Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
KKNK
‘Liewer’ en ‘Asem’ elk vir ses Kannas benoem

Debuutproduksies het vanjaar die voortou geneem met benoemings vir die KKNK se Kannas vir 2017.

Tarryn Wyngaard in Liewer.Foto: Nardus Engelbrecht

Reza de Wet se Asem en Tertius Kapp se Liewer is elk ses keer benoem. Liewer is ’n aanspraakmaker in die kategorieë beste teateraanbieding, debuutwerk, nuutgeskrewe teks (Kapp) en regie (Jaco Bouwer). Anna-Mart van der Merwe en Tarryn Wyngaard is ook onderskeidelik benoem as beste aktrise vir hul spel in Liewer.

Asem is benoem vir beste teateraanbieding, debuutwerk en regie (Marthinus Basson), met Antoinette Kellermann as beste aktrise en Edwin van der Walt en Tinarie van Wyk Loots onderskeidelik as beste manlike en vroulike byspeler.

Kort op hul hakke is skrywerregisseur Neil Coppen se Buite land en Retief Scholtz se Dop, wat elk in vyf kategorieë benoem is. Buiten vir beste teateraanbieding en debuutwerk kom Buite land ook in aanmerking vir nuutgeskrewe teks (Coppen) en beste manlike en vroulike byspeler (onderskeidelik Kopano Maroga en Elize Cawood). Dop is benoem vir beste teateraanbieding, nuutgeskrewe teks (Scholtz), regie (Sylvaine Strike), akteur (André Odendaal) en manlike byspeler (Wilhelm van der Walt).

Dawid Minnaar in Die koninkryk van die diere.Foto: Jaco Marais

Twee debuutkomedies, die vertaalde Die koninkryk van die diere en Klara Maas se hart is gebreek, ensomeer: Die vloeistof-trilogie, het vier benoemings elk, insluitend beste debuutwerk. (Wessel Pretorius se “kort” Klara Maas het verlede jaar as Uitkampteaterstuk ’n Kanna as debuutwerk gewen.) Basson het met Die koninkryk van die diere sy slag as komedieregisseur gewys, terwyl Dawid Minnaar en Joanie Combrink vir hul onderskeie rolle as die maraboe en die muskeljaatkat as manlike en vroulike byspeler benoem is. Klara Maas het ook vir Pretorius ’n benoeming vir beste nuutgeskrewe teks én akteur en vir David Viviers as beste manlike byspeler in die sak gebring.

Minnaar en Pretorius het ook benoemings vir beste akteur ontvang in onderskeidelik Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran en Die ontelbare 48. Gideon Lombard ding ook mee in dié kategorie vir sy spel in die debuutproduksie Die reuk van appels.

Pa maak vir my ’n vlieër pa en Piekniek by Mpande, née Dingaan het elk een benoeming ontvang in die kategorie vir beste vroulike byspeler vir onderskeidelik Sandra Prinsloo en Nicole Holm.

Drie nuwe Kanna-pryse is vanjaar ingestel: vir die beste kinderteateraanbieding, beste Uitkampteateraanbieding en beste nuutgeskrewe teks.

Elize Cawood, Jacques Bessenger (voor), Marvin-Lee Beukes en Kopano Maroga in Buite land.

’n Kanna vir die beste nuutgeskrewe teks word ingestel as gevolg van die opwindende aanbod van nuwe, oorspronklike tekste by vanjaar se fees. Die benoemdes is Buite land (Coppen), Dop (Scholtz), Klara Maas (Pretorius) en Liewer (Kapp).

Die wenners van die Kannas word op Maandag, 15 Mei by ’n spesiale geleentheid in Kaapstad aangekondig.

Die volledige lys van benoemdes is:

* Beste teateraanbieding: Asem, Buite land, Dop, Karoo Moose en Liewer

* Beste akteur: Gideon Lombard (Die reuk van appels), Dawid Minnaar (Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran), André Odendaal (Dop) en Wessel Pretorius (Die ontelbare 48 én Klara Maas se hart is gebreek, ensomeer: Die vloeistof-trilogie)

* Beste aktrise: Antoinette Kellermann (Asem), Chuma Sopotela (Karoo Moose), Anna-Mart van der Merwe (Liewer) en Tarryn Wyngaard (Liewer)

* Beste manlike byspeler: Dawid Minnaar (Die koninkryk van die diere), Kopano Maroga (Buite land), Edwin van der Walt (Asem), Wilhelm van der Walt (Dop) en David Viviers (Klara Maas se hart is gebreek, ensomeer: Die vloeistof-trilogie)

* Beste vroulike byspeler: Elize Cawood (Buite land), Joanie Combrink (Die koninkryk van die diere), Nicole Holm (Piekniek by Mpande, née Dingaan), Sandra Prinsloo (Pa maak vir my ’n vlieër pa) en Tinarie van Wyk Loots (Asem)

* Beste musiekproduksie:Grethe van der Merwe – Allegorie, Loki Rothman en Albert Frost – Die akoestiese kitaar, Rymklets van Oos tot Wes en Zolani Mahola – Rok en rol

* Beste regie: Marthinus Basson (Asem én Die koninkryk van die diere), Jaco Bouwer (Liewer), Lara Foot (Karoo Moose) en Sylvaine Strike (Dop)

* Beste debuutwerk: Asem, Buite land, Die koninkryk van die diere, Klara Maas se hart is gebreek, ensomeer: Die vloeistof-trilogie en Liewer

* Beste opkomende kunstenaar: Igna Botha (Sandra se laaste show: teks en spel), Jason Jacobs (Kalahari Swaan: regie, teks en ontwerp), Des-Lee McKenzie (Ir(ras)sioneel: teks en spel), Buhle Ngaba (The Swan Song: teks en spel) en Tarryn Wyngaard (Liewer: spel)

* Beste visuele kuns:Broeigrond: Fertile Ground for Golden Regrets (Ronél de Jager), Filmverse 2 (artistieke regisseur: Diek Grobler) en The Dirty Penny Paradigm (kurator: Lucia Boer)

* Beste nuutgeskrewe teks: Neil Coppen (Buite land), Tertius Kapp (Liewer), Wessel Pretorius (Klara Maas se hart is gebreek, ensomeer: Die vloeistof-trilogie) en Retief Scholtz (Dop)

* Beste Uitkampteateraanbieding: I r(ras)ioneel, Sandra se laaste show en The Swan Song

* Beste kinderteateraanbieding: Cindershoeler, In die woud en Kattekwaad

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.