Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
KKNK
Kunstenaars wil ook graag feesgangers wees
Frazer Barry

Soms wonder ’n mens waarna kunstenaars en ander wat by die KKNK-program betrokke is, sal gaan kyk wanneer hulle tyd het. Mariana Malan het ’n paar van hulle gevra.

Frazer Barry

Jy is vanjaar deel van die produksie Só vat jy die volksmusiek saam met die rap op die KKNK. Gaan die deelnemers (Hannes Coetzee, Churchil Naudé, jy en Deniel Barry) jul musikantjasse verruil vir dié van storievertellers?

Ons is baie opgewonde oor die So vat jy die volksmusiek met die rap omdat dit ons (myself, Deniel, oom Hannes en Churchil) in ’n ongewone posisie plaas. Ons maak mos maar musiek en ons word mos gewoonlik nie in die rede geval op die verhoog nie. Haidee Muller en Danie Marais is daar om seker te maak dat die musiek aangevul word deur ons persoonlikhede deur die regte vrae of miskien die verkeerde vrae te vra. Ons verwag om groot pret te hê tussen die kitaarsnare, skerpskerts en rymklets!

Wat, meen jy, gaan nuwe inligting wees vir die gehoor wat by julle gaan aansluit?

Mense wat ons musiek ken, ken nie noodwendig die inspirasie vir die musiek en die stories van ons lewens nie. Dit gaan nuut wees vir die gehoor. Oom Hannes, Churchil, Deniel en my begeerte is mos maar om net musiek te speel voor ’n gehoor, maar hierdie produksie is ’n uitsondering. Ons gaan uit ons gemaksone beweeg want daar word van ons verwag om ons menswees-ervaring ook te deel. Gelukkig is ons darem nou nie vreemdelinge wat vir die eerste keer ’n koppie koffie of drankie saam gaan geniet nie. Ek verwag ’n ontspanne en ligte luim.

Watter produksies gaan jy vanjaar by die KKNK bywoon en hoekom het jy spesifiek hierdie produksies gekies?

Ek en Deniel is by ’n gemeenskapsontwikkelingsprogram betrokke waar ons plaaslike talent gaan ontmoet en hulle gereed kry vir die verhoog. Abdu Adams en Austin Rose van Noem my Skollie-faam is deel van die span wat die plaaslike kunstenaars gaan slyp vir die verhoog. Wanneer ons nie besig is met dit nie, wil ek baie graag Kalahari Swaan van Jason Jacobs gaan bywoon en die kabaret Ir(ras)ioneel deur Des-Lee Mckenzie, ’n opwindende nuwe stem in Afrikaanse kabaret en drama. Ek is geprikkel deur hierdie twee produksies. Jason se werk word hoog aangeslaan en ek werk tans met Des-Lee in ’n produksie vir die Suidoosterfees. Sy beïndruk my baie met die manier hoe sy dink en haar energie en vermoë om deur die Suid-Afrikaanse subkultuur te sny met haar humor.

Magdaleen Kruger van RSG

Magdaleen Kruger, RSG-stasiebestuurder

RSG bied vanjaar weer ’n keur van radiodramas aan op die KKNK onder die titel Die beiteltjie. Vertel kortliks hoe julle op die inhoud besluit.

Die inhoud word bepaal deur die produksies wat RSG die vorige jaar uitgesaai het. Al die wenners van die RSG/Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie word ingesluit. Die res word gekies op grond van gewildheid en belangrikheid.

Is daar baie mense wat midde in die oorvloedige aanbod op die verhoë na radiodramas kom luister?

Die bywoning by Die beiteltjie verras elke jaar. Mense is uitgehonger om goeie dramas te hoor. Baie van die vertonings sit volgepak, en soms moet ons ekstra stoele indra. Die beiteltjie gee feesgangers ook die geleentheid om van die roesemoes van die fees te ontsnap en rustig te sit en verbeeldingsvlugte te neem. Dit is ’n intieme geleentheid en ons beplan nie om dit uit te brei nie, want dan gaan die intimiteit verlore.

Kry jy kans om self by produksies op die fees uit te kom en indien wel, waarna gaan jy vanjaar kyk en hoekom het jy spesifiek daardie produksies gekies?

Ek gaan nooit vir die hele feestyd nie, maar die tye wat ek daar is, verdeel ek my tyd tussen werk, rondloop en kyk na mense se gedrag, gesels met kennisse en vriende wat ek raakloop, hou ’n vergadering of drie, kyk graag na die kunsuitstallings, woon ’n klassiekemusiekuitvoering by en gaan na enkele teaterstukke. Ek hou van die ontwikkelingsaktiwiteite van die fees.

Elvis Blue

Elvis Blue

Jy bied vanjaar ’n produksie aan met die titel Elvis Blue – Kaal. Kan die gehoor verwag om meer van jou as mens te wete te kom?

Ja, definitief! Ek dink vir my is een van die wonderlikste goed oor musiek nog altyd die stories wat dit vertel. Maar soms as ’n mens net na die musiek luister, kry jy nie die volle storie nie. In hierdie produksie brei ek bietjie uit op van die stories agter die liedjies.

Is dit vertellings en musiek, of wat is die formaat?

Presies so. Hierdie vertoning is stories en musiek, en ek deel die verhoog met van my gunsteling musikante, ’n agtstuk-orkes.

Na watter produksies wil jy op die fees gaan kyk en hoekom het jy spesifiek hierdie produksies gekies?

Om eerlik te wees, een van my gunstelinggoed om te doen by die fees is om net saam met my vrou rond te drentel tussen die stalletjies en tente, fudge te eet, ietsie te drink en al die jong, nuwe kunstenaars te sien wat speel.

Peter Veldsman

Peter Veldsman

Jy is vanjaar op die KKNK ter viering van jou 75ste verjaardag en om stories te vertel van dinge na aan jou hart. Ek neem aan kos is ’n groot deel van die tafelgesprek?

Vanselfsprekend sal kos ’n groot deel van die gesprek oorheers. Ek sal probeer om die kosvrae te verdeel tussen humor en hartseer – dit so effens tegnies en histories te antwoord. Snaaks genoeg het ek as kind nie juis veel op Oudtshoorn gekom nie. Met Braam de Vries en Daniel Hugo as gespreksgenote sal ons sekerlik heelwat oor Izak-baie-praat met mekaar deel. Daar is die wonderlike musiekervarings van my kleintyd en ek dink die storie van my ouma met bloedwors kan gerus inspirasiekos raak.

Het jy al ooit mense ontmoet wat geen belangstelling in kook of kos het nie?

Ek moes seker, maar my eie entoesiasme sou hulle oorrompel het. Ek kan nogal bekkig wees – veral soms.

Na watter produksies wil jy graag vanjaar op die KKNK gaan kyk en hoekom het jy spesifiek hierdie produksies gekies?

Ek wil graag na Amanda Strydom gaan luister. In die vooraf van my boek verwys ek na haar en Laurika Rauch. Twee bronne van inspirasie. Sandra Prinsloo was ’n gereelde gas by my bure oorkant die straat en ons kon tydig en ontydig met mekaar ’n geselsie aanknoop. Ek dink dat wanneer mens ’n aanknopingspunt met kunstenaars het, is jy ook fyner ingestel op dit wat hulle doen. Daarom durf ek nie die liewe Veldsman misloop nie! [Prinsloo doen die regie van Koöperasiestories waarna hier verwys word.]

Brendon Daniels

Brendon Daniels

Jy is vanjaar te sien in die produksie Liewer. Kan jy in twee sinne opsom hoekom gehore daarna moet gaan kyk?

Die temas wat aangeraak word in Liewer is verhoudings, identiteit en “hedendaagse kommunikasie en interaksie”. As ’n geselskap probeer ons die stuk aanbied op ’n interaktiewe manier waar ons die gehoor vra om betrokke te raak in die kommunikasie daarvan.

Jy was voorheen in Rooiland met die teks van Tertius Kapp en regie van Jaco Bouwer. Gaan hierdie stuk ook so uitdagend wees?

Nee. Die uitdaging lê op ’n heel ander vlak. Ek kry so half die gevoel die gehoorlid sal in beheer wees, waar Rooiland die gehoor nie ’n kat se kans gegun het nie.

Waarna wil jy graag op die KKNK gaan kyk en hoekom het jy dié produksies gekies?

Dop en Asem is sover op my lys. Ek het lanklaas ’n Marthinus Basson-produksie gesien, en wil graag vir Wilhelm [van der Walt] sien in Dop.

Meer oor:  Kknk  |  Rsg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.