Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Innibos
Innibos afgestel: Kunstenaars se idees ‘sal nie opraak’

“Ons geld kan dalk opraak, maar solank ons idees net nie opraak nie.”

So sê die akteur Wynand van Vollenstee nadat die Standard Bank Innibos Kunstefees in Mbombela Woensdag afgelas is.

Die Standard Bank Innibos Kunstefees in Mbombela is afgelas.

Van Vollenstee sou in twee produksies op die fees in Desember optree: die tweemanstuk Leengoed, ’n debuutproduksie teenoor Tobie Cronjé en die eenmanstuk Willie wil wheelie.

Volgende jaar se fees word van 30 Junie tot 4 Julie aangebied.

“Ja, dit is nogal ’n slegte dag. Ek het vanoggend met Philna-hulle (Scholtz, deel van die feesbestuur) gepraat. En ek moet sê ek is eintlik trots op hulle dat hulle so lank die dapper stryd gestry het. Ons het altyd geweet daar is ’n 50%-kans dat dit nie sou plaasvind nie.”

"Ons het dit deurgemaak tot op hede, hoe weet ek self nog nie, maar ons is darem deur die ergste . . . deur die Genade.”

Daar is vroeër met Innibos Digitaal begin om kunstenaars by te staan wat nie elders kan optree nie.

Dit bestaan uit argiefteaterproduksies wat voorheen verfilm is.

Leengoed is spesifiek vir Innibos Digitaal verfilm.

Hierdie produksies is steeds op Computicket beskikbaar, maar nie Leengoed nie.

“Vir al die feeste is dit ’n hartseer jaar,” sê Van Vollenstee, ook bekend om sy rol as Gielie in die kykNET-komedie Huis Lelieveld.

“Ek het daarna uitgesien om Leengoed op te voer. ’n Mens mis dit om voor ’n gehoor op te tree. Daardie onmiddellike reaksie mis ek die meeste.”

Die tweede reeks van Huis Lelieveld is vroeër vanjaar uitgesaai.

“Maar daardie inkomste is reeds gebruik voordat die inperking begin het.”

Van Vollenstee verfilm aan die derde reeks van die SABC 2-drama Swartwater.

Die Standard Bank Innibos Kunstefees, wat nie vanjaar gehou word nie, word volgende jaar van 30 Junie tot 4 Julie aangebied.

“Maar om ’n veilige afstand te handhaaf bring meer uitdagings en onkoste mee. Ek het wel ander projekte, maar dit is ook onseker of sommige daarvan sal gebeur. Soos byvoorbeeld my kinderfees, Wêlakapêla, wat verlede jaar vir die eerste keer aangebied is. Ek kon dit nie vanjaar hou nie en ek weet nog nie of dit volgende jaar sal plaasvind nie.”

Sandra Jacobs, Innibos-mediabestuurder, sê die feesbestuur het heeltyd gehoop dit sal kan voortgaan.

“Alles was gereed. Die program ook. Dit moes nog net gedruk word. Ons het in die geloof voortgegaan. Baie mense het hierdie fees nodig. Vir my is dit ’n persoonlike teleurstelling, maar ons moet verantwoordelik optree.”

Die feesbestuur het in samewerking met die borge en direksie besluit om die fees af te gelas.

“Met Innibos Digitiaal is ’n paar duisend kaartjies verkoop. Dit het aftrek gekry, maar ek weet nie waarteen om dit te meet nie. Daardie verkope is baie minder as die fees se jaarlikse kaartjieverkope.”

"Ek begin dink al intelligente mense in die wêreld is die Swede – dra ’n masker, was jou hande, hou jou afstand en leef soos ’n normale mens.”

Die feesbestuur het aanvanklik oorweeg om teaterproduksies aan te bied ingevolge die inperkingsregulasies wat stipuleer dat die helfte van teaters gevul mag word.

“Maar die teaterprogram is nie genoeg nie. Die feesterrein is die hartklop van die fees.”

Die meeste debuutproduksies wat hier op die planke sou wees, word deur NATi (die Nasionale Afrikaanse teaterinisiatief) geborg.

“As dit vroeër iewers opgevoer kan word, sal ons dit aanmoedig. Ons sal dit steeds op volgende jaar se program wil insluit, maar dit sal nie noodwendig debute wees nie.

“Daar is nou ’n paar maande voordat die fees begin. Ons gaan nou die tyd gebruik om in 2021 ’n onvergeetlike fees aan te bied.”

Intussen is die aflas van die fees vir baie ander kunstenaars ’n terugslag.

Die aktrise Elma Potgieter sou in Lefra Produksies se klug My oom se vrou se plekkie opgetree het.

“Ek is bitter teleurgesteld. Wat kan ’n akteur anders sê?” Potgieter doen oorklanking en het onlangs aan ’n kortrolprent verfilm.

“Toevallig was ek saam met ’n kollega, Wynand van Vollenstee, in Pretoria toe hy ’n e-pos ontvang wat sê: Innibos gekanselleer. Ons is in meer as een opsig uitgehonger om op die verhoog te werk. Ek begin dink al intelligente mense in die wêreld is die Swede – dra ’n masker, was jou hande, hou jou afstand en leef soos ’n normale mens.”

Die sanger Willem Botha het baie na vanjaar se fees uitgesien.

“Ek sou die Saterdagaand tydens die hoofkonsert optree. Ek is so jammer oor die nuus dat ons nie die jaar sal kan Innibos nie. Dis elke jaar een van my hoogtepunte. Ek mis die mense by ons vertonings, die gees en die atmosfeer.

Tydens hierdie tydperk is ek baie dankbaar dat ek kon besig bly met Kwêla-opnames (as veldaanbieder van dié joernaalprogram op kykNET) en fotografie.”

Die aktrise Susanne Beyers sou in Retief Scholtz se jongste toneelstuk, Dobbel, optree.

Haar medespelers is Carla Smith, Cintaine Schutte en Illse Roos.

Die feesterrein is die hartklop van die Standard Bank Innibos Kunstefees.

“Ek het baie uitgesien na ’n heerlike somerfees in Mbombela,” sê Beyers.

“En nog meer om weer voor ’n regte gehoor te speel. Ons is ’n lieflike span mense bymekaar, dis ’n aangrypende teks en ons het so uitgesien daarna om dit met die Laevelders te deel. Ek was vanoggend baie hartseer om te hoor dat dit nie vanjaar gaan gebeur nie. Ek bly immer hoopvol – ons mag nie toelaat dat Covid-19 die kunste onderkry nie.”

Die sanger Wicus van der Merwe, wat in die LagNET-konsert sou optree, beskryf die atmosfeer van ’n kunstefees as “enig in sy soort”.

“Jy mis dit werklik. Ek en Margit Meyer-Rödenbeck sou saam optree en ek het werklik uitgesien om weer saam met haar te werk, maar nou ja, die virus het die hele wêreld se slaai erg deurmekaar gekrap.”

Volgens Van der Merwe is dit moeilik om in dié tye met nuwe projekte te begin.

“Daar heers ’n alewige onsekerheid. Jy kan so hard beplan as wat jy wil om ’n ‘regstreekse’ projek aan te pak, maar met die doelpale wat die heeltyd geskuif word, knor dit maar om dinge van die grond af te kry. Ek het myself maar besig gehou met aanlyn optredes soos die meeste kunstenaars om ’n inkomste te verdien en het probeer om op skryfwerk te fokus vir nuwe materiaal vir ’n stand-up show. Verder het ek ’n kursus gedoen om ’n gekwalifiseerde afslaer te word. ’n Man kan mos darem nie gras onder jou voete laat groei nie. Ek doen dit mos al vir jare, maar nou het ek papiere!”

Van der Merwe kon darem kop bo water hou.

“Jong, soos ons Weskus-mense sê, dit het maar getêrre! Ons het dit deurgemaak tot op hede, hoe weet ek self nog nie, maar ons is darem deur die ergste . . . deur die Genade.”

• Mense wat reeds kaartjies vir Innibos bespreek het, kan hul geld by Computicket terugkry.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.