Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
KKNK
Ontmoet ’n paar spoke by vanjaar se KKNK


Waar is al die spoke heen?

Elektrisiteit het hulle verdryf of mense is vandag net te skaam om te erken dat hulle spoke sien, meen die skrywer, oudjoernalis en joga-instrukteur Johannes de Villiers.

Johannes de Villiers

Hy het as deel van navorsing vir die tydskrif Huisgenoot se 100ste verjaardag deur baie ou tydskrifte gewerk en agtergekom hoeveel verhale van spoke, monsters en gruwels in die vroeër jare hul pad na tydskrifte se blaaie gehaal het. Vandag is hulle in die minderheid.

Hy het die verhale bymekaar gesit en gehou met die idee om dalk ’n boek saam te stel. By vanjaar se KKNK gaan hy met agt van die stories mense die skrik op die lyf jaag.

Saam met die stories speel Visser Liebenberg gepaste spokerige musiek op die klarinet.

“Baie van die stories wat ek gevind het gaan nie noodwendig oor spoke nie, maar oor eienaardige en onverklaarbare verskynsels. Daar is byvoorbeeld een van ’n polisieman wat ’n lewendige dinosourus tussen Prieska en De Aar gesien het, ’n vrou wat in ’n koma was en lewend begrawe is, daar is ’n man wat hom so met Dracula vereenselwig het dat hy van die ou vampier se donker gewoontes begin volg het en oom Keyter wat die Engelse gehaat en toe met ’n Engelse spook op sy plaas te doen gekry het.”

Visser Liebenberg

Daar sal twee aanbiedings van Gruwels en gedaantes op die KKNK wees en verskillende stories word elke keer vertel.

“Ek gaan net die stories vertel. Daar gaan nie foefies gebruik word soos lakens of geraamtes wat uit die dak val nie. Die mag van die stories is so sterk dat hulle mense behoorlik gaan bang maak.”

Hy vertel dat hy net verhale vertel wat werklik gebeur het.

“Dis nie te sê iemand jok as hy vertel van ’n spook wat hy gesien het nie. Wat presies hulle gesien het, is ’n ander vraag.

De Villiers erken dat hy self baie lief vir ’n spookstorie is. Hy het reeds verskeie van hulle vertel in Agter die somber gordyn wat in 2011 gepubliseer is. Hy glo die nuwe versameling stories kan ook nog ’n boek word.

Nadat die boek destyds verskyn het, het baie mense vir hom van hul ondervindinge vertel.

“Mense praat graag as hulle sien hulle het die regte gehoor, iemand wat nie vir hulle sal lag nie. Ek het ook agtergekom dat spoke en onverklaarbare dinge oor die hele land voorkom, letterlik van die Kaap tot bo in die noorde.

“Daar is oral sogenaamde spookhuise en legendes en verhale. Volgens oorlewing het selfs Jan van Riebeeck ’n jeti op Tafelberg gesien. En wie kan koppies en pierings wat in kaste begin ratel, ontken?

Die plakkaat van die produksie Gruwels en gedaantes.

“Ek dink ons gaan mense ’n guns doen om hulle weer daarvan bewus te maak dat daar meer onverklaarbare dinge in die wêreld is as waarvan hulle bewus is.”

*Gruwels en gedaantes word eksklusief vir die KKNK op die planke gebring en maak sy debuut hier. Dit word van 22 tot 24 Maart saams om 18:00 in die lokaal Gister (St Jude-kerksaal in Baron van Rheedestraat) aangebied.

Bespreek by Computicket.

Meer oor:  Kknk2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.