Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
KKNK
KKNK nie meer net op Oudtshoorn
Sandra Prinsloo in ‘Die naaimasjien’. Foto: Natalie Gabriels

Waar feeste moet besin in watter gedaante en of daar hoegenaamd vanjaar feesgevier moet word midde-in die koronaviruspandemie, het die bestuur van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) besluit op ’n fees met ’n groter reikwydte wat veilig aangebied kan word.

Daar gaan nie soos gebruiklik uitsluitlik op Oudtshoorn feesgevier word nie.

Die moeder van die Afrikaanse feeste in Suid-Afrika het wel ’n vol program wat tot in Desember strek. Die aanbod is hoofsaaklik aanlyn, maar daar gaan ook gereeld opwip-vertonings en slypskole aangebied word soos die inperkings en Covid-19-maatreëls dit toelaat.

Teksmark: Daar is met internasionale rolspelers soos die Nederlandse ambassade bande gesmee vir die jaarlikse teksmark, ’n broeikas vir nuwe skryftalent. Die sesde Tekstmarkt, soos dit nou bekend staan, bied aan aspirant-dramaturge en -draaiboekskrywers die geleentheid om deur mentorskap van Nederlandse en plaaslike mentors hul drama- en rolprenttekste te ontwikkel. Dit word in Oktober in die Baxter-teater in Kaapstad aangebied.

Die KKNK het ook projekte met die Vlaamse verteenwoordiging in Suid-Afrika aangepak, maar meer inligting daaroor sal later bekend gemaak word.

Antoinette Kellermann in ‘Koningin Lear’. Foto: Nardus Engelbrecht

Daar is vindingryke maniere beraam om teater en verskillende vorme van vermaak op ’n toegankliker en veiliger manier by gehore uit te kry. So is die speelveld verruim na die naaste televisie, radio of rekenaar in kunsteliefhebbers se omgewing.

Meesterklasse: Daar word ook gefokus op die ontwikkeling van vaardighede, soos die KKNK en Nati-studio se meesterklas met Marthinus Basson wat fokus op regie en ontwerp. Ander meesterklasse volg eersdaags in verskillende dissiplines. Die verskeie inisiatiewe verskaf nie net werk aan kunstenaars in hierdie uitdagende tyd nie, dit bou ook vaardighede as die bedryf weer volledig oopgestel word.

WhatsApp-drama: Die fees stel binnekort die eerste Afrikaanse drama bekend wat op WhatsApp gevolg kan word. Volgens Hugo Theart, die artistieke direkteur van Kunste Onbeperk, speel die drama regstreeks af in ’n familie se WhatsApp-groep in die aanloop tot ’n familietroue. Die gehoor word deel van die groep se lief en leed.

Drama: Klassieke produksies wat op die Karoofees gedebuteer het, sal nou aanlyn beskikbaar gestel word. Teaterliefhebbers wat nog nie vir Sandra Prinsloo in Die naaimasjien van Rachelle Greeff gesien het nie of Willem Anker se Samsa-masjien, Reza de Wet se Asem of Antoinette Kellermann in Tom Lanoye se Koningin Lear beleef het nie, kan die grootse teaterervaringe binnekort aanlyn ervaar. So ook beloof Aardklop se produksie van Christo Davids se Queenie-hulle, Philip Rademeyer se Opdrifsel en Hannes van Wyk in Desiré Gardner se Sê groete vir Ma kykgenot uit die boonste rakke.

Voorlesings: ’n Voorlesing van William Shakespeare se Hamlet deur beroepsakteurs word op 30 Mei op die fees se webtuiste uitgesaai. Die voorlesing is onder spelleiding van die bekroonde teaterskepper Neil Coppen. Daar is ook ’n vennootskap met Bib, ’n aanlyn biblioteek waar luisteraars op hoorspele van hul keuse kan klik.

Jeug: Twee aanbiedinge wat veral gemik is op die jeug is DramawebSA, ’n aanlyn dramakompetisie vir leerlinge, en die rolprentprojek, Kortom, ’n voortsetting van verlede jaar se suksesvolle selfoon-rolprentprojek met Netwerk24.

Oudtshoorn: Verskeie projekte word in Oudtshoorn, die tuiste van die fees, aangebied. Die eerste Teksmark Oudtshoorn word aan die einde van Mei gehou om streekstories in te win en te ontwikkel. ’n Digbundel met gedigte en stories van meestal ongepubliseerde skrywers is ook in die vooruitsig. Die Dice-opleidingsprojek vir jong leiers in samewerking met die British Council, waar leiers van Oudtshoorn leiers van Manchester aanlyn ontmoet, is deel van die fees se betrokkenheid by die gemeenskap van Oudtshoorn. Skryfkursusse word deurentyd op die dorp in onder meer digkuns en drama aangebied.

Digbundel: Die werk van 142 digters is ingesluit in die KKNK se pandemie-digbundel, Maskers en Mure, waarin die gees van mense midde-in die inperking weens die Covid-19-pandemie vasgevang word.

Opera: Kaapstad Opera onderneem ook om later vanjaar met sy rondreisende opera La bohème Oudtshoorn aan te doen. Suid-Afrikaanse sangers wat nog nie internasionale loopbane begin het nie, neem deel daaraan.

Musiek: Enkele klassieke opvoerings onder die Klein-Karoo Klassique-vaandel word aangebied. Coenie de Villiers en Deon Meyer, bekend om die gewilde Karoo Suite-opvoerings, beplan aan ’n Karoo-Kersfees op die dorp.

Visuele kuns: Verlede jaar het die fees ’n virtuele galery begin onder kuratorskap van Dineke van der Walt. Kunsliefhebbers kan weer uitsien na so ’n galery waar hulle in hul eie tyd kan drentel, klik op kunswerke wat hul oog tref of met nog ’n klik meer inligting kan bekom oor die kunstenaar. Die konsep, soos saamgestel deur Van der Walt, is vroeër vanjaar met ’n kykNET-Fiëstaprys vereer.

Hou die kunsblad dop vir meer besonderhede. – Saamgestel deur Laetitia Pople

Meer oor:  Absa  |  Fees  |  Sandra Prinsloo  |  Oudtshoorn  |  Kknk  |  Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.