Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Innibos
Kom kry vlerke in ‘Bêreboksie’ op Innibos

’n “Huwelik tussen die kunste” ontstaan in Bêreboksie vol vlerke met storievertel, musiek en skilderye saam op een verhoog volgende week op die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees in Mbombela.

Lizanne Barnard

Met die regie deur Gerrit Schoonhoven gee die skryfstukke en skilderye van Lidi de Waal die toon aan met die tema van vrede met jouself vind. Voeg daarby progressiewe rock, boeremusiek, liefdesliedjies, reggae en ’n ouma wat nie op haar bek geval is nie.

’n Uittreksel hiervan word op 29 Junie om 13:00 op Woorde Innituin opgevoer, ’n geleentheid waar die digter Daniel Hugo ook vereer word.

Die span het reeds ’n volledige vertoning hiervan in die Atterburyteater in Pretoria opgevoer en gaan weer op 1 Julie.

“Wanneer jy vrede met jouself vind, kry jy vlerke,” sê Lizanne Barnard, voorheen van die groep Marimba!, wat saam met die ander orkeslede vir die musiek verantwoordelik is.

“Maak nie saak hoe dié vlerke lyk nie. As jy vrede het met jou verlede en jou omstandighede kan jy jou toekoms tegemoet gaan.”

Barnard het ’n tyd lank De Waal se skryfstukke op Facebook opgemerk en uiteindelik besluit sy wil ’n produksie aanbied met haar werk.

Barnard het wel lank gesukkel om haar op te spoor en al het sy nie dadelik ingestem nie, was De Waal geëerd oor die voorstel.

“Dit is ligte, eenvoudige vermaak,” sê Barnard.

“Dit is plat op die aarde en nie bang vir heilige koeie nie.”

Elize Cawood

Die aktrise Elize Cawood vertel die ouma se stories – ’n karakter wat nie op haar bek geval is nie.

“Ouma bly op ’n klein dorpie,” sê Barnard.

Die stories word deur die oë van die ouma se kleinkind vertel.

“Sy is nie skaam om ’n mens te wees nie. Sy is ’n sterk figuur en so eerlik. Sy skroom nie om mense ’n piece of her mind te gee nie.”

Net so handel die musiek en die skilderye oor dieselfde tema.

“Die skilderye se tema is merendeels vroue en dikwels het die mense vlerke in Lidi se skilderye.”

Barnard, wat saam met Leon Ecroignard, Pyjama Shark en Thys van Deventer optree, het die toonsetting van 13 van De Waal se stories gedoen. Die toonsettings verskyn ook op Barnard se nuwe album, Gevlerktes.

Een van die liedjies “Stem van die see” is ook tans op RSG te hoor.

* Woorde Innituin word aangebied in die

Suikerbossie-teetuin op die Barberton-pad (R40).

Toegang kos R182, wat ligte verversings insluit. Bespreek by Computicket.

Die konsert in die Atterbury-teater begin om 17:00. Kaartjies kos R180 tot R200.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.