Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Innibos
Judith Mason se werke by Innibos uitgestal
Linda Pretorius, Dinsdag se dahlias, olie op doek (30 cm x 30 cm)

’n Omvattende tentoonstelling van Judith Mason se werk, wat saamgestel is deur haar dogter Tamar, is een van die groot trekpleisters in Junie by die Innibos Nasionale Kunstefees in Mbombela.

Benewens Living Lines and Impressions: A Glimpse of Judith Mason’s Editions and Drawings wat in die Witrivier-kunsgalery uitgestal word, is al die uitstallings vanjaar te sien by die Laerskool Nelspruit, net oorkant die Boeke-oase by die Hoërskool Nelspruit. Dit is die kuns-oase gedoop. Die fees duur van 26 tot 29 Junie.

Die volgepakte program bestaan uit uitstallings van twee- en driedimensionele werk, gespreksgeleenthede oor kuns, asook vertonings van dokumentêre programme oor kunstenaars.

Die ontslape kunstenaar Judith Mason.

Die Mason-tentoonstelling word in ’n verklaring beskryf as ’n persoonlike blik op die werk van die enigmatiese kunstenaar, wat tot en met haar dood in 2016 net buite Witrivier gewoon het. Kunsteliefhebbers kan Mason se grafiese werk, tekeninge, ’n enkele kunstenaarsboek en tapisserieë besigtig. Grafiese drukwerk uit The Artists’ Press is ook ingesluit.

Johan Myburg, kurator van die fees se visuele kuns program, het ’n uitstalling van blomstudies saamgetrek vir die kunsoase.

Inniblom spog met skilderye van kunstenaars soos Elise Buitendag, René Eloff, Nigel Mullins, Linda Pretorius, Griet van der Meulen en Lientjie Wessels.

Volgens Myburg het blomme intrinsiek nie vir ons betekenis nie, maar ons gee daaraan betekenis hetsy persoonlike, kulturele en religieuse betekenis.

“Dink byvoorbeeld aan die wit lelie wat vir ons reinheid beteken en rooi rose wat kwalik op iets anders as liefde kan dui.”

Johan Stegmann, Piet Retief (selfportret van Johan Stegmann), 2018, houtskool op papier, 5 cm x 5 cm.

Hester Schoeman van die Loerie-tak van die plaaslike Vroue Landbou-unie gee haar interpretasie van die kunswerke in ses blomrangskikkings. ’n Replika van die Suid-Afrikaanse Nasionale Botaniese Instituut se inskrywing vir die 2019 Chelsea-blommeskou in Londen is tydens Innibos in die Laeveld- botaniese tuin te sien.

* Die Pretoriase beeldhouer Ruhan Janse van Vuuren se uitstalling van beelde in die Kuns-oase heet Hiraeth, ? Walliese woord wat iets soos heimwee of die verlange na ’n tuiste, ’n plek of ’n era beteken. Dit is dié gevoel wat die Duitsers “Sehnsucht” noem en wat in die sielkunde gebruik word as aanduiding van gedagtes en gevoelens oor aspekte van die lewe wat onvoltooid en onvolmaak is, en wat saamhang met ? hunkering na alternatiewe.

As kunstenaar is Van Vuuren deeglik onder die indruk van die onvoltooidheid en onvolmaaktheid van die ondermaanse. En so is die “ideale” figuur en die perfek afgewerkte beeld nie wat hy in gedagte het nie. Wat hom fassineer, is alternatiewe maniere om uitdrukking te gee aan die menslike figuur. Hy gebruik alledaagse mense as model, maar fokus op die imperfeksies en benadruk dit ook in sy bronsbeelde.

* iBloed: ’n Goeie dag vir ’n slag is Johan Stegmann se uitstalling van tekeninge en etse, sommige kwalik groter as 5 cm x 5 cm, waarin hy ’n verfrissende blik op die Suid-Afrikaanse geskiedenis gee. Met humor en met nadenke bied hy sy eie interpretasie van veldslae soos dié van Isandlwana en Bloedrivier, ’n rivier wat in Zoeloe Ncome heet. Stegmann verken met gesonde gebrek aan ontsag die standaard opvattings van teenoorgesteldes in sy tekeninge en etse. Dié uitstalling is te sien in die Kuns-oase.

Ruhan Janse van Vuuren, New Breed [Waiting 1], brons op Namibiese marmer, oplaag van 45.

* Anthony Boerma, wat die afgelope paar jaar saam met Jan Bhuda die Nasionale Premier-handwerkkompetisie reël en die uitstalling van die finaliste van 2019 in die Mbombela Burgersentrum aanbied, is ook die kurator van Walk Tall, The Right to Hope.

Vir dié uitstalling het Boerma 15 houtkerwers van Mpumalanga opdrag gegee om elkeen ’n kameelperd te maak, en 15 kunstenaars van Mpumalanga geleentheid gegee om op hul beurt en met hul kenmerkende kunsbenadering dié 15 beelde te interpreteer. Dié uitstalling is te sien in die Kuns-oase.

* Vir die duur van die fees word gesprekke met die kunstenaars om 11:00 by die Kuns-oase gevoer. Die gesprekke is gratis.

Op Woensdag 26 Junie is Myburg in gesprek met Tamar Mason; Donderdag 27 Junie met Ruhan Janse van Vuuren; Vrydag 28 Junie met Johan Stegmann; en Saterdag 29 Junie met John Anthony Boerma.

’n Span kunskenners van Aspire Art Auctions is vanjaar weer op Innibos met ’n verskeidenheid aanbiedings.

’n Kunsdokkie word daagliks om 10:00 in die Kuns-oase vertoon: Woensdag 26 Junie In Conversation: Kentridge & Dumas, regisseur Catherine Meyburgh (71 minute); Donderdag 27 Junie David Hockney at Tate Britain, regie deur Joshua White (28 minute); Vrydag 28 Junie Right through the Arts: Sam Nhlengethwa, regie deur Hedwig Barry (48 minute); en Saterdag 29 Junie Maggie Laubser, regie deur Retief Koch (8 minute) en Irma Stern: In Search of the Other, regie deur Merwede van der Merwe (15 minute). Toegang is gratis.

Aspire bied ook vier kunsgesprekke daagliks aan om 14:30 in die Kuns-oase: Woensdag 26 Junie is Marelize van Zyl aan die woord oor “Kuns as ? beleggingsbate”; Donderdag 27 Junie lei sy die gesprek “Grafiese drukwerk as beginpunt van ? eie versameling”; Vrydag 28 Junie gee Mark Attwood van The Artists’ Press nuttige en eerstehandse inligting in die gesprek “Ontdek grafiese drukkuns” en Saterdag 29 Junie kan die publiek kunswerke na die Kuns-oase bring vir waardasie deur die span van Aspire Art Auctions. Toegang is gratis.

Meer oor:  Mbombela  |  Innibos  |  Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.