Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
KKNK
Uitkampteater skep veel uit byna niks

Teater geskep uit bykans niks. Wat in twintig minute – partykeer selfs minder as dit – die kyker wegvoer. Dit is die wese van die Uitkampteater.

Dié geesteskind van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees is vanjaar twee jaar oud en is pas met die Fiësta Blou Stoel-prys vir innovering vereer.

Daar is sewe stukke wat al om die halfuur speel. Kaartjies kos R20 elk. Nie net verskaf dit goedkoop, gehaltevermaak vir feesgangers op ’n begroting nie, die belangrikste is dat dit ’n platform skep vir jong talent.

Vanjaar, soos verlede jaar, bied Nederlandse teaterlui ook twee stukke aan. Verlede jaar se uitskiet-aanbieding Klara Maas se hart is gebreek het vanjaar ’n volwaardige vertoning op die fees wat vol sale trek. Diegene wat voor die Burgersentrum tussen vertonings kuier, kan dié aanloklikheid in die tentedorp nie weerstaan nie.

Buhle Ngaba in ‘The Swan Song’.

Buhle Ngaba se The Swan Song is ’n haikoe oor liefde en verlies wat die kyker op ’n emosionele reis neem. Ngaba is ’n besonder bedrewe storieverteller wat met woorde en haar lyf ’n leefwêreld kan skets wat jy met gemak voor jou geestesoog sien. Sy gebruik die swaan as metafoor. Swane is monogame wesens wat as hulle sterf, sing – Ngaba se verhaal is dié van ’n meisie wat met spier-atrofie gebore is. Die uitwerking daarvan is dat haar skouerblaaie “vlerkies” maak – vandaar die swaanmetafoor. Wanneer sy, uit ’n arm gemeenskap, die groot stap na ’n universiteit in die stad neem, sukkel sy om aan te pas totdat sy vir Oliver ontmoet. Ngaba het die teks geskryf. Sy het danksy die Brett Goldin-beurs ’n skryfprogram aan die Royal Shakespeare Company in Engeland voltooi. Die hoop is om nog baie van dié jong aktrise en dramaturg te sien en te hoor.

Des-Lee McKenzie in ‘Irrasioneel’.

Nog ’n jong teaterskepper van wie ’n mens gewis kennis kan neem, is Des-Lee McKenzie – sy is ’n skokstok vir ons apatie. Haar stuk Irrasioneel kan aangroei tot ’n volwaardige satire wat ook landwyd kan speel. Sy steek die draak met ons eietydse Suid-Afrikaanse samelewing, lewer vreesloos kommentaar oor ras in ’n skitterskets waar sy haar bruin vel met van Omo tot Jik probeer witter was. Jy skater, maar skuif dan ongemaklik rond – tekenend van iemand wat met senupunte kán werk. Haar vlymskerp, ingeligte sketse eindig met ’n oproep aan ons almal om tog iets te doen, om terug te ploeg as jy in ’n beter Suid-Afrika wil leef.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.