Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aardklop
Wyle Shareen Swart se dogters volg in haar voetspore

Die twee dogters van die aktrise Shareen Swart, wat verlede jaar aan kanker gesterf het, volg in hul ma se voetspore met hul toneelstuk FrAgMeNt wat op Aardklop opgevoer word.

Zoë Hare (27) en Hankah Ras (25) is onderskeidelik die teksskrywer en die regisseur van die stuk. Hare tree ook daarin op.

Zoë Hare en Hankah Ras.

Dit word opgevoer onder die vaandel van Aktiveer, ’n platform wat die Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom aan jong teaterskeppers bied om hul werk op die planke te bring.

“Ons het alles by ons ma geleer – alles, alles, alles wat ons hier toepas. Dit geld ook die ander spelers. Ons het almal by haar klas gehad.”

Swart was die stigter van die Performing Arts Lifestyle Institute (PALI), ’n opleidingsakademie vir akteurs.

Hare het ’n paar jaar gelede ’n kort toneelstuk, Social Disconnection, vir ’n toneelfees geskryf.

Volgens haar het sy dit ingeskryf maar nie veel hoop gehad dat mense daarvan sal hou nie. Die reaksie was ongelooflik en sy is voortdurend gevra om die stuk uit te brei. Dit het sy uiteindelik ná ’n jaar gedoen.

Sy het dit tot ’n vollengte-stuk ontwikkel en aan haar ma, haar grootste kritikus, gestuur.

“My ma het altyd raad gegee, en sy het baie daarvan gehou. Toe word sy siek.”

Die oorlede aktrise Shareen Swart (middel) saam met haar dogters, Hankah en Zoë.

Swart het in onder meer Ballade vir ’n enkeling, Koöperasiestories en Knapsekêrels gespeel.

“Nadat sy dood is, het mense weer vir my gesê ek moet aan die stuk werk. Ek het daaraan verander en dit aan Kaz (McFadden, die akteur) gestuur. Hy is ’n goeie familievriend.

“Hoewel die stuk oor sosiale media, disconnect en die valsheid en gevare van sosiale media gaan, handel ’n baie groot deel daarvan oor die krag van ’n vrou. Hoe jy jou identiteit in ’n baie kritiese wêreld vind. Dís wat mense van die stuk met hulle saamneem, hoe om jou eie mens te wees en om vir jouself op te staan.”

Ras hou baie van die stuk omdat dit deurentyd aangepas kan word om toepaslik te bly.

“’n Mens weet nooit hoe jou gehoor gaan reageer nie, maar mense was baie emosioneel tydens die optrede. Ons eerste vertoning was byna vol en agterna het hulle ’n staande applous gegee. Toe was ek in trane.”

Die susters was van kleins af bewus van hul ma as aktrise.

“Ons het Ballade vir ’n enkeling oor en oor op video gekyk,” sê Ras.

“Mense het ons al gevra hoe dit voel om ’n bekende ma te hê, maar omdat ons daarmee grootgeword het, was dit vir ons ’n normale opset.”

Hulle het dit baie geniet om haar te sien speel én lesgee.

Zoë Hare in FrAgMeNt.
Zoë Hare, Luandri Reynders en Ilke König in FrAgMeNt.

“As ’n aktrise het sy ons beïnvloed, ek het dit ook op haar begrafnis gesê. Sy sou byvoorbeeld vir ons kunsflieks wys toe ons nog klein was. En dit beïnvloed jou as kind, want jy word blootgestel aan dinge wat dalk te gevorderd vir kinders is, maar jy word van jongs af reeds gestimuleer.”

Ras het gesê fokus, dissipline en professionaliteit in toneelspel was vir hul ma baie belangrik.

Volgens haar het sy altyd gesê jy kan nie die vryheid van toneelspel geniet as dit nie in dissipline gegrond is nie.

Hare beaam dit. Sy werk reeds aan twee nuwe Engelse toneelstukke.

“Dit was moeilik om na Aardklop te kom, want as ek onseker oor iets is, wil ek my ma vra, ek wil haar vra wat ek moet doen. Kan sy hier wees om te help? Dit was moeilik. Sy het die gawe gehad om jou van drama én die lewe te leer.”

  • FrAgMeNt word Saterdag om 12:00 in die Heimatsaal opgevoer. Die anders spelers is Luandri Reynders en Ilke König. Die toneelstuk het ’n ouderdomsbeperking van 16. Dit duur 65 minute en die kaartjies kos R110.
Meer oor:  Hankah Ras  |  Shareen Swart  |  Teater  |  Zoë Hare  |  Aardklop  |  Aktiveer  |  Fragment
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.