Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
KKNK
SA mans oor geslagte heen in visier op KKNK

Die plek wat mans van alle generasies in Suid-Afrika inneem kom in vele stukke op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) aangrypend in die visier.

Retief Scholtz

Dop van die jong dramaturg Retief Scholtz speel in een aand in ’n kroeg af. Die werklose Frank Venter strompel in met net ’n palmboompie en wat lyk na ’n amptelike koevert. Ons sal later weet wat daarin is. Op 57 is hy bykans alles in sy lewe kwyt. Hy herinner aan die ander drommel uit ons ryk teaterskat, Elvis du Pisanie, geskep deur Paul Slabolepszy.

’n Lewensverhaal in Suid-Afrika van gister en nou ontvou. Die verhaal word sonder skroom vertel – dit voel aanvanklik na ’n aanslag – party mense loop uit. Dalk het hulle gedink Dop is lekker, man, lekker. Hier is nie blinde, benoude nostalgie nie. Daarvan is daar ’n oormaat op die fees. Dit is ’n diep, veelkantige ervaring van menswees. Die twee mans tree waarlik sonder voorbehoude in gesprek, daag mekaar uit, luister na mekaar en vertroos mekaar. Dit is nie Mighty Men nie, albei karakters se wonderlike ironie pootjie enige geveinsde gevoelens. Sylvaine Strike, die regisseur, skep iets broos en mooi uit ’n middeljarige man met ’n boepmaag wat in sy onderklere gimnastiek doen en ’n jong man wat sy oorlede ouma se laaste brief voorlees.

André Odendaal se Frank kan maklik ’n bespotting raak. Odendaal maak dat jy omgee vir Frank, hy word ’n mens met ’n storie.

Wilhelm van der Walt se Tim is eweneens ’n belewenis. As hy die woorde vind om met sy geliefde te praat word hy dié karakter wat hoop gee vir ’n nuwe geslag mans.

Neil Coppen Foto: Sean Laurenz

’n Jong Afrikaanse predikantseun en ’n Zoeloesprekende choreograaf se kortstondige “verhouding” belig in Buite Land seksualiteit en die prys wat betaal word vir die ontkenning daarvan. Die regisseur en skrywer Neil Coppen plaas dit teen ’n wyer agtergrond van geloof en kulturele praktyk binne die behoudende Afrikaans – en Zoeloesprekende – wêreld. ’n Legio temas is verweef in die teks waar onder meer ook identiteit, wetenskap, die natuur, verlies en emigrasie ondersoek word. Alles waaier uit rondom die twee mans wat mekaar vind, maar eintlik hoor ons hier ’n kantate oor verlies aan wat ook ons eie as landsburgers is. Ons besef dit eers aan die einde as Coppen die lyne finaal verweef en ons onverhoeds betrap. Dit speel af in Afrikaans, Zoeloe en Engels.

In die eenmansstuk Die Reuk van Appels, gegrond op Mark Behr se seminale roman van die 1990’s, word die apartheidsjare in Suid-Afrika in herinnering geroep. Die verdrukking vervat in ’n drakoniese bestel spoel ook oor na die huisgesin waar Marnus se kolonel-pa die septer swaai. Daar is streng riglyne vir manwees waarby Marnus onbewustelik inval as sy pa se bulletjie. Tekenend is die aangrypende visvangvoorval waar sy pa hom uittrap omdat hy nie sy man kon staan voor ander mans wat toekyk nie. Die gehoor volg die elfjarige Marnus (Gideon Lombard) as jong skoolseun en sy onskuldige avonture saam met sy beste maat Frikkie tot met sy tyd as troep aan die grens. Lombard handhaaf al die karakters uitstekend. Die regisseur Lara Bye se aanvoeling en die teksverwerker Johann Smith se snitte aan die roman sorg vir ’n deurgangsrite wat die teaterganger lei van onskuld tot verskrikking.

* Die KKNK duur tot 15 April.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.