Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
KKNK
Bekroonde Uitkampteater uitgebrei
Uitkampteater op verlede jaar se KKNK. Foto: Hans van der Veen

Vanjaar spog die bekroonde Uitkampteater op die KKNK met ’n groter aanbod.

Uitkampteater is vroeër vanjaar met die Fiëstas se Blou Stoel bekroon en was volgens die Fiësta-paneel verantwoordelik vir “die opwindendste teaterervaring van 2016”.

“Ná die wegholsukses van verlede jaar se eerste Uitkampteater is vanjaar se aanbod groter met meer kunsvorme en genres,” sê Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van die KKNK, in ’n verklaring.

Volgens haar het Uitkampteater nou twee tuistes: Agt tentjies voor die Absa Burgersentrum en twee by Arbeidsgenot, die nuwe tuiste vir kindervermaak.

Danksy die ondersteuning van die Koninklike Nederlandse Ambassade in Pretoria sluit dit in twee produksies deur Nederlandse kortkunsspesialiste, opwindende werke deur jong en gevestigde teatermakers en die Eden Dramafees se wenproduksie.

Diep is nieverbale teater met Daan Mathot en Jan-Joost Alberts en Wentel is ruimtelike teater met Sonja Volmer en Dagmar Geerlings.

Twee dramas, Afsnypunt deur die wenners van die Eden Dramafees in 2016 en Sandra se laaste show met Igna Botha, word aangebied.

Afsnypunt vertel die storie van ’n ongehoorsame jong man wat deur sy ouers in ’n kamer toegesluit word. Sandra se laaste show handel oor ’n vrou wie se grootste droom was om ’n teateraktrise te wees, maar haar lewensomstandighede laat dit nie toe nie.

Die ander stukke is die sketskomedie Word ’n koei en ontsnap jou quarter-life crisis, Die toringvrou, Tweespalt, en The Swan Song, wat aangebied word ter nagedagtenis aan Brett Goldin, wat in 2006 in Kaapstad vermoor is.

Die agt stukke word daagliks van 10:00 tot 12:00 en van 15:00 tot 19:00 voor die Absa Burgersentrum in Baron van Reedestraat aangebied. Kaartjies kos R20 en kan vooraf in die straat gekoop word.

Vier Uitkampteater-stukke vir kinders word daagliks van 09:30 tot 15:00 by Arbeidsgenot aangebied. Dit is Cindershoeler, In die woud enKattekwaad, waar Sylvester, die Karoo se bekende rondloperleeu, in die spervuur beland en Nóg meer kattekwaad, waar Sylvester se avonture voortgesit word.

Kaartjies kos R20 per produksie en kan voor vertonings gekoop word.

Die KKNK word van 8 tot 15 April in Oudtshoorn gehou.

  • Besoek www.kknk.co.za vir die feesprogram.
Meer oor:  Kknk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.