Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aardklop
‘Wilde-als sal lank resoneer’

Jana Cilliers en Dawid Minnaar kom tot hul reg in Wessel Pretorius se 'Wilde-als' wat op Aardklop gedebuteer het en later waarskynlik op verhoë landwyd te sien sal wees. Deborah Steinmair skryf die stuk is vol spyt en nostalgie wat nog lank sal resoneer. 

Jana Cilliers en Dawid Minnaar in Wilde-als. Foto: Pieter Lombaard

Wessel Pretorius (teks en regie) het al telkemaal bewys dat hy teaterbetowering kan skep. Wilde-als is geen uitsondering nie. Eerstens is dit ’n visuele kunswerk in ryk, warm kleure en lig. Dis sensueel en eroties gelaai en hunkering pols vlak onder die vel. Dis ryk aan tekstuur; ’n mens hoor die wind waai en die reën val, jy ruik die verlange van verlore liefde en ervaar die frustrasies van die kreatiewe proses.

Jana Cilliers en Dawid Minnaar kom tot hul reg; om bloot na hulle te sit en kyk en luister is ’n belewenis. Sy is ’n kluisenaar-skrywer op ’n lap grond in die middel van die Karoo, hy haar muse, verbeel, opgeroep deur haar herinnering, geboetseer deur haar verlange. Minnaar se kenmerkende teenwoordigheid is allesoorheersend, tog kry hy dit reg om in ’n sekere sin sonder substansie te wees, soos ’n herinnering of ’n droom.

Hilde Kraus (Cilliers) skryf ná 25 jaar weer ’n roman, oor haar lewe. Sy “ontbied” haar eks-minnaar, die man wat haar versaak en haar hart gebreek het, as muse en mentor. Hy stap haar huis binne soos ’n gedagte. Hulle was lank gelede twee jaar saam – terwyl sy getroud was. Hy was ’n ouer skrywer, tweederangs, deurweek van goedkoop whiskey, pyptwak en teleurstelling. Toe sy haar man en seun los om by hom te wees, kies hy die hasepad.

In hierdie ronde slaan sy die trom en huiwer nie om hom te herinner nie: “Ek het jou gemaak. Jy is myne.”

Eggo’s van Jan Rabie, N.P. van Wyk-Louw en ander Afrikaanse skrywers duik op. Die naatlose vervleg van sublieme digkuns anker die tonele.

Paul Naudé (Minnaar) word benewens muse die kwaai stem van haar alter ego wat haar werk te lig skat en reken dat sy nie diep genoeg delf nie, dat sy bloot mooi woorde en sinne saamflans.

Sy het hom gebou uit verlange en herinnering; sy het die mooiste dele van hom gevat en saamgevoeg met haar behoeftes om ’n begeerlike skim te skep. Op die verhoog van haar verbeelding word hul laaste afspraak (waarvoor hy nooit opgedaag het nie) herbesin, weer uitgespeel, verkieslik met die nodige verduidelikings. Maar selfs die maaksels van ’n mens se verbeelding is halsstarrig en weier om saam te speel.

Die stuk bestaan uit kort tonele, soos taferele, uiters visueel, met kort verdonkerings waartydens helpers enkele meubelstukke en rekwisiete rondskuif.

Daar is onvergeetlike beelde soos dié van God as rooiwangseun en die aarde sy strandbal wat hy in die hoogwaterpoele rondskop, soos Paul Naudé, die beliggaming van Hilde se verlange, wat stadig haar hare was terwyl hy verklaar dat God haar uit rook gebeeldhou het.

Dis ’n stuk vol spyt en nostalgie wat lank sal resoneer.

  • Steinmair ken vier sterre aan die produksie toe.
Meer oor:  Wilde-Als  |  Wessel Pretorius  |  Teater  |  Aardklop  |  Dawid Minnaar  |  Deborah Steinmair  |  Jana Cilliers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.