Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Innibos
Laurika Rauch en haar man word vereer

Sy eerste liedjie, oor die bankrower André Stander, is nooit uitgereik nie, sê die liedjieskrywer Christopher Torr wat saam met sy vrou, die gewilde sangeres Laurika Rauch, ’n eerbewys vir hul lewenslange bydrae tot Suid-Afrikaanse musiek gaan kry by die Innibos-kunstefees wat van 26 tot 29 Junie in Mbombela gehou word.

Chris Torr, Laurika Rauch
Die liedjieskrywer Christopher Torr en sangeres Laurika Rauch ontvang ’n eerbewys vir hul bydrae tot Suid-Afrikaanse musiek tydens Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees in Mbombela. Foto: Phyllis Green

Oor sy eerste liedjie sê hy hulle het week ná week gesien hoe hy dan hier en dan daar ’n rooftog uitvoer.

“Dit was soos die Wilde Weste. Toe is hy dood in Amerika. Die lied, wat in Engels geskryf is, begin met ‘Didn’t we hope it was your feet sticking out from under a olive green sheet’.”

“Ek het dit probeer toonset, maar toe kom ek agter ek het ’n Beatles-wysie gebruik,” sê Rauch wat vanjaar 40 jaar in die musiekbedryf is en ’n versamelstel uitgereik het om dit te vier.

Christopher Torr
Christopher Torr, ’n professor in ekonomie, het talle liedjies geskryf wat deur Laurika Rauch bekend gemaak is. Foto: Phyllis Green

Torr, ’n professor in ekonomie, is die skrywer van liedjies soos “Stuur groete aan Mannetjies Roux”, “Stille waters”, “Die mense op die bus” en “Die gang” wat deur Rauch bekend gemaak is.

“In ’n liedjie probeer jy oor abstrakte dinge soos die verlange en die liefde praat, maar jy gebruik konkrete dinge om dit te beskryf,” sê Torr.

Van reën gepraat, duik die lied “Stuur groete aan Mannetjies Roux” in ons gesprek op.

Terwyl Rauch koffie skink in hul huis buite Pretoria, dink ’n mens aan die liriek:

My oom drink koffie en my tannie tee

Ek vra oor die reën en hy sê ja-nee

En hy drink soet koffie met sy een oog toe

Torr, self ’n plaasseun van die Oos-Kaap, brei uit oor die skryf van die liedjie.

“As jy emosie wil wek, moet jy daardie konkrete dinge bymekaar bring waarmee mense kan assosieer. Almal ken ’n eksentrieke oom of tante.”

Torr is gebore op Graaff-Reinet, maar het op ’n plaas in die distrik Hofmeyr grootgeword.

“Ons het meestal sake op Middelburg gedoen, maar Hofmeyr was die naaste. Vir stukkende trekkers het ons na Cradock gegaan. Ons plaas was langs die Teebusrivier. Destyds was die pad daarheen nie geteer nie.”

Dis ook op die plaas waar sy pa die woord “dieselien” gebruik het, ’n woord wat in “Stuur groete aan Mannetjies Roux” voorkom.

Torr bly getrou aan die streekstaal om ’n storie outentiek met ’n liedjie te vertel.

Ná skool is hy na die Universiteit Stellenbosch waar hy en Rauch mekaar ontmoet het.

Hul onderskeie kamermaats het mekaar geken en so het hulle op dieselfde partytjie beland.

“Die partytjie was by Laurika-hulle se woonstel en al die boeke op haar boekrak was omgedraai. ’n Mens kon net die wit kante voor sien.”

Rauch lag hieroor.

“ ’n Vriendin het vir my gesê jy neem jou boeke van alle tye oral met jou saam, en jou boeke moet verteenwoordigend wees van wie jy is om mense te beïndruk. Toe draai ek dit om en vra en nou? Nou is ek mos nog steeds ek. Ek het darem die vorms en groottes geken!”

Innibos
Laurika Rauch vier vanjaar 40 jaar in die musiekbedryf. Foto: Willem Botha

Rauch het op die partytjie gesing en kitaar gespeel.

Torr het ook gesing.

“Ek sing toe ‘Gabriël, ek gaan nou sterwe’. Dan lag almal. Dan kan niemand agterkom dat jy nie eintlik kan kitaar speel nie.”

Tog onthou Rauch dat hy soveel liedjies so mooi gesing het.

“Maar hy het elkeen net halfpad gesing en dan gaan hy aan na ’n volgende een.”

’n Ander keer het Torr ’n saamrygeleentheid benodig en Rauch het met haar ma se Mini gery.

Toe hy inklim, was daar nie ’n voorste sitplek nie.

“Dit was besig om herstel te word,” sê Rauch. Torr het agterin gaan sit asof hy in ’n taxi ry.

Rauch het later na Gauteng verhuis.

Torr, ’n Engelsman wat op skool van wiskunde en Engels gehou het, het op Rauch se aanmoediging begin skryf.

Hy het subtiel daarmee begin, sonder om dit te laat blyk.

Verlange is ’n leitmotief in Torr se liedjies.

“Nou wat vir my snaaks is van “Mannetjies Roux”, sê Torr, “is dat Laurika nie 12 was toe sy dit gesing het nie (die spreker sing “en ek is skaars 13”), maar niemand dink iets daarvan nie.

Die luim is reeds daargestel. Your mind is taken by the story that’s being told. Daar is die agtergrond van die plaas en reën.”

Reën was ook net so noodsaaklik op die plaas waar hy grootgeword het.

“En mense herken ’n oom wat altyd oor dieselfde ding gepraat het, soos ‘die drie van Mannetjies Roux’. Jy moet dinge noem waarmee mense hulle sal vereenselwig om emosie te wek. Almal verlang.”

Torr het ’n boek met Afrikaanse idiome.

“Jy begin met ’n metafoor wat bekend is. Jy skryf nie emosioneel nie, jy moet tegnies te werk gaan. Dit help as jy ’n wysie het, want dan moet die woorde net inpas.”

Al werk hy baie tegnies, kom die inhoud van die lied wel uit die hart.

Rauch het in die verlede toonsettings gedoen.

Chris en Laurika
Christopher Torr en Laurika Rauch. Foto: Phyllis Green

Die bekendste hiervan is sekerlik haar toonsetting van Ingrid Jonker se gedig “Toemaar die donker man” wat sy vir Stephan Bouwer se televisiemusiekreeks Fyn net van die woord gedoen het.

“Ek onthou my kamer het ’n linoleumvloer gehad met sulke oranje en geel blokkies op.

Ek het met die kitaar kamer toe gegaan en ek kon net drie of vier drukke speel, that was it, en so het ek die liedjie daar getoonset.”

Sy het drama op Maties gestudeer.

Sy het ook Rosa Keet se liriek “Moenie laat die kinders hoor nie” getoonset wat in die Jan Scholtz-rolprent April 1980 gebruik is waarin Rauch dit in ’n nagklubtoneel op die verhoog sing.

Haar vertolking van die “Toemaar die donker man” was ook in die dramareeks Phoenix & Kie gebruik.

Jana Cilliers het ’n nagklubsangeres vertolk waarvoor Rauch se sangstem gebruik is.

Rauch het ook die reeks se temalied, “Kinders van die wind” deur wyle Koos du Plessis, gesing waarmee sy bekend geword het.

Dit was 40 jaar gelede.

“Ons is vreeslik dankbaar vir die groot voorreg om gesamentlik deur Innibos vereer te word,” sê Rauch.

Die versamelstel Laurika Rauch – 40 jaar bevat 15 albums se musiek. Daar is net ’n 1 000 versamelstelle beskikbaar en elkeen word genommer en deur Rauch geteken.

Haar hele katalogus is ook op iTunes en ander platforms.

* Besoek laurikarauch.com of stuur ’n e-pos na laurika@laurikarauch.com vir meer inligting oor die versamelstel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.