Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
KKNK
Donkies dra die lanterns tot anderkant pandemie
Annamarie Janse van Rensburg

O, die donkie is ’n wonderlike ding. Veral nou, en veral vir haar.

Annamarie Janse van Rensburg skilder al donkiejare karoolandskappe, huise en . . . donkies.

Sy het sowat 300 skilderye gereed gehad vir haar kunsuitstalling op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees.

Maar toe kom die Covid-19-virus en, net soos die kunstefees, verdwyn haar drome van ’n uitstalling soos mis voor die son.

Sy moes ’n jaar se werk wegpak, maar as ’n donkie eenkeer groenvoer geëet het, is dit moeilik om haar daaruit te hou.

Janse van Rensburg het besluit om ’n paar donkies te skilder en ná die inperking teen ’n sakpakprys te verkoop.

Sy doen dit om besig te bly, aan te hou verf en aan mense ’n bietjie lig in die donker tyd te verskaf.

Meer as 500 bestellings van oor die aardbol heen is by haar geplaas.

“Ek moes op elke stukkie papier in die huis verf.”

Toe haar papier opraak, het vreemdelinge pakke papier voor haar deur in Oudtshoorn afgelaai.

“Die donkie is simbolies daarvan dat ons gedra word deur hierdie tyd en die wete dat ons meer kan dra as wat ons dink.”

Dié simboliek het ’n vlammetjie in die hart van vele aangesteek.

Haar donkie-idee het uitgekring na ’n wêreldwye spanpoging. Honderde mense, oud en jonk, van oor die wêreld heen stuur nou aan haar hul kunswerke van donkies.

Honderde en honderde donkies.

Die donkie is simbolies daarvan dat ons gedra word deur hierdie tyd en die wete dat ons meer kan dra as wat ons dink.

Dit is die stories van die mense wat self donkies verf en diegene wat by haar bestellings plaas, wat Janse van Rensburg aanraak.

Mense wat met koffie op karton donkies verf, ander wat met wyn verf, kinders wat by Oupa en Ouma ingeperk is wat kreatief raak.

Nog honderde en honderde donkies.

“Dis asof almal ’n sin kom skryf in my boek. Dis nie ek alleen nie. Elkeen vat ’n pen en skryf.”

Sy plaas elke donkie op haar Facebook-blad en die kommentaar daarop is vir elkeen wat ’n kunswerk maak ’n ligkol in die lewe.

Die donkies wat Janse van Rensburg self verf, gaan aan die einde van die Covid-19-pandemie na elke vasteland gestuur word.

’n Donkie is op pad na Italië. “Dis baie kosbaar as ’n mens die situasie daar in ag neem.”

’n Ander donkie is bestel deur die familie van ’n verpleegster wat rasend van bekommernis is.

’n Vrou uit Engeland het versoek dat Janse van Rensburg vir haar ’n donkie op ’n Afrikaanse koerant verf.

’n Man soek ’n donkie in die landsvlag se kleure.

“Ná die lockdown gaan ek probeer om al die donkies wat aan my gestuur is te installeer op een muur en dan wil ek dit afneem.”

Janse van Rensburg praat van die kunswerke as “ ’n trop donkies” as deel van ’n gedekonstrueerde skildery.

Dalk selfs vir ’n uitstalling op 2021 se KKNK of ’n koffietafelboek.

“Die tyd sal leer wat ons daarmee doen”.

Janse van Rensburg glo mense is, veral nou, op soek na lig.

En as die spreekwoordelike donkie die lantern dra, kan almal na die lig gelei word, een verfkwashaal op ’n slag.

  • Wondergem is redakteur vir projekte en streeknuus
Meer oor:  Hanri Wondergem  |  Donkies  |  Skilder
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.