Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aardklop
Syfers wys Aardklop gróéi

Die organiseerders van die pas afgelope Aardklop Nasionale Kunstefees op Potchefstroom glimlag breed nadat vanjaar se bywoningsyfers aansienlike groei getoon het.

Feesgangers staan tou om by Aardklop se feesterrein in te kom. Foto: Aardklop

Vergeleke met verlede jaar het 12% meer mense die feesterrein besoek. Sowat 10 000 besoekers – ’n rekordgetal – het die feesterrein op die fees se eerste dag (24 September) besoek, wat 30% meer as verlede jaar is. Daarby het kaartjieverkope vir produksies met 11% geklim.

Alexa Strachan, feesbestuurder, sê sy en haar span is verstom oor die groei. “Ons het gereken kaartjieverkope sal moontlik nie so goed wees nie, uiteraard weens die land se ekonomie en die onsekerheid wat daar rondom die verkiesing was.

“Ons was ook bekommerd omdat die (skool)vakansietyd geskuif het – die fees is normaalweg in Oktober – so ons was tog ’n bietjie bekommerd, omdat die fees skielik in September is. Gelukkig was ons verkeerd.”

Strachan sê sy skryf die verrassende styging aan onder meer ’n “dekselse goeie feesprogram” toe.

“Ons het werklikwaar hoëgehalte-produksies gehad, en ek dink ons het dit reggekry om ’n balans te handhaaf. Die gesprekkereeks was geweldig interessant en ons bemarkingspan weet wat hulle doen. ’n Mens moet altyd probeer om nuwe projekte aan te pak wat vir die feesganger interessant is: Ons debuutwerke het groot belangstelling gelok.

“En dan, natuurlik, kan ’n mens nie die trefkrag en bemarkingswaarde van ons topkunstenaars onderskat nie – Karen Zoid, Laurika Rauch, Antoinette Kellermann, Rolanda Marais, Sandra Prinsloo, Marius Weyers. Om kunstenaars van hierdie kaliber almal op een fees te kon aanbied, tel geweldig baie.”

Meer as 77 produksies, 15 daarvan debute, is vanjaar tussen 24 en 29 September op die fees opgevoer.

Die fees sal in 2020 tussen 22 en 27 September aangebied word.

Meer oor:  Feeste  |  Musiek  |  Teater  |  Aardklop  |  Alexa Strachan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.