Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
KKNK
KKNK neem jou op reis deur reusestories

Om ’n kunstefees soos die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn by te woon is soortgelyk aan reis – jy ervaar ’n legio indrukke, beleef talle stories uit soveel verskillende oorde dat jou hart en gees nie anders kan as om behoorlik uit te sit nie.

Dawid Minnaar in Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran. Foto: Jaco Marais

Daar is die gewilde Uitkampteater waar jy vir net R20 ’n belewenis vir die sinne koop en wat ’n jonger generasie teaterskeppers na die binnekring bring, die kinderteater is op sy sterkste nog en dan is daar die stewige aanbod in die teaters waarvoor jy dan nou eintlik hier is.

Dikwels word ’n reusestorie, wat jy wil inpak vir saamdra, met die minimum rekwisiete vertel.

Een so ’n verhaal is Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran van die regisseur Philip Rademeyer. Dit is ’n aangrypende storie oor Momo, ’n eensame Joodse seun, wat ’n vriendskap met die bejaarde Monsieur Ibrahim in Parys aanknoop.

Hy help Momo goedig reg dat hy nie ’n Arabier is soos wat almal in hul onkunde dink nie, maar ’n Turk en nie ’n Moslem nie, maar ’n Soefiet. Twee gemeenskappe – Joods en Turks – wat vir mekaar geslote is, word nog wyer ontsluit.

Momo word afgeskeep deur sy pa, wat rou oor sy vrou wat met ’n ander man weggeloop het. Die seun vlug na die strate en loop hier die winkelier Monsieur Ibrahim raak. Al steel hy blikkies kos van sy rakke af reik Ibrahim uit na die seun en word ’n ware pa vir hom. Daar vorm ’n hegte band wat oor generasies en kulture heen strek. Hier leer Momo berusting in Ibrahim se stil aanvaarding: “Ek weet wat in my Koran staan.” Hulle gaan saam op reis en dans die dans van die derwisj, waar hul hartklop een met die heelal word.

Dawid Minnaar vertolk al die karakters uitmuntend – van Momo, Ibrahim, die straatvroue, sy ma en pa. Deur net sy hand effe anders te draai, sy stemtoon te lig of te verdiep staan hierdie mense voor jou geestesoog. Jy drentel agter hulle aan en laat hulle moeilik agter.

Die vertaling van Éric-Emmanuel Schmitt se Monsieur Ibrahim et les fleurs du Coran het sielvol en delikaat in Afrikaans tuisgekom danksy Naòmi Morgan se skitter-vertaling.

Van die strate van Parys na ’n armoedige gehuggie in die Klein-Karoo, waar ’n storie van vergelding en verlossing rondom die verkragting van ’n vyftienjarige meisie uitkring. Die Baxter-teatergeselskap se Karoo Moose is in 2007 vir die eerste keer opgevoer en het plaaslik reeds 15 teaterpryse ingeryg. Dit is lewenskragtige teater met perkussie op dromme en emmers, energieke danse, sang en spraak. Ongelukkig is die gegewe ná ’n dekade steeds ’n gru werklikheid en is hierdie stuk net so relevant soos vanoggend se nuusopskrifte.

Dit handel oor die verskriklike geweld teen Suid-Afrika se mees weerlose – die kinders. Jy weeklaag saam met Thozama (Chuma Sopotela), jy sien die wortel van die kwaad – onbetrokke vaders, drankmisbruik teen ’n agtergrond van nypende armoede en ’n onbetrokke gemeenskap. Dit is hoogstaande teater wat sorg dat die kinderstemme wat hier opklink, jou agtervolg.

Ons reis na Kharkams en Vredendal, die grootwordwêreld van Jason Jacobs, wat vanjaar deur die KKNK as nuwe stem vereer word. In sy dramaproduksie In wag van word baie met min gegee, dit is kaalvoetteater wat ’n storie uittrap in spraak, dans en sang, ’n storie oor ’n ma, haar verlore seun en ’n gemeenskap wat tot elke prys aan geloof vasklou. Dit reik terug na ’n oer-Suid-Afrika se mites en eis die aandag van ’n moderne gehoor op magiese wyse.

Die fees duur tot 15 April.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.