickets.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.