Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Innibos
Wonderlikhede in komiese ‘3 Susters’ op Innibos
Christine (Lizz Meiring), Anel (Margit Meyer-Rodenbeck) en Bianca (Nicole Holm) is die sibbe van 3 Susters.

Die skrywer Louis Pretorius, bekend om Die Boland Moorde en Die Boekklub, se komiese drama 3 Susters word op die Innibos Nasionale Kunstefees in Mbombela opgevoer. AJ Opperman het gaan kyk.

Soms kan ’n mens nie help om te wonder hoe dit is dat dieselfde bloed in sommige sibbe se are pols nie.

Nee kyk, in 3 Susters lê die appels maar baie ver weg van enige boom.

Dit is juis dit wat dit so prikkelend en komies maak.

Tog lekker dat ’n sterk televisiestem soos Louis Pretorius – dink maar aan Die Boland Moorde en Die boekklub – oor die wel en wee van die drie susters Christine, Anel en Bianca vertel. En daarby word drie top- komiese aktrises betrek in Lizz Meiring, Margit Meyer-Rödenbeck en Nicole Holm.

’n Storie oor broers en susters is dikwels wonderlike stof en ’n mens kan maar weet patos en diepte sal kop uitsteek.

Dié drie susters sit op die lughawe en wag op hul vlug na Thailand wat vertraag is. Dis die oudste suster Christine (Meiring) se 50ste verjaardag en haar jonger tweelingsusters gee hierdie reis as verjaardaggeskenk aan haar. Dis die einste Christine, wat eintlik bang is vir vlieg, wat maar net vir ’n rukkie van haar pligte as onderwyseres, ma en eggenote wil vergeet.

Maar nou sit hulle en wag. En kort-kort kom die nuwe aankondiging met ’n nuwe (latere) vertrektyd.

Stel jou voor hoe Christine, nadat sy met ’n ietsie gekalmeer is, met die gehoorlede begin praat asof hulle ook mense op die lughawe is.

Die regisseur Tara Notcutt benut al die komiese moontlikhede van die driemanskap Meiring, Meyer-Rödenbeck en Holm en gee hul wedervaringe menslik en lewensgetrou weer.

En dis nie oordrewe nie. Daarvoor plaas die susters sommer self ’n demper op mekaar se uitlatings.

’n Mens vóél vir elkeen van hierdie susters, maak nie saak of hulle mekaar verkeerd opvryf of mateloos omkrap nie. Elkeen dra maar aan haar bagasie, amper soos die tas wat Christine agter haar aansleep.

Wat taamlik ligsinnig én skerp begin, neem ’n ander wending as Bianca (Holm) vertel dat sy pas hul ma op die lughawe gesien het. Hul ma wat hulle dekades gelede verlaat het. Hul pa ly aan Alzheimer se siekte.

Dit is ’n produksie gestroop van voorspelbaarheid en met knap regie en klank wat die agtergrond en luim goed aanvul.

’n Mens vóél vir elkeen van hierdie susters, maak nie saak of hulle mekaar verkeerd opvryf of mateloos omkrap nie. Elkeen dra maar aan haar bagasie, amper soos die tas wat Christine agter haar aansleep.

Die verlede – die susters se herinneringe daaraan – word mooi geskets wanneer die kollig van tyd tot tyd net op een karakter val wat dan met die gehoor praat.

Dit help jou om ook in die prentjie te kom, maar dit bring wel nuwe vrae. Wees egter gerus, die teaterganger kry die antwoorde.

Of ’n storie met jou praat of nie, is die karakters die faktor wat ’n storie maak of breek.

Die nukke en humor van die driestuks hou jou ook nuuskierig en jy wonder of hulle uiteindelik op daardie vliegtuig sal klim.

Hy het laas op universiteit vir teater geskryf, maar welkom terug, Louis.

* Tot Saterdag. Kaartjies kos R167. Bespreek by Computicket.

Meer oor:  Lizz Meiring  |  Mbombela  |  Innibos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.