Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
KKNK
Jason Jacobs het geluister na stem wat roep
Jason Jacobs is vanjaar Kunste Onbeperk se Nuwe Stem.

Die seuntjie het in die kerksaal gesit en gedink: Daar is iets daar buite wat my roep. Ek moet net glo ek gaan dit vind.

Eers toe hy ’n ruk later die Magnet-teater se Die Vreemdeling op Vredendal se rugbyveld gesien het, het hy geweet wat dit is: “Ek het daar gesit en net geweet. Hier is die ding, die stem wat my roep. Die teater.”

Jason Jacobs is vanjaar Kunste Onbeperk se Nuwe Stem. Op net 25 en skaars vier jaar bedrywig in die toneelwêreld, het hy al drie dramas geskryf, werk hy aan nog twee, behartig hy regie en werk hy as stemafrigter by die televisieproduksie Suidooster.

Dan is hy ook ’n beurswenner van die Theatre Arts Admin Collective, kreatiewe hoof van die produksiehuis KleiSand, betrokke by die Magnet-teater se Early Years Company en die Mother Tongue Youth Arts Project in McGregor.

Hy glo in elke projek waarby hy betrokke is, sê Jacobs.

“Glo, werk, glo, werk en doen meer as jou deel. Gee alles, sit jou hart en jou siel in alles wat jy doen. Dis hoe jy sukses behaal.

“Nie dat ek dink ek is al suksesvol nie. Ek is nog baie klein, sommer nog ouma-se-kind. Ek moet nog baie groei en baie leer. Ek leer in alles wat ek doen. Vat byvoorbeeld waar ek by Suidooster betrokke is. Ek leer van die proses, van skryf, van regie. Dis asof ek voorberei word vir iets meer.”

Jacobs meen die drama Die grondgrawers waaraan hy nou werk, kan dalk nog “ontwikkel in episodes”. Die ander nuwe drama waaraan nog ’n bietjie geskaaf moet word, is Duskant die lig.

Vanjaar is daar drie van sy stukke op die KKNK te sien – Kalahari swaan, In wag van en Stof rooi.

“Dis eintlik ’n trilogie wat reeds in 2015 met Kalahari swaan begin het. Daar is ’n diep struktuur wat deur al die stukke loop. Dit sal goed wees as gehore al drie sien.

“Ek skryf oor goed wat ek ken en dan gaan dit deur ’n proses van vrae vra. Dan kom die elemente van die akteurs en dan die gehoor by.

“Ek glo nie in vinnige spookasem-teater wat ingestel is op geldmaak nie. Dis my groot wens dat almal wat betrokke is, iets kan saamneem wat genesing kan bring.”

Dit het nog nie behoorlik by hom ingeskop wat die Nuwe Stemme-prys vir sy loopbaan kan beteken nie.

“Ek hoop en vertrou dat dit in die toekoms kan help met dramas en boeke wat ek nog wil skryf. Ek weet daar is baie teatermakers wat net so goed en beter is as ek. Dis nie omdat ek beter is dat ek die prys gekry het nie. Ek glo ek is net baie geseën.”

* Opvoerings van Jacobs se drie dramas by die KKNK is Kalahari swaanvan 9 tot 12 April, In wag van van 8 tot 10 en 13 tot 15 April en Stof rooiop13 en 15 April, almal in die Laerskool Wesbanksaal. Bespreek by Computicket.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.