Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
KKNK
‘Melk & vleis’ boor vele eietydse vraagstukke raak

In die drama Melk & Vleis van die jong dramaturg Marina Albertyn op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) word ’n oertragedie voltrek.

Die toneelstuk het met reg verlede jaar op die Aardklopfees vyf van die sewe pryse ingehark.

Albertyn raak hier vele eietydse vraagstukke aan rondom gender, die huwelik, ouerskap, ’n vrou se finale sêreg oor haar eie liggaam, geloof, waardes en die volslae uitgelewerdheid van kinders wanneer volwassenes die pad byster raak.

Sy skryf met insig en ’n ware sin vir drama. Lanklaas, dalk laas met Reza de Wet se dramas, verlaat ’n mens die teater só omgekrap en ontstig. Melk & vleis is dalk lewensmiddele in die samelewing.

Illse Roos en Neels van Jaarsveld in ’n toneel uit die drama Melk & Vleis. Foto: Retha Ferguson

Dit handel oor ’n suksesvolle beroepsvrou wat haar werk, stadslewe en sterwende pa afsweer nadat sy met ’n veel jonger man, ’n boer, trou. Sy vestig haar op sy Oos-Kaapse plaas, probeer aanpas by ’n kleindorpse bestaan, en danksy haar belegging en sakebestuur bedryf hulle ’n suksesvolle melkery.

Ses jaar ná die geboorte van hul eerste kind, ’n seun, begin dinge skeeftrek. Weens haar ouderdom is hul eerste kind danksy vrugbaarheidsbehandeling gebore en nou vra haar man ’n tweede kind.

Die akteurs Illse Roos en Neels van Jaarsveld is uiters behendig in die uitspeel van die verwikkelde verhoudingsproblematiek in ’n huwelik. Dit is veel meer as ’n geslagsoorlog, want Albertyn boor diep en skroom nie om ongemaklike sake na die lig te bring nie. Dit begin aanvanklik as ’n sensuele tweepas – die twee koer en speel soos jong verliefdes ná ’n huwelik van ses jaar – dan ontaard dit stadig maar seker in ’n bloeddorstige skermutseling. Die vrou raak al hoe meer uitgelewer en die man al hoe meer geregtig.

Hier gaan slagoffers wees. ’n Mens weet net nie wie nie hoewel Albertyn ’n spekvet leidraad gee. Melk en vleis is lewensmiddele, maar dink ’n bietjie hoe dit op die tafel kom. Die dramaturg werk veelvlakkig sodat die boodskap nog verder uitkring.

Marthinus Basson se regie en ontwerp is trefseker tot by Van Jaarsveld se rugbysokkies wat tot die knieë opgetrek is. Hy skep ’n geloofwaardige plaaslewe met die subtiele verwysing na die huiswerkers wat deelneem en die daaglikse gesinslewe aanskou. Hul storie, ’n eie klein drama, verdiep die toneelstuk en gee ’n groter konteks. Die beeld ’n moderne plaashuis uit – als gebeur in die kombuis rondom ’n reusetafel waar kos berei en geëet word. Die spelers Nomkhita Bavuma en Sesethu Zamxaka is sterk en oortuigend in hul rolle.

Melk & Vleis is teater wat fondamente laat kraak, dit is sinoniem met Basson. ’n Mens sien uit na Albertyn se volgende.

*Van Jaarsveld het oorgeneem by die akteur Paul du Toit wat die rol voorheen vertolk het.

Meer oor:  Neels Van Jaarsveld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.