Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
KKNK
'Freaks' vir ses Kannas benoem

’n Produksie waarin daar besin word oor die lot van die Khoikhoi-vrou Saartjie Baartman, wat in die 19de eeu as frats oorsee ten toon gestel is, het met ses die meeste benoemings losgeslaan vir die Kannas, die pryse wat prestasie op die Klein Karoo Nasionale Kunsefees vereer.

Ons is almal freaks hier, geskryf deur Ingrid Winterbach en geregisseer deur Nicole Holm, is benoem as beste teateraanbieding en Holm is vir haar regie én ontwerp. Lee-Ann van Rooi is as beste aktrise benoem en Albert Pretorius en Kay Smith onderskeidelik as beste vroulike en manlike byspeler.

Marthinus Basson se produksie van Marina Albertyn se Melk & vleis, asook Nico Scheepers se drama Nêrens, Noord-Kaap en Wolf Britz se Hierdie lewe het elk vier Kanna-benoemings gekry.

Al drie produksies is benoem as beste teateraanbieding op die fees en Scheepers, Britz en Basson is al drie vir hul regie benoem. Die akteurs Neels van Jaarsveld en Illse Roos is as beste akteur en aktrise benoem vir Melk & vleis, terwyl Geon Nel en De Klerk Oelofse as beste akteurs vir Nêrens, Noord-Kaap benoem is.  Mbulelo Grootboom is ook as beste akteur benoem vir sy spel in Gif/Poison/Ityhefu. Antoinette Kellermann is as beste aktrise in Hierdie lewe benoem. Britz is ook uitgesonder vir sy ontwerp van Hierdie lewe.

Die vrolike sirkusproduksie Babbelagtig is vir drie Kannas benoem: beste kinderteaterproduksie én debuutproduksie en Britz is vir sy ontwerp van dié narrespel benoem.

As beste musiekproduksie is Lepeltjie vol snare, die hulde aan Hannes Coetzee, die glyteelepel-kitaarspeler, benoem asook die kabaretvertoning Besselsen en die musiekensemble Afrika my verlange.

Die toneelstuk Ons is almal freaks hier se teks is deur Ingrid Winterbach en Nicole Holm is die regisseur. Foto: Jaco Marais

Ander benoemings

* Beste kinderteateraanbieding: Benewens Babbelagtig is Innie lug en Innie see van die teaterskepper Chenal Kock benoem.

* Beste opkomende kunstenaar: Du Toit Albertse vir Die Meermin-kompleks, Stephen Saayman vir Brandmerk en die Ensemble vir Die Nuwe Republiek van die Nuwe Nuwe Suid-Afrika. Die Kanna word deur Ton en Anet Vosloo geborg.

* Beste bydrae tot visuele kuns: Diek Grobler vir sy animasiekuns vir die produksie van Afrika my verlange, Johannes en Collen Maswanganyi se Dance and Carve with my Father en Jürgen Dünhofen se Re-Acclimate. Die Kanna is deur Absa geborg.

* Beste byspeler – manlik: Benewens Albert Pretorius is Richard September vir Swerfgoed en Ephraim Gordon vir Die dans van die watermeid benoem. Die Kanna is deur Kunste Onbeperk geborg.

* Beste byspeler – vroulik: Benewens Kay Smith is Nicole Holm benoem vir Swerfgoed en Gretchen Ramsden vir Die dans van die watermeid. Die Kanna is deur Kunste Onbeperk geborg.

* Beste debuutwerk: Benewens Babbelagtig is die ander twee benoemdes Swerfgoed en Doos/Box.

* Beste Uitkampproduksie: Die meermin-kompleks, Lolly en Doos/Box (Die Laaste Ding)

* Beste Teksprys: Bauke Snyman vir Swerfgoed, Du Toit Albertze vir Die meermin-kompleks en Philip Rademeyer vir Die laaste ding.

* Beste akteur: Benewens De Klerk Oelofse, Geon Nel, Neels van Jaarsveld is Mbulelo Grootboom as beste akteur benoem vir sy spel in Gif/Poison/Ityhefu

Die benoemdes vir n Kanna vir die beste debuutwerk is bewewens Babbelagtig ook Swerfgoed en You suck (en ander afgryslike waarhede).

Die Kannas word op 14 Mei in Kaapstad oorhandig. Die plek sal nog bekendgemaak word.

Die ATKV is die borg vir die regieprys en die prys vir teateraanbieding, Huisgenoot borg die prys vir musiekproduksie en die debuutprys word deur Media24 geborg.

Die Kannapaneel is vanjaar deur Mareli Stolp aangevoer. Die ander lede was Diane de Beer, Thami Mbongo, Rafiek Mammon, Amelda Brand, Tracey Saunders, Aidan Erasmus, Laetitia Pople en Retha Bornmann.

Meer oor:  Oudtshoorn  |  Kknk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.