Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
KKNK
Grootse ‘Samsa-masjien’ op film vasgevang

Teaterliefhebbers kry nou die kans om Willem Anker (dramaturg) en Jaco Bouwer (regisseur) se Samsa-masjien as verfilmde drama te geniet as deel van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se aanlyn fees.

Dis een van die produksies wat dadelik genoem word as mense gevra word watter feesproduksie hulle deur die jare bybly.

Toe dit in 2012 by die KKNK opgevoer is, het dit vier KKNK Kanna-pryse (uit ses benoemings) gewen. Nadat dit in 2015 in die Baxter-teater opgevoer is, was dit ook die groot wenner by die Fleur du Cap-pryse daardie jaar.

Cintaine Schutte het die stuk as baie jong aktrise gesien en vir haar was dit ’n ongelooflike ervaring om haar tydgenote Ludwig Binge en Ilana Cilliers saam met Antoinette Kellermann en Gerben Kamper in ’n werk van hierdie omvang te sien.

“Dit was so groot in alle opsigte. Vir my was dit asof my kop op tien tabs gelyk oop was.”

Resensente het behoorlik bontgestaan om die omvang van die stuk in woorde te probeer vasvang.

Die kunsredakteur van Netwerk24, Laetitia Pople, het dit as volg beskryf: “Alles in Anker se toneelstuk Samsa-masjien werk vervreemdend, dit is ’n totale aanslag op die sinne . . . Bouwer se visuele voorstelling is trefseker.”

Fahiem Stellenboom, bemarkingsbestuurder van die Baxter, beskou die stuk steeds as tydloos en die soort teater wat hy werklik waardeer.

“Dis ’n baanbrekerstuk en ruk die gehoor tot in die ingewande terwyl die moeilike onderwerp moeiteloos en briljant vertolk word. Dis absolute teater-kunsvakmanskap.”

Gerben Kamper en Antoinette Kellermann in ‘Samsa-masjien’. Foto: KKNK

Die resensent Marina Griebenow het dit tydens die speelvak in die Baxter as verbysterende teater beskryf.

“Jy word om die beurt meegesleur, gewalg, onthuts, uitgedaag en uiteindelik ontroer,” skryf sy in haar resensie waarin sy vyf sterre aan die stuk toegeken het.

Die vryskutresensent Naudé van der Merwe sê hy onthou Samsa-masjien ná al die jare.

“As ek terugdink aan die KKNK waar ek deur honderde produksies gesit het, is dit beslis een van die stukke wat ek onthou. Ongeag jou mening oor die stuk of die teks, is dit net ’n ondervinding wat jou jare lank bybly.”

Die stuk handel oor Gregor Samsa (Kamper) en sy vrou (Kellermann) wat op hul oudag by hul dogter (Ilana Cilliers) en haar man (Ludwig Binge) inwoon. Gregor ervaar ’n stelselmatige insek-wording, wat deur sielkundiges, psigiaters en dokters toegeskryf word aan die ouditiewe en taktiele hallusinasies van demensie-lyers. Oral waar hy kyk, sien hy insekte en voel hulle op hom loop. Sy dogter, ’n kopieskrywer, kleur dié verhaal verder in met vertellings aan haar terapeut.

Bouwer is in 2014 met die Kunste Onbeperk-prys vir Vernuwende Denke vereer. Hy beeld Gregor se insekwording meesterlik met behulp van klank, ritme en musiek uit. Samsa-masjien tree in gesprek met Franz Kafka se Die Verwandlung. Die verhaal speel op drie plekke op ’n dubbelverdieping stel af, in ruimtes wat doelbewus gekies is.

  • Kaartjies vir die aanlyn weergawe van Samsa-masjien – beskikbaar van Donderdag 8 Julie tot Sondag 1 Augustus – kos R150 met 10% afslag aan ATKV- en Kliek-lede. Kaartjies is by Quicket beskikbaar, by https://qkt.io/Samsa-masjien. Samsa-masjien het ’n ouderdomsbeperking van 18 jaar weens tonele met seks, naaktheid en sterk taalgebruik.
Meer oor:  Cintaine Schutte  |  Feeste  |  Willem Anker  |  Kknk  |  Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.