Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
KKNK
Kunstefeeste bly ’n emosionele reis

Kunstefeeste is vir baie mense net vrolike affêres met blêrmusiek op die strate waar ’n mens kan ronddwaal en dalk ’n celeb raakloop om mee ’n selfie te kiek. En dit is reg so.

Vir ander bly die wonder en rykdom van die jaarlikse byeenkomste die belewenis in die teaters en die vele emosionele reise waarop akteurs jou neem en die omwenteling wat dit in jou menswees bring.

Twee stukke staan sover uit op die Klein Karoo Kunstefees in Oudtshoorn. Albei stukke het gestroopte verhoë met net die akteurs wat met hul gehore praat en handel oor die verlies wat die lewe uit ’n mens kan tap.

Die impak van die dood van ’n kind op ouers en ’n huwelik is die grondslag van Gif/Poison/Ityhefu geskryf deur Lot Vekemans wat in 2017 op die Vrystaat Kunstefees gedebuteer het.

Ná jare ontmoet ’n man en vrou mekaar weer by die begraafplaas waar hul kind begrawe is – die seun wat hulle tien jaar gelede in ’n tref-en-trap-ongeluk verloor het.

Die geestelike wonde is steeds rou al blyk dit op die oog af dat albei met hul lewe aangaan. Tog is die vrou steeds vasgevang in haar rou terwyl die man ’n nuwe lewe in die Oos-Kaap begin het.

Geon Nel, Albert Pretorius en De Klerk Oelofse in Nêrens, Noord-Kaap.

Daar is woede en verwyte omdat hy net een nag, Oujaarsaand, padgegee het. Soms voel dit soos twee skermboksers in ’n kryt voor jou – vasgevang in ’n doellose geveg. Dan begin die spanning uitspoel, die karakters begin mekaar vind, hulle begin werklik praat en daar kom versoening selfs gemoedelikheid en liefde. Daar was baie gesnuif in die gehoor.

Tinarie van Wyk Loots en Mbulelo Grootboom bou en vorm hul karakters asof moeiteloos, hulle oorkruis die afgrond tussen hulle met algehele oortuiging. Die drama werk sagkens en sielkundig met sy gehoor – dit is helend en salwend.

Die dood van n geliefde is ook die inslag van die driemanstuk Nêrens, Noord-Kaap geskryf en geregisseer deur Nico Scheepers. Dit is soos Gif reeds ’n ouer feestreffer wat in 2017 op die US Woordfees gedebuteer het.

Drie broers kom byeen nadat hulle mekaar jare laas gesien het. Dit is hul pa se 60ste verjaarsdagviering op hul plaas Nêrens in die Noord-Kaap.

Die skielike dood van hul ma jare gelede eggo steeds hier en die onsigbare impak daarvan kan in elk van die drie se lewe gelees word.

Elkeen het verskillende maniere om hul verlies te hanteer; die getroue Frans, werp al sy energie in die plaas, Ronnie drink te veel en jag vroue en die jongste Andries swerf die wêreld doelloos vol asof iets hom rondjaag.

Dit begin as drie monoloë waar ons die karakters leer ken en eindig met hul interaksie op die partytjie. Andries keer as die Bybelse verlore seun terug en so word onderlinge struwelinge en jarelange wrokke blootgelê – ’n mens kan stukkies van elk van die drie eien aan jouself en geliefdes.

Scheepers is ’n bedrewe skepper van ’n emosionele landskap en kan die binnelewe van sy karakters in enkele kwashale skets.

Jy voel vir Albert Pretorius se Ronnie, al is hy so ’n afstootlike ou so ook vir die swerwer Andries stewig en sensitief omlyn deur De Klerk Oelofse, maar dit is Geon Nel se Frans wat jou bybly – die broer wat als regdoen, al die bande probeer bymekaar hou en nooit opgee nie. Nel ráák jou.

Soos die stuk se tweelingsuster Amper Vrystaat dra mens dié drie karakters saam met jou lank nadat die teater verdonker het.

Meer oor:  Kknk  |  De Klerk Oelofse  |  Oudtshoorn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.