Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
KKNK
Stories uit Klein-Karoo kry lewe op eerste teksmark
Marlo Minnaar in ‘Die halwe huis’ deur Ricardo Arendse. Foto: Hans van der Veen

Stories is so oud soos die mens en ’n lewe sonder stories is waarskynlik byna onmoontlik. Stories is ook die hoeksteen van alle kunsvorme. Of dit ’n skildery, ’n beeldhouwerk, tradisionele dans, balletuitvoering of ’n verhoogstuk is, elkeen vertel ’n storie.

En op 29 Mei, met die eerste Teksmark-Oudtshoorn, was dit storietyd op die geboortedorp van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK). Sewe aspirant-dramaturge en plaaslike vertolkers van hul tekste het gesorg dat die burgersentrum weer, soos voor die aanbreek van die korona-pestilensie, ’n gehoor kon huisves wat met groot afwagting na die verhoog kyk, al was dit van agter maskers.

Teksmark, met die ondersteuning van die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi) en die Baxter-teatersentrum in Kaapstad, is in 2016 deur die KKNK begin en is ’n jaarlikse instelling waar nuwe produkte vir feesverhoë hul eerste asemteug gee. Dramaturge, akteurs en teater- en feesdirekteurs kom jaarliks in Kaapstad byeen om nuwe idees vir toneelstukke te identifiseer en te ontwikkel.

Tiffany Saterdaght en Janion Kennedy in ‘Fietsry vir dommies’ geskryf deur Saterdaght. Foto: Hans van der Veen

Met die KKNK se wortels in Oudtshoorn is daar besluit dat die Teksmark ook Klein-Karoo toe moet kom. Skrywers van die omgewing is reeds in April genooi na ’n slypskool onder leiding van die dramaturg Neil Coppen en die aktrise Ilse Oppelt.

Van dié deelnemers en aspirantskrywers uit die streek wat nie die sessies bygewoon het nie, het tekste voorgelê, waarvan sewe vir Teksmark-Oudtshoorn gekies is. Die voorleggings van Ludwig Siwe, Theo Witbooi, Jopie Coetzee, Tiffany Saterdaght, Hannes Visser, Veruschka Cobus en Leach van der Westhuizen het Saterdag vir bykans ses uur se toneelspel, voorlesings en interessante besprekings gesorg.

Die skrywers en vertolkers het leiding ontvang van Amelda Brand van die Universiteit Stellenbosch se dramadepartement en haar nagraadse studente Antoné Adlam, Ané Koegelenberg en Cole Wessels.

Ilse Oppelt (medeaanbieder saam met Hugo Theart), Marlo Minnaar, Lee-Ann van Rooi, Ricardo Arendse en Hugo Theart. Foto: Hans van der Veen

Benewens dat die geleentheid aan plaaslike skrywers ’n platform gegee het om hul skryftalent ten toon te stel, was dit ’n uitstekende geleentheid vir plaaslike amateur-akteurs om hul passie vir toneelspel uit te leef.

Die waarde van Teksmark is gestaaf uit die antwoord van Veruschka Cobus, een van die skrywers, toe Crispin Sonn, voorsitter van die direksie van Kunste Onbeperk, by haar wou weet wat eerste gekom het, Teksmark se geleentheid of haar storie.

“Ek het al lankal die storie, maar ek het nooit die platform gehad om dit te vertel nie. Nou het ek die platform gekry,” het sy geantwoord.

Vir diegene wat die dag bygewoon het, was dit duidelik dat haar antwoord deur bykans al die ander deelnemers geëggo is. Almal het stories en talente, maar die platform om dit vir mense te wys, ontbreek.

Die aand is afgerond met finale applous aan die skrywer Ricardo Arendse en die akteur Marlo Minnaar, albei boorlinge van Oudtshoorn. Minnaar het ’n toneel uit Arendse se verhoogstuk Die halwe huis vertolk. Arendse het dit in 2020 vir Teksmark voorgelê en dit is vir ontwikkeling gekeur. Met die KKNK wat nie vanjaar kon plaasvind nie, sal gehore die toneelstuk egter eers in 2022 kan sien. Die regie is deur Lee-Ann van Rooi. Voorleggings vir Teksmark in Kaapstad open in Junie en Saterdag se skrywers hou intussen asem op dat van hul tekste dalk daar ook voorgelê kan word.

Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK wat ook die Teksmark-Oudtshoorn behartig, beskryf die ervaring soos volg: “Dis dae soos dié wat ’n mens herinner aan die krag van die kunste. Hoe die kunste gesprek kan oopmaak en ’n verskil maak. Dit was roerend, eerlik, uitdagend en opwindend! Dankie aan elkeen van die brawe skrywers en aan al die deelnemers wat gehelp het om die stories te vertel.”

Hannes Visser is ’n skrywer en digter van die Klein-Karoo. Hy het ’n teks vir die mark voorgelê.

Meer oor:  Marlo Minnaar  |  Oudtshoorn  |  Teksmark  |  Kknk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.