Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
KKNK
23ste KKNK gevul met hartstories

Die woord nasionaal in die naam van Suid-Afrika se eerste Afrikaanse kunstefees is vanjaar meer as voorheen beklemtoon. Die 23ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees sal veral onthou word vir die opklink van verskeie hartstories in verskillende tale.

David Vivers en Wessel Pretorius in Klara Maas se hart is gebreek. Foto: Hans van der Veen

Van Kharkams tot Loxton, van Kaapstad tot Johannesburg – leefwêrelde is oopgestel in verskeie uitblink-teaterproduksies. Uit die klassieke Afrikaanse teaterskat is Reza de Wet se Asem en Chris Barnard se Pa, maak vir my ’n vlieër, Pa aangrypend opgevoer. Dramas van jonger dramaturge soos Neil Coppen (Buite Land), Tertius Kapp (Liewer) en Jason Jacobs (In wag van, Stof Rooi en Kalahari Swaan) lewer indringende kommentaar op intieme en openbare leefwêrelde. ’n Keur van die beste teater op Suid-Afrikaanse verhoë was op die planke - die Baxterteater se Karoo Moose, ’n aanslag van die sinne en die satiriese We didn’t Come To Hell for the Croissants. Verwerkings van trefromans soos Mark Behr se Die reuk van appels, Monsieur Ibrahim en die Blomme van die Koran van Éric-Emmanuel Schmitt verryk die Afrikaanse teaterskat. So ook Hugo Taljaard se vertaling van Henrik Ibsen se Die vrou uit die See wat onder leiding van Henry Mylne opgevoer is en Marthinus Basson se vertaling van die Duitse dramaturg Roland Schimmelpfennig se Koninkryk van die Diere. Die dramaturg en teaterskepper Wessel Pretorius verdien ’n verhandeling van sy eie vir sy gawe om te vermaak en te besiel met twee tref-produkies Die ontelbare 48, en Klara Maas se Hart is Gebreek, Ensomeer: Die vloeistof Trilogie (saam met David Viviers).

Die vertolkings wat bybly is André Odendaal in Dop, Anna-Mart van der Merwe en Tarryn Wyngaard in Liewer, Pretorius in Die Ontelbare 48 én Klara Maas, Viviers in Klara Maas, Sandra Prinsloo in Pa, maak vir my ’n vlieër Pa, Kopano Maroga in Buite Land, en Dawid Minnaar in Monsieur Ibrahim (en as die bedremmelde mariboe in Koninkryk) en dan was Schalk Bezuidenhout was in volle vaart in sy vertoning Voksbesit – gewis die (puik) uitskieter onder vanjaar se reuse-komedie aanbod.

Gideon Lombard in Die reuk van appels. Foto: Stephanie Gericke

Kinders se liefde vir die kunste is gekoester in ’n veel sterker kinderteater-program. Die Neelsie, Langenhoven se woonhuis-museum is omskep in ’n kinderparadys waar ’n gevarieerde spyskaart vir van knikkertjies tot voortieners aangebied is. Daar was ook bekroonde jeugteater-aanbiedinge van die Hoërskool Durbanville en Jan van Riebeeck. Die groeipotensiaal vir die fees lê in tieners en wat vir hulle hier by die Karoofees aangebied gaan word.

Baron van Rheedestraat was vanjaar meer as ooit die pols met straatkunstenaars wat op hul seepkissie gespring en vermaak het. Internasionale kunstenaars het ook hier opgetree. By dit was ons getuie van ’n kunswerk wat daagliks stukkie vir stukkie vorm aangeneem het onder die hande Keith Dietrich en Dédrik Ruben Lourens. Die vraag is of hierdie straat, die voeraar na venues en eetplekke, ook vir korporatiewe lawaaimaak gebruik moet word? Kunstenaars wat nie geakkommodeer kan word nie behoort hier ’n platform kry – om nóg n aanslag van “gewilde’’ Afrikaanse kunstenaars wat covers sing naas die Rivierbuurt te hê, is nogal erg.

Dawid Minnaar in Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran.

Onder die yl aanbod visuele kuns was dit veral die tweede reeks Filmverse waar Afrikaanse digkuns, animasie en stemkuns saamkom wat getref het. Digters soos Jeanne Goosen, DJ Opperman en Elisabeth Eybers klink hier nuut op en die animaskiekuns borduur die gedigte se betekenis verder. Dit is die geesteskind van Diek Grobler en word ondersteun deur die ATKV. Die oeroue Karoolandskap nou nog meer kwesbaar deur die regering se wettiging van hidrobreking kom na die voorgrond in die kunstenaar Ronél de Jager se netjies saamgestelde tentoonstelling Broeigrond: Fertile Ground for Golden Regrets. De Jager se werk bevredig esteties, maar eis ook die aandag op oor die mens se misbruik van die natuur.

Die hand van die KKNK se nuwe kreatiewe hoof, Hugo Theart, kan reeds oral gesien word. Sy skakering van die komedie-aanbod, sy behoud van die plesiertjies van die groter gehoor, maar die inbring van donker komedies met ’n snykant, val op. Sy aandag en uitreik na belowende jong talent sonder om die klassieke in te boet, maar bowenal sy uitreik na teaterlui met ’n ander invalshoek op die Suid-Afrikaanse werklikheid. Só word die fees divers en inklusief.

* Die skrywer het nie genoeg van die musiekaanbod op die fees beleef om daaroor te skryf nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.