Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
KKNK
KKNK: Debute, Kaktus en die Ndlovu-koor deel van program
Die akteur Reginald Hufkie se lewensverhaal het die toneelstuk ‘Die atleet’ geïnspireer.

’n Drama oor die effek van ’n tiener se selfdood op ouers, geskryf deur ’n voorste dramaturg wat self met depressie geworstel het, die ware lewensverhaal van die Huis Lelieveld-akteur Reginald Hufkie, wat wees grootgeword het en hom as wedloopstapper onderskei het, en die terugkeer van die teaterskepper Nicola Hanekom met ’n magiese plekspesifieke teaterstuk.

Dít en veel meer wag vir teaterliefhebbers op die 26ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees van 23 tot 29 Maart in Oudtshoorn. Daarby keer die rockmakietie Kaktus op die Vlaktes terug en die gevierde Ndlovu-jeugkoor tree op.

In aanloop tot die 2020 Olimpiese Spele in Tokio het Lizz Meiring die aangrypende tweemanstuk Die atleet geskryf. “Dit is geïnspireer deur die lewensverhaal van die akteur Reginald Hufkie en handel oor ’n ouer vrou wat ’n weeskind afrig in wedloopstap en hoe beide se lewens handomkeer verander.” Dit handel eintlik oor die wedloop van die lewe en blote oorlewing, vertel Meiring. Hufkie speel teenoor Karin van der Laag. Hufkie is sedert 13 wees en het in ’n staatsweeshuis grootgeword.

*Die verskynsel van tienerselfdood blyk aan die toeneem te wees en Philip Rademeyer het Opdrifsel in opdrag van die Nasionale Afrikaanse

Die teaterskepper Marthinus Basson span kragte saam met Anna-Mart van der Merwe, Stian Bam en André Roothman vir ’n Afrikaanse verwerking van die Sweedse teaterskepper Lars Norén se ‘Terminaal 3’.

Teaterinisiatief (NATi) geskryf. Hy kon in die skryf terugkeer na sy eie tienerdae, waar hy ook aan depressie gely het en homself om die lewe wou bring, sê Rademeyer. “Die skryfproses is gedryf deur dié vraag: Indien ek geslaag het, wat sou die effek op my ouers en my susters gewees het.”

Sy stuk fokus op die mense wat agterbly. “Ek het ’n verhoudingsdrama geskryf oor die ouerpaar Mara (Tinarie Van Wyk Loots) en Bernard (Brendon Daniels) en hul rouproses in die weke, maande en jare ná die dood van hul seun. Daar is geen bloudruk vir rou nie, sê Rademeyer.

“Die vrae en emosies, soos verwyt en selfbeskuldiging, wat ’n mens in die rouproses het – en spesifiek ná ’n selfdood – plaas geweldige druk op ’n verhouding.”

Nicola Hanekom se plekspesifieke stuk ‘Mirre en aalwyn’ word aangebied voor ’n vervalle huis in Oudtshoorn.

*Amalia Uys en Vinette Ibrahim is te sien in Hanekom se Mirre en aalwyn, wat afspeel voor ’n vervalle huis in Oudtshoorn. Dit handel oor Jesse, wat terugkeer na haar ouerhuis met idees wat haar familie uitdaag en die skyn laat wankel. Hanekom is bekend vir bekroonde werke soos Babel, Lot en Betésda, wat plekspesifieke teater ’n instelling op die KKNK gemaak het.

*Anna-Mart van der Merwe, Stian Bam en André Roothman span saam vir ’n Afrikaanse verwerking van die Sweedse teaterskepper Lars Norén se Terminaal 3, met regie deur Marthinus Basson. Norén se werk is werklikheidsgetrou en fokus gewoonlik op familie- en persoonlike verhoudinge.

*Karatara, nóg ’n debuut aangebied deur die Figure of 8- dansgeselskap, handel oor verliese in die gemeenskap ná die Knysna-brande.

Die Ndlovu-koor gaan by die 26ste KKNK in Oudtshoorn optree.

Treffers van ander feeste doen ook aan in Oudtshoorn, soos Queenie-hulle (geskryf deur Christo Davids) wat handel oor bergies wat die regering aanvat en Tien duisend ton (met Cintaine Schutte en Albert Pretorius) waarin groen sake aan die orde kom. Albei produksies is vir etlike kykNET Fiësta-pryse benoem, onder meer vir beste aanbieding.

Onder die solo-stukke wat opgevoer gaan word, tel Sandra Pinsloo in Kamphoer, Schutte in Marita van der Vyver se Die dinge van ’n kind, Hannes van Wyk in Sê groete vir Ma, Chris Vorster in Die hart verklap, asook vertonings deur Dowwe Dolla (Margit Meyer-Rödenbeck) en Marion Holm.

Gehore kan ook vir Dawid Minnaar en Jana Cilliers sien in Wessel Pretorius se Wilde-als, Rehane Abrahams in Brandbaar en Frank Opperman en Henriëtta Gryffenberg in Lara Foot se Die vermoeienis van vlerke.

Gratis vermaak word in Baron van Reede-straat, die hart van die fees, aangebied. Die Netwerk24-feeskafee is die tuiste van die ATKV-Boeke-oase, -boekgesprekke en ook die gewilde Die Burger Praat Saam-reeks. Uitkampteater, straatteater en ’n nuwe opwip-venue, die Santie de Jager-digtersden, sal ook sorg vir verdere vermaak vir feesgangers. Die venue is vernoem na Santie de Jager, wat ’n passie vir digkuns gehad en ’n belangrike rolspeler aan die begin van die KKNK was.

Die Kuierbuurt is die bymekaarkomplek vir alle kultuurdiere, daar is bedrywighede vir die jongspan in die Speelbos, daar is ook kosstalletjies, kroeë en rusareas en die markstalletjies waar ook demonstrasies aangebied word.

Musiek word heeldag aangebied en daar is ses opelug-piekniekkonserte, van rymklets tot swing. Van die hoogtepunte sluit in Kaktus op die Vlaktes wat terugkeer op die Vrydagaand (27 Maart) en die Ndlovu-koor is te sien op die Donderdagaand (26 Maart). Die fees word afgesluit met ’n Sondagmiddag-konsert op 29 Maart.

Feesgangers kan munt slaan uit die afskop-promosie – ’n Kuierbuurt-weekkaartjie kos R250 van 16 Desember tot 16 Januarie. Die goue promosie bied ’n Kuierbuurt-weekkaartjie vir slegs R225 vir persone 70 jaar en ouer. Dié kaartjie is van 16 Desember tot 23 Maart beskikbaar.

Oudtshoorniete kan tussen 27 en 31 Januarie slegs by die Kunste Onbeperk-kantoor ’n Kuierbuurt-weekkaartjie teen R200 koop. Die weekkaartjie sluit alle konserte, musiek en markte in wat dwarsdeur die week in die Kuierbuurt aangebied word.

Kaartjieverkope open Maandag om 10:00 by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home.

Om verblyf te bespreek, stuur ’n e-pos na verblyf@kunste.org.za of bel 044 203 8600.

Navrae: 044 203 8600 of stuur ’n e-pos na media@kunste.org.za.

Meer oor:  Kknk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.