Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
KKNK
KKNK kry groen lig vir konserte in Kango-grotte
Die Kango-grotte. Foto: Argief

Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) het ’n buitengewone groen lig gekry om vir die eerste keer in 24 jaar twee konserte in die Kango-grotte aan te bied.

Volgens Alison Moos, bedryfsbestuurder van die grotte, gaan ’n moratorium – wat konserte in die grotte sedert 1996 verbied – tydelik gelig word sodat die sanger Karen Zoid en die pianis Charl du Plessis elk ’n vertoning daar kan lewer.

“Ons wil eintlik met hierdie twee unieke konserte bewusmaking skep, nie net om die kollig te plaas op die uniekheid van die grotte nie, maar ook die bewaring daarvan,” sê Moos.

Sy sê die moratorium is juis ingestel om enige skade tydens ’n konsert in die grotte te verhoed en om ook die impak van klank, beligting en konsertgangers op die grotte ordentlik na te vors.

“Ja, die grotte is ’n besigheid en ’n belangrike trekpleister vir toeriste, maar die moratorium se hoofdoel is om die grotte vir toekomstige generasies te bewaar,” sê sy.

“Heelwat geleenthede is sedert die 1960’s in die grotte aangebied, maar die langtermyngevolge daarvan op die grotte is nooit werklik in ag geneem nie; daarom het die (Wes-Kaap) provinsie ingegryp en die moratorium ingestel.”

Karen Zoid. Foto: Anelia Loubser
Karen Zoid. Foto: Anelia Loubser

Moos sê toestemming moes by Erfenis Wes-Kaap verkry word om die uitsondering moontlik te maak. Die vergunning is slegs met streng vereistes toegestaan.

“Die Kango-grotte én die KKNK se personeel moet tydens die konserte teenwoordig wees om te verseker dat enige impak op die grotte minimaal is en ook om konsertgangers se veiligheid te verseker.

“Die vergunning word ook net eenmalig gemaak – sulke vertonings sal waarskynlik nie weer gedoen word nie.”

Hugo Theart, die KKNK se artistieke direkteur, sê in ’n verklaring dit is “werklik ’n groot voorreg om as deel van vanjaar se KKNK die grotte deel te maak van die fees en twee besonderse konserte hier aan te bied”.

Hy het ook aangekondig dat ’n deel van die konserte se opbrengs aan dié “magiese natuurlike erfenis in die Klein Karoo” geskenk sal word.

“Ons wil ook ’n wyer bewusmaking oor die Kango-grotte stimuleer, en as deel van die geleenthede dra ons by tot die fondse om dié kosbare erfenis te bewaar.”

Zoid sal op 27 Maart die konsert Karen Zoid: Unplugged in die Kango-grotte saam met Henry Steel aanbied. Du Plessis sal net ’n dag later op Wêreldklavierdag die eerste pianis word om ’n solovertoning in die Kango-grotte te lewer – dít nadat hy in 2017 ook die eerste pianis was om ’n konsert op Tafelberg aan te bied.

“Ek is in die wolke. So iets gebeur net een keer in ’n leeftyd,” het Du Plessis aan Netwerk24 gesê.

Du Plessis was in 2017 die eerste pianis om ’n konsert op Tafelberg te lewer. Foto: Bernard Brand
Die pianis Charl du Plessis. Foto: Raphael Hadad

“Die logistiek agter so iets is net snaaks: ’n Steinway-vleuelklavier van sowat 500 kg sal by die grotte ingedra moet word. Ek sal darem die dag van die trek by wees wanneer die klavier sonder sy pote op ’n trollie daar ‘ingewiel’ word.

“Daar is ook trappe, wat ’n nagmerrie is, maar ek was onlangs daar (by die grotte) en ek dink alles sal goed afloop.”

Du Plessis gaan werke deur Rachmaninoff, Chopin, Bach, Beethoven en Gershwin uitvoer. Hy borrel van opgewondenheid.

“Om in so ’n ruimte te speel is baie spesiaal, en dit is natuurlik baie anders as ’n konsertsaal.

“Ek wil ook hê mense moet ’n deel van my uitvoering in totale donkerte beleef, so ek gaan op ’n punt vra dat al die ligte in die grotte afgeskakel word.

“Ek dink veral dít gaan vir my én konsertgangers ’n wonderlike ervaring wees.”

  • Die konserte Karen Zoid: Unplugged in die Kango-grotte en Charl du Plessis: Die Kango-grotte-konsert vind onderskeidelik op 27 en 28 Maart om 20:00 plaas. Kaartjies teen R500, wat verversings om 19:00 insluit, kan vanaf Vrydag om 10:00 by Computicket bespreek word. Konsertgangers moet daarop let dat hulle sowat 70 trappe afwaarts na die Van Zyl-saal in die grotte sal moet klim. Hulle sal die vertrek via ’n uitgang verlaat wat die klim van trappe na bo verg.
Meer oor:  Musiek  |  Oudtshoorn  |  Kknk  |  Klassieke Musiek  |  Karen Zoid  |  Charl Du Plessis  |  Kango-Grotte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.