Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
KKNK
‘Maas laag en gemeen oor kritiek op musiek op KKNK’
’n Plakkaat in Oudtshoorn ná Deon Maas se rubriek Woensdag in Krit, die KKNK-feeskoerant. Foto: Simon Sonnekus

Carien Loubser van Brainwave Productions, wat Karen Zoid se optrede met die Gereformeerde Blues Band vervaardig het, het Donderdag die skrywer Deon Maas ’n “ou gifappel” op Facebook genoem.

“Deon Maas jy is soos ’n klein stoute seuntjie met niks maatjies nie. Wanneer het dit aanvaarbaar geword om kunstenaars in die media te beswadder in ’n poging om jou opinie te lug oor ’n feesprogram of wat ookal? En hoekom word dit toegelaat??? (sic) Jy dink jy’s cool, uitgesproke en cutting edge, maar jy is eintlik net laag en gemeen.

“Het jy ’n punt beet oor die jong stemme of die musiekprogram oor die algemeen? Dis irrelevant, want jy breek af i.p.v. op. Jy gaan nie jou issues met die feeste oplos deur laag en gemeen te wees met die actual kunstenaars wat wél daar is (nie), ou gifappel.”

Dit kom nadat Maas Woensdag in Krit, die KKNK-feeskoerant, in ’n rubriek teen onder meer die feesorganiseerders uitgevaar het.

“WAAR IS DIE NUWE TALENT? (sic)

Maas sê feesorganiseerders kies die musiekprogram as ’n “nagedagte”.

“Jy kry die ou stormtroepe, die staatmakers wat jaar ná jaar teruggenooi word. Musikaal is daar geen skepping van nuwe sterre nie. Daar is geen eksperimentering nie.”

Maas het die feesorganiseerders gekap wat jaarliks vir Zoid nooi.

“Daar is natuurlik niks fout met Karen Zoid of haar musiek nie. ’n Mens moet net wonder hoekom sy jaar ná jaar ná jaar altyd op die KKNK is. Ek skat dis beter as om dit met Laurika Rauch te doen, maar dis nog steeds nie okay nie.”

Maas sê musiekliefhebbers moet ook soos teatergangers en ondersteuners van skone kunste uitgedaag word.

“Die idee van ’n kunstefees is om te dien as basis vir die skepping van nuwe kuns en om mense voor te stel aan nuwe idees wat hulle dan huis toe vat na die vier uithoeke van die aarde om die boodskap van vernuwing te verkondig.

Verskeie genres word verteenwoordig op die fees. Daar is produksies wat die gehore van hou en daar is produksies wat mense uitdaag, maar die fokus moet in geheel op die hele musiekbedryf wees.
Hugo Theart, kreatiewe hoof van die KKNK

“Die KKNK doen dit met teater en skone kunste, maar nie met musiek nie. Die musiek wat ek hier hoor, kan ek in enige kroeg of klub hoor deur die res van die land 52 weke per jaar.”

Hugo Theart, kreatiewe hoof van die KKNK, sê hy glo kritiek is goed, maar persoonlike menings breek af en dra nie by tot die groter gesprek nie.

“Die gesprek is groter as ’n paar individue en feeste. Musikante, feeste, platemaatskappye en agente moet betrek word. Nietemin sal Kunste Onbeperk, organiseerders van die KKNK, op 15 Mei ’n gesprek lei met belanghebbendes in die bedryf oor die stand van die kunste.”

Theart sê hy glo die musiekprogram op vanjaar se fees is gebalanseerd.

“Verskeie genres word verteenwoordig op die fees. Daar is produksies wat die gehore van hou en daar is produksies wat mense uitdaag, maar die fokus moet in geheel op die hele musiekbedryf wees.”

Die huidige mafia wat ons kunste beheer moet tot ’n val gebring word voordat hulle slaag in hul doel om ons almal in kuns-zombies te verander.
Deon Maas

Riku Lätti, sanger en “sameroeper” van die kykNET-reeks Die Wasgoedlyn, het op Maas se Facebook-plasing gesê:

“Daar word met musiek gemors, en baie van wat gehoor word is gemors, en musikante wat nie uit die uitverkore groep bestaan nie kom dikwels op straat tussen al die klanke en voel, met regte, f*k ons moet hier wegkom. Lyk my tien jaar later het die bestes doodeenvoudig besluit om weg te bly.”

Maas sê hy het ná sy artikel ondersteuning uit alle oorde gekry.

“Ek staan vas daarby en die ondersteuning wat ek kry van industrie-leiers, kunstefeeste-voorsitters, bekende en onbekende musikante en ’n litanie van ander mense wat lief is vir die kunste, wys dat ek nie die enigste persoon is wat so voel nie. Die huidige mafia wat ons kunste beheer moet tot ’n val gebring word voordat hulle slaag in hul doel om ons almal in kuns-zombies te verander.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.