Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
KKNK
KKNK vereer 4 vir bydrae tot kunste
Lizz MeiringFoto: Jaco Bothma

Athol Fugard, Amanda Strydom, Lynelle Kenned en Lizz Meiring is Sondagaand deur Kunste Onbeperk, die maatskappy wat onder meer die KKNK aanbied, vir hul bydrae tot die kunste vereer.

Dit was by die funksie om die 25ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) bekend te stel. Die deftige geleentheid is by die Norval-stigting in Kaapstad gehou. Die tema van volgende jaar se fees is Kultuurdiere. Die fees word van 21 tot 27 Maart in Oudtshoorn gehou.

Athol Fugard is vereer met die Kunste Onbeperk-prys vir sy lewensbydrae tot teater. Die commendatio is deur die teaterlegende Mannie Manim gelewer. Fugard se toneelstuk Statements After an Arrest under the Immorality Act sal as ko-produksie met die Fugard-teater by die KKNK in 2019 debuteer.

Amanda Strydom het die Kunste Onbeperk-prys vir haar lewensbydrae tot musiek ontvang. Paul Boekkooi het die commendatio gelewer. Sy is die enigste kunstenaar wat reeds by elkeen van die KKNK se 24 feeste opgetree het. Sy sal in verskeie produksies by KKNK25 optree, asook in haar solovertoning Amanda Strydom – Miss Mandy.

Amanda Strydom

Lizz Meiring is vereer vir haar bydrae tot die kunste, nie net as aktrise, skrywer, regisseur en mentor nie, maar ook vir haar uitsonderlike werk vir die TBF (Teaterbystandsfonds), asook haar onbaatsugtige ondersteuning van jong talent en ander mense in die bedryf. Sy het die Kunste Onbeperk-prys vir diens aan die kunste ontvang en Pieter-Dirk Uys het die commendatio gelewer. Sy sal te sien wees in haar debuut-solovertoning Non met vakansie gedurende KKNK25.

Lynelle Kenned het reeds groot impak gemaak as aktrise, klassieke sanger en in musiekblyspele, en het al verskeie pryse verower. Sy ontvang die Kunste Onbeperk-prys vir Jong Stem, as ’n jong kunstenaar wat nog ’n groot impak op die kunstebedryf sal hê. Tertius Kapp het die commendatio gelewer. Kenned sal ook by verskeie produksies by KKNK25 betrokke wees.

Absa het tydens die geleentheid hul hernude ondersteuning aan die KKNK aangekondig en is as hoofborg bevestig. David Wingfield, bemarkingshoof van Absa Group Limited, het in ’n verklaring gesê: “Africanacity is ’n unieke woord wat ons geskep het vir die kenmerkende vermoë van Afrikane om altyd merkwaardige maniere te vind om dinge tot stand te bring.

Lynelle Kenned

“Kunstenaars en kultuurpraktisyns het dit deur die jare reggekry om dinge te laat gebeur wat ’n onuitwisbare impak maak op ons samelewing se psige.

“Dit is juis daarom dat ons voortgaan om hulle te ondersteun en geleenthede te skep waar hulle kan gedy. Die KKNK bied ’n platform waar al hul talente byeengebring kan word en met mense uit alle kringe gedeel kan word.”

Sprekers by die bekendstelling was twee voormalige uitvoerende hoofde van die fees, Karen Meiring en Pieter Fourie. Nina Swart het met hulle gesels oor die beginjare van die fees. Wicus Pretorius, redakteur van Tuis en Media24 se verteenwoordiger op die Kunste Onbeperk-direksie, het die stigtersborg verteenwoordig en het die borg se jarelange verbintenis belig.

Volgens Hugo Theart, die waarnemende uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk, is daar ’n opwindende program wat op feesgangers wag met vele debuutproduksies en uitstaande kunstenaars.

Athol Fugard

“Die 25ste jaar is natuurlik ’n nostalgiese viering van ’n kwarteeu van kunste in die Klein Karoo en 25 jaar van demokrasie. Ons ondersoek, herbesoek, stof af, maar ons kyk ook vorentoe en soos gewoonlik sal die fees ervarings uit die boonste rakke vir almal bied.”

Die volledige program word oor die volgende paar weke uitgerol, maar die aap is uit die mou gelaat met ’n paar hoogtepunte.

Die vlagskip-dramavertoning van die KKNK25-fees is Koningin Lear, Antjie Krog se vertaling van Tom Lanoye se herverbeelding van die klassieke Shakespeare-werk. Marthinus Basson is die regisseur, met onder meer Antoinette Kellermann, Anna-Mart van der Merwe, Rolanda Marais en Neels van Jaarsveld in die rolverdeling. Lanoye en Kellermann het tydens die geleentheid ook voorgelees in Nederlands en Afrikaans uit Koningin Lear.

Die jongspan kan uitsien na J&W – ’n groot musiekproduksie met die gewilde Jakkals en Wolf-stories, geskryf deur Malan Steyn, onder regie van Amelda Brand in samewerking met die Universiteit Stellenbosch se dramadepartement. Spesiale gaskunstenaars sal deel wees van die ervaring vir jonk en oud.

Wat visuele kuns betref, is daar nie ’n feeskunstenaar aangewys nie, maar die KKNK se kunskurator het aangekondig dat ’n besonderse retrospektiewe uitstalling van die KKNK se feeskunstenaars oor die jare die kern sal vorm van die jaar se visuelekunsaanbod.

Die Netwerk24 Feeskafee, die RSG-verhoog en die kykNET Leefarea sal weer tonne gratis aanbiedings en lewe in die hartjie van die fees bied. Dit sluit die bekende gespreksreekse soos Die Burgerpraat saam-diskoersreeks (saamgestel deur Ivor Price) en die ATKV Boekegesprekke in.

  • Die KKNK25-feesprogram is beskikbaar vanaf vroeg Januarie 2019 op die webwerf www.kknk.co.za en kaartjies kan vanaf 18 Januarie 2019 by Computicket gekoop word. Feesgangers kan ook by die Kliek!-klub aansluit: Kliek!-klublede ontvang verskeie voordele dwarsdeur die jaar en kan ook kaartjies voor die amptelike datum bespreek. Verblyfbesprekings is reeds oop en kan by 044 203 8600 gemaak word.
Meer oor:  Lynelle Kenned  |  Lizz Meiring  |  Amanda Strydom  |  Feeste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.