Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Innibos
‘Bou brûe deur anders na die geskiedenis te kyk’
Johan Stegmann, Defeat at Isandlwana, 2017, koperplaatets met akwatint, 30 x 20 cm.

Die meeste mense vandag gee meer om vir die geskiedenis van Game of Thrones as vir hul eie erfenis.

So sê Stegmann wat in sy tentoonstelling iBloed:’n Goeie dag vir ’n slag op die Suid-Afrikaanse geskiedenis terugkyk. Dit is tans tot 29 Junie op die Innibos-kunstefees in Mbombela te sien.

Bedags is hy ’n meganiese ingenieur, maar saans, naweke en in sy verlof verken hy die geskiedenis en poog hy om ’n ander platform te skep sodat mense oor die verlede in gesprek kan tree.

Hy beskryf die tentoonstelling op Innibos as die eerste stopplek op ’n toer van “vertonings”. “Dit is ’n tipe Bloedrivier-monument op sy eie. Ek het doelbewus die verhaal van Bloedrivier gemeng met my ervaring van Suid-Afrika vandag, asook met ander stories soos dié van my vriend Adam Heyns, wie se oupa, ds. Johan Heyns was.” (Heyns (1928-1994) was die moderator van die NG Kerk, wat apartheid as ’n sonde verklaar het, en in ’n sluipmoordaanval doodgeskiet is. Niemand nog in hegtenis geneem nie.)

Stegmann bied met humor en nadenke sy eie interpretasie van veldslae soos dié in Isandlwana en by Bloedrivier, wat in Zoeloe as Ncome bekend staan.

“Die werke is veronderstel om met die oogopslag as ‘geskiedkundig betroubaar’ voor te kom, maar as ’n mens langer kyk, merk jy snaaksighede op wat tog nie ‘histories korrek’ kan wees nie. Sodoende wil ek eintlik die kyker uitnooi om altyd krities te wees oor hoe die ‘geskiedenis’ vertel word.”

Hy werp lig op stories (uit verskillende agtergronde of interpretasies) wat uit eie reg fassinerend is en moedig mense aan om self navorsing te doen. “So hoop ek die kyker besef dat die geskiedenis ‘fundamenteel dualisties en gegrond op subjektiewe perspektiewe’ is.”

“Uiteindelik probeer ek om werk te skep waar uiteenlopende en selfs onversoenbare perspektiewe/gedagtes saam op dieselfde bladsy kan bestaan. Ek is geïnteresseerd in daardie dualiteit. Ek probeer ’n platform skep vir mense om interaksie te hê met hul geskiedenis en om so brûe tussen kulture te help soek.”

Hy meen egter dat mense wegskram van die geskiedenis, deels uit “vrees vir politieke inkorrektheid en die ongemaklike konfrontasie met sekere werklikhede asook oorgeërfde pyn”.

“Vandag gee die meeste mense meer vir die geskiedenis van Game of Thrones as vir hul eie erfenis om.”

Die geskiedenis is veral by wit kunstenaars nie ’n algemene onderwerp vir ondersoek nie, meen hy.

Johan Stegmann, ’n Goeie dag vir ’n slag (middelpaneel), 2018, koperplaatets met akwatint, 60 x 40 cm.

“Baie Suid-Afrikaanse kunstenaars is nie bang vir pyn of ongemaklikheid nie – dalk is hul gebrekkige fokus op die geskiedenis te wyte aan die hele opvatting van ‘korrektheid’.

“Ons is geneig om te dink geskiedenis is ’n akademiese lys van feite en datums, en vandag bluf gerespekteerde geskiedkundiges hulself steeds met ’n puik nagevorste “objektiwiteit”. As jy die subjektiwiteit probeer uithaal, verloor jy beide die hart van die storie en die nodige nederigheid om te besef dat jy nooit 100% ‘korrek’ kan wees nie.”

Stegmann meen in die swart tradisies word geskiedenis beter verstaan as stories oor wat mense dink gebeur het. “Dit is vir my steeds ’n kopskuif om te besef dat orale geskiedenis nie as minder ‘geloofwaardig’ geag moet word nie. Ek dink die geskiedenis is ’n mynveld as ons weier om vir verskillende perspektiewe plek te maak. Dieselfde bondel feite, selfs al debatteer ons dit nie, lyk totaal anders afhangend van uit watter oogpunt daarna gekyk word. Dit kos jou niks om ’n ander se oogpunt te probeer verstaan nie. Inteendeel, dit maak die storie voller.”

Hy verkies koperplaat-etse danksy die “inherente gravitas” daarvan. “Tot ’n mate glo jou oë jy kyk na iets “geskiedkundig” bloot danksy die medium.

Johan Stegmann, Uber-meisie, koperplaatets met akwatint, 2018, 5 x 5 cm.

“Fyn gedetailleerde houtskooltekeninge is egter my gunsteling. Ek geniet dit om te kyk hoe ver ek ’n medium kan druk in terme van realisme, en dis nogal verbasend hoeveel detail ’n mens op ’n 5cm x 5cm-houtskoolsketsie kan inprop.”

Hy het in sy derde jaar as ingenieurstudent aan Tuks (Tshwane-Universiteit vir Tegnologie in Pretoria) besluit om kunsklasse te neem. “Die aanbieder van die klas was Stella Olivier, vrou van die beeldhouer Louis Olivier. Ek het vir pret in Louis se studio begin werk en in my laaste jaar van swot (toe ek net ’n paar sleepvakke moes afhandel) in sy nuwe bronsgietery (The Workhorse Bronze Foundry) in Marshalltown bloodstelling aan Johannesburg se top-kunstenaars gekry.

Toe hy as ingenieur begin werk het, het hy sy eie ateljee in Johannesburg gekry. “So tussen kuns en ingenieurswese is ek maar baie besig op die oomblik. Ek spandeer al my aftyd en verlof daaraan om kuns te skep.”

*Stegmann se uitstalling is in die Kuns-oase in die Laerskool Nelspruit te sien. Die kurator Johan Myburg gesels op 28 Junie om 11:00 met Stegmann oor sy kuns. Bywoning van die gesprek is gratis.

Meer oor:  Innibos  |  Visuele Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.