Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
KKNK
KKNK se teateraanbod bars uit sy nate

Die KKNK, vanjaar van 23 tot 29 Maart in Oudtshoorn, het oor die jare verskeie gedaanteverwisselings ondergaan, maar die teateraanbod is nog net so sterk, indien nie sterker nie, as ooit vantevore. Diane de Beer kies ’n paar waarna sy uitsien.

Fees van drama

Nicola Hanekom is terug by die fees met een van haar vreeslose maar fantastiese plekspesifieke stukke Mirre en Aalwyn. Sy is bekend vir haar werk in hierdie genre met haar plekspesifieke trilogie (Babel, Lot en Betésda), en ook die hartverskeurende Land van Skedels.

Al hierdie produksies het in die verlede groot sukses by die KKNK behaal. Vinette Ebrahim, Amalia Uys, Kenley Swart en Gretha Brazelle, wat al gereeld saam met Hanekom gewerk het, is in die rolverdeling.

Dit speel af in ’n vervalle huis net buite Oudtshoorn. Jessie keer terug na haar ouers se huis met magiese idees en konfrontasie in haar hart nadat sy baie jare nie daar was nie. Tydens haar besoek leer haar familie skrikwekkende goed oor haar. Die manier hoe sy na die wêreld kyk gooi die appelkar om, en daag die status quo uit. Dis plekspesifieke absurde teater.

Opdrifsel, ’n nuwe teks deur Philip Rademeyer, waarvan hy ook die regie behartig, met Tinarie van Wyk Loots en Brendon Daniels in die rolverdeling. Dit handel oor ’n paartjie wat die dood van hul tienerseun probeer verwerk. Daar is baie vrae, maar min antwoorde. Daar is spyt, verwyte, woede, gebroke harte en geslote deure. Maar hoofsaaklik gaan dit oor ’n paartjie wat oorweldig word deur hartseer en ’n pad vorentoe moet vind.

Dis ook die moeite werd om Rehane Abrahams se Brandbaarte kyk, ’n vertaling van haar stuk Womb of Fire. Lukhanyiso Skosana is verantwoordelik vir die sang. Dis ’n ingewikkelde, maar fassinerede teks wat ervaar en ondersoek moet word. Dit gaan oor ’n mens se wortels, soos vertel deur verskillende vroue met ingewikkelde agtergronde wat hulself in ’n wêreld bevind waar die kern van hulle bestaan, wie hulle is, ignoreer word. Sara Matchett behartig die regie, en Abrahams lewer uitstekende spel.

Wit Isse Colour: met Ronelda S Kampher en Nathan Trantraal as skrywers en Jason Jacobs as regisseur kan jy jou solank gereed maak vir vlymskerp briljante teater. Die teks is gegrond op Trantraal se eie ervarings en daaglikse ontmoetings, en ook voorheen gepubliseerde stories, waar alles van “toxic masculinity” tot ’n herverbeelde geskiedenis van Autshumao, oftewel Harry die Strandloper, en Jan van Riebeeck ondersoek word.

Terminaal 3 se rolverdeling is Edwin van der Walt, Anna-Mart van der Merwe, André Roothman, Carla Smith en Stian Bam. Dit is ’n vertaalde toneelstuk van Lars Norén met regie deur Marthinus Basson. Norén word deur baie beskou as die beste Sweedse dramaturg sedert Strindberg. Dis aksie vind plaas in ’n hospitaal se wagkamer waar ’n jong paartjie wag vir hul eerste kind, terwyl ’n ouer geskeide paar wag om die lyk van hul 19-jarige kind te identifiseer. Dit vra vrae oor die skade wat eiebelang aan kinders doen.

Zolani Mahola, die hoofsangeres van Freshlyground, het onlangs tydens die Amerikaanse tjellis Yo-Yo Ma se optrede in Kirstenbosch, ’n sielvolle encore saam met hom uitgevoer. En nou kom sy KKNK toe vir The One Who Sings, met regie deur Faniswa Yisa. Albei is onlangs vir Fleur du Cap-teaterpryse benoem. Mahola vertel haar persoonlike storie van grootword in die 1980’s in die Oos-Kaap, ’n wêreld van uitsluiting, en dan hoe dit ’n wêreld van insluiting word in die 1990’s toe sy haar professionele loopbaan begin. Dit kombineer storievertel en sang soos net sy kan.

Minke Marais is te sien in die anderwêreldse Waterbriefdeur Nico Scheepers en vertel die storie van Nina, wat vasgevang word in ’n montage van haar familie wat uitmekaar geskeur sal word as sy nie meer daar is nie. Sy’s vasgevang tussen die blou-en-wit teëls van die swembad waarin sy spring, sy dryf – oral en nêrens – terwyl sy haar familie se pyn waarneem.

Tienduisend Ton, Kamphoer: Die verhaal van Susan Nell en Queenie-hulle, is vir verskeie pryse benoem, so moet dit nie misloop wanneer dit by die KKNK is nie.

Bekroonde dansteater

Karatara, ’n fisieke teaterstuk met Dean Balie, Shaun Oelf en Grant van Ster van die Figure of 8 Dance Collective, was een van my gunstelinge op verlede jaar se Teksmark. Dis gegrond op die Knysna-vure van 2018, en vertel deur dans en drama die storie van die gemeenskap se verlies. Dis ’n versengende produksie wat op ’n opwindende manier vertel word, toeganklik, maar gelaai met energie en emosie. Dit ondersoek ook die impak van sosiale media, interpersoonlike verhoudings, politiek, geskiedenis en die gevolge van apartheid. Die teks is deur Wilken Calitz en Shaun Oelf en Figure of 8 behartig die choreografie. Gideon Lombard is die regisseur.

“Op soek na die perfekte Coloured vir ’n beter toekoms,” sê die opskrif in Die Son. Almal is op soek na ’n plek waar ras en identiteit nie ’n prioriteit is nie en waar jy as ’n individu gesien word, en nie die middelkind nie. Dankie, maar nee dankie! is ’n komedie wat die draak steek met die kwessies wat so baie mense se lewe oorheers.

Die Vermoeienis van Vlerke is ’n vertaling van Lara Foot se suksesvolle The Inconvenience of Wings, wat worstel met die impak van bipolêre versteuring op vriendskappe en familie. Sylvaine Strike is die regisseur en die rolverdeling is Henriëtta Gryffenberg, André Roothman en Chris Gxalaba in ’n opwindende herinterpretasie van ’n uitdagende toneelstuk.

Maak ook tyd vir lag

Brendon Daniels en Waldemar Schultz is terug as Pieter en Francois ná die sukses van hul eerste Road Trip. Die keer, in Dis 20h15, beplan hulle ’n bankroof. Maar dis ’n probleem as jy nie weet waar om te begin nie. Pieter hark die grootste skurk wat hy ken nader, Billy van Cash Invaders, om hulle te help met hierdie feilbare poging. Kan hulle dit doen? Sal hulle betyds ’n bank opspoor? Hopelik kan Schultz en Daniels weer dieselfde kameraderie vind vir hul tweede toneelstuk saam.

Kraai is ’n vertaling deur Wessel Pretorius van een van die dramaturg Mike Bartlett se toneelstukke. Wian Taljaard, Wynand Kotze en Karli Heine is in die rolverdeling en dit handel oor Johan wat besluit om vir ’n ruk sy kêrel nie te sien nie. Per ongeluk ontmoet hy dan die vrou van sy drome. Hy bring hulle almal saam om sy ware gevoelens te toets. Dit klink histeries en plofbaar, en het die regte bestanddele vir ’n ontploffing.

Moenie dié gespreksreeks misloop nie

Daar is verskeie ander genres wat ook ontdek kan word, maar iets wat my oog gevang het, is die David Piedt-gespreksreeks. Hy het ’n lang geskiedenis met die KKNK en word vanjaar met ’n Kunste Onbeperk-pryse vir sy lewensbydrae tot die KKNK vereer. Die minder sigbare kant van hierdie Klein Karoo-boorling is sy eie transformatiewe reis wat hom geneem het van bitter en uitdagende politieke aktivis na iemand wat vergifnis en versoening omarm het. Hy glo sy betrokkenheid by die KKNK, die kunste en Afrikaans, het ’n groot rol hierin gespeel.

Parallel met die Maya Anglo-filosofie, “die grootste tragedie in die lewe is stories wat nie vertel is nie,” sal hierdie gespreksreeks dit ten doel stel om ’n intieme spasie te skep waar mense na mekaar se stories kan luister en kan bydra tot die samehorigheid van ’n demokraties-Suid-Afrikaanse tapisserie. Hierdie gesprekke begin met Piedt en sy vrou, Marjorie, wat hul emosionele geskiedenis en persoonlike reise deel. Dit word gevolg deur gesprekke deur ander Oudtshoorn-inwoners en vind plaas teen die agtergrond van hul ervarings gedurende apartheid en die impak wat dit op hul besluite, keuses en lewensuitkyk in ’n post-1994-wêreld gehad het. Ivor Price lei die gesprekke.

Meer oor:  Kknk  |  Oudtshoorn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.